Logo

Toanette en Nardus – Boer Soek ’n Vrou 11

Nuus
20 Desember 2018
Toanette het haar hart op ’n beesboer verloor.
BSV-Toanette-Nardus

Nardus is Toanette se nommereen. FOTO: Vanuit ’n episode van Boer Soek ’n Vrou 11

 

Toanette is een van seisoen elf se jongste boere, maar dié vroueboer het dit van dag een af duidelik gemaak sy weet wat sy in ’n maat soek: Iemand wat gelukkig in homself is; ’n man met drome, wat werk om dit te laat waar word.

Sy is ’n ambisieuse, eerlike mens wat hou van lag, maar ’n ander, ernstige kant van haar het na vore begin kom soos wat die proses gevorder het. Dalk is dít wat haar na Nardus aangetrek het: Sy innemende glimlag en grappe, maar ook die vermoë om oop en eerlik oor sake van die hart te gesels.

“Hy is ’n regte nar,” het Toanette oor Nardus gesê, maar die beesboer het haar aangenaam verras. “Hy het ’n ernstige kant aan hom óók – ’n báie ernstige kant.”

Nardus het teenoor Toanette oopgemaak en erken “die gevoelens het nader gekruip”.

Hy het boonop vandat hy by Toanette in háár omgewing aangesluit het gelyk of hy heel gemaklik by haar wêreld sal inpas. Dit help natuurlik ook dat haar gesin gaande is oor hom! “My ma-hulle en almal is mal oor hom,” het sy gesê. “Hy hoef dit nie eintlik te weet nie!”

Dink Leah dit kan werk tussen Toanette en Nardus? Lees hier.

“Daar is definitief ’n spark,” het Toanette vir Leah gesê. Sy is wel nie van plan om oorhaastig te wees en in ’n verhouding te spring nie: Sy is iemand wat dinge goed deurdink. “Ek hou rêrig baie van hom. Hy is baie oulik en, ja, ek is baie opgewonde om hom te leer ken.”

Nardus meen dit was ietwat frustrerend om nie die “jagter” te kon wees nie. “Nóú kan ’n mens relax en mekaar rêrig beter leer ken,” het hy gesê.

Toanette se mense kom goed met Nardus oor die weg, maar wat gaan sy naastes van háár dink? Skakel Donderdag om 20:00 in om uit te vind!