Logo

Rolanda Marais: ‘Onverwagse juweel-oomblikke’

Nuus
16 Januarie 2018
Rolanda gee raad aan die Boer Soek ’n Vrou-deelnemers wat eersdaags die liefde en lewe weg van die kameras gaan aanpak.
BSV_Rolanda Marais

FOTO:  talented mister will

Rolanda Marais het geen bekendstelling nodig nie. Haar karakters wissel van die komplekse Lise in Johnny is nie dood nie tot die superfeeks Stefanie in Binnelanders. Sy is wrintiewaar gemaklik in enige rol wat na haar kant toe kom. Selfs in die ‘regte lewe’ laat sy ma-wees en vrouwees soos ’n goed gekoördineerde Broadway-vertoning lyk. Sy het tyd ingeruim om raad te gee aan die Boer Soek ’n Vrou-deelnemers wat eersdaags die liefde en lewe weg van die kameras gaan aanpak.

Volgens Rolanda is enige plek langs die Weskus ’n goeie wegbreekplek vir ’n “eerste vakansie alleen”. “Winter of somer. Dit het ’n sjarme wat ’n mens nie kan beskryf nie.” Sy meen dat enige plek romanties is, solank jy saam met jou geliefde is en ’n (bottel) sjampanje byderhand het. “Ek is absoluut mal oor Spanje, Barcelona, dit het die mooiste argitektuur en die somers daar is soel en sensueel.”


Rolanda is heel duidelik dol oor reis. Hier kerjakker sy in Istanbul tydens haar wittebrood. 

Alles goed en wel, maar hoe gemaak as die vakansie verby is en ’n mens moet jou plek in ’n nuwe familie vind? Rolanda antwoord ferm. “’n Toe bek is ’n heel bek. Ek glo dis maar altyd beter om die vrede te probeer bewaar, veral as jy te doen kry met familielede wat sienings het waarmee jy nie saamstem nie.”

Ma-wees akkordeer heel duidelik met haar sisteem en oor dié ervaring kan sy nie uitgepraat raak nie. “Moenie enige vooropgestelde idees hê oor hoe dit gaan of moet wees nie. Dit is ’n unieke ervaring en elke kind is anders. Speel soveel as moontlik met jou kind, hoe klein hul ookal is. Dit is magical as mens deel raak van hul verbeeldingswêreld. Ouerskap is ’n geweldige uitdaging met die mees onverwagse juweel-oomblikke.”

Ma en dogter deel ’n ligte oomblik. 

Tog erken sy dat ’n werkende ma met moeite fiks en fiets bly. “’n Mens moet letterlik oefening in jou dagboek sit, asof dit ’n belangrike afspraak of vergadering is, anders kom ’n mens net nooit daarby uit nie.”

Nes oefening ’n uitdaging is, is die verandering wat ’n baba in ’n verhouding teweegbring ook daar. “Skielik verplaas al jou fokus na die baba, dit is uiters belangrik om aan te hou fokus op jul verhouding en om tyd alleen saam te spandeer. So date night is altyd ’n goeie idee.”


’n Gesinselfie.

Dieselfde balans geld vir ouerskap en werk. “Fokus op die oomblik waarin jy jouself bevind. As jy werk, doen dit met oorgawe, en as jy by jou kind is, vergeet van werk en gee jou kind jou volle aandag. Kwaliteittyd met jou kind is belangriker en meer waardevol as kwantiteit. En moenie te hard wees op jouself nie, weet dat jy die beste doen vir jou kind en dat dit goed genoeg is.”

Boer Soek ’n Vrou is elke Donderdag om 20:00 op die kassie. Volg ons op FacebookTwitter en Instagram, en gesels saam by #GroterBeterBoer en #BoerSoeknVrou.