Logo

Só hou Tracey Lange vakansie

Nuus
17 Januarie 2018
Ons gesels vakansie-etiket en meer met Bravo! en HeartFM se Tracey Lange.
Tracey Lange

Ons almal waardeer ’n goeie wegbreek elke nou en dan, maar wat as jy ’n lang tydperk saam met iemand moet spandeer wat jy nie baie goed ken nie?

In vandeesweek se episode van Boer Soek ’n Vrou gaan ons boere en hul pasmaats met vakansie, en elke paartjie kry ’n kans om mekaar beter te leer ken by ’n spesiale bestemming.

In haar professionele kapasiteit, woon Bravo!- en HeartFM-aanbieder, Tracey Lange glansgeleenthede reg oor die land by, en in haar persoonlike hoedanigheid reis sy die wêreld plat.

Ons het by dié gewilde televisie- en radiopersoonlikheid ingeloer om uit te vind wat die moet’s en moenie’s vir ’n heerlike wegbreek is.

Wat pak jy in jou tas wanneer jy voorberei vir ’n vakansie?
Ek kyk eerstens na die weer – dis die lekkerste deel van tegnologie! En dan begin ek by alles wat ek in die badkamer nodig het, van wakker word totdat ek gaan slaap. Dit sluit in my foon se laaier en die res, áltyd ’n paar jeans sowel as ’n baadjie

En natuurlik ook ’n groot serp, wat ek as ’n gewone serp kan dra, of as ’n pasjmina, of selfs in twee style van ’n bloes kan vou. Op dié manier het ek ten minste vier ekstra items, met net één serp!

Dan ook gemaklike skoene, en ’n paar hoëhakskoene nét vir ingeval

Waarmee kan jy nie sonder nie op vakansie?
Planne! Ek hou daarvan om vir ten minste elke tweede dag lekker planne te hê, want anders val ’n mens net rond, of sien nie soveel soos wat ’n mens kan nie. My kop hardloop konstant, en die beste manier om ontslae te raak van werkdinge in my kop, is om dit met ander lekker dinge te vervang.

Wat laat jou herinner aan vakansietyd, en hoekom?
Elke lui Saterdagoggend by die huis laat my dink aan Desember-vakansie by my ouers, want dit was altyd so rustig en g’n gejaag om gereed te maak vir skool nie. Die rustige oggende het ook altyd aangedui dat ons jaarlikse vakansies in Mosselbaai, George of Knysna amper byderhand is.

Wat is jou top-5 gunsteling vakansiebestemming?
Die Tuinroete is altyd ’n gunsteling as gevolg van ons familievakansies.

Ek is ook mal oor ’n staycation. Omdat ek so baie weg van die huis is, is dit ’n plesier om op die balkon te sit met ’n boek, en net die Kaapse lug en atmosfeer in te asem. Ek sal alles voorberei soos wat ek sou vir ’n vakansie, want daar is so baie wat in die Kaap (middestad, Seepunt, ensovoorts) aan die gang is.

Praag, met die lieflike Kersmarkte, is ’n uiterste, uiterste gunsteling! Dis so ’n romantiese stad, selfs nog meer as Parys en Venesië.

Switserland in Desember is net ’n sprokieswêreld – ek sou dit vir enigiemand aanraai!

Plaaslik of internasionaal, waarheen sal jy nog eendag heen wil toer en hoekom?
Namakwaland vir die blomme – ek het dit nog nooit gesien nie!

New York vir die White Christmas

Ek wil ook die Aurora Borealis gaan sien én die middernagson ondervind.

Dan natuurlik Hong Kong met al daardie hoë geboue en die malligheid wat daarmee gepaard gaan.

Watter vakansie-etiket het jy vir ons kykers?
Dis ’n vakansie, almal wil graag ’n goeie tyd hê, so moenie die tyd vir ander ondraaglik maak nie. Respekteer die plek en land se kultuur.

Leer ’n paar woorde in die moedertaal van die land – dit toon respek, en die plaaslike mense sal dan enigiets probeer om te help.

Moenie jou naels verf op ’n vliegtuig nie!

Wat is jou gunsteling lugredery en hoekom?
Ek het nog altyd fantastiese diens gekry van British Airways – altyd vriendelik en niks is ooit te veel moeite nie.

Watter treffers is op jou iPod of foon vir jou vakansie?
Ek is só ’n nerd. Ek verkies net ’n goeie boek (of vyf) vir my vakansie. Omdat ek op die radio is en heeltyd musiek hoor, verkies ek net stilte op my vakansies.

Volg Tracey en haar kêrel, Avukile Mabombo, se mannewales op hul avonture reg rondom die wêreld op hul vakansie-blog, Travul Diary. Onthou ook om Donderdae om 20:00 voor die kassie in te skuif vir Boer Soek ’n Vrou. Volg ons op FacebookTwitter en Instagram, en gesels saam by #GroterBeterBoer en #BoerSoeknVrou.