Logo

Nadia Beukes: Nog nie klaar met aanbieding

Nuus
01 November 2017
Ons het by Nadia Beukes, aanbieder van Boer Soek ’n Vrou seisoen agt en nege, ingeloer om uit te vind waar sy haarself bevind.

Foto deur Belinda Burger

Vir amper langer as ’n jaar is sy getroud met die man van haar drome, en deesdae bekend as Iva, Getroud met Rugby se sportsielkundige. Nou, met ’n boek, Paaie van Hoop, op die rakke, waarmee sy inspirasieverhale deel, raak dit al meer duidelik dat Nadia Beukes terugstaan vir niks nie.

As Boer Soek ’n Vrou-aanbieder het Nadia diep in kykers se harte ingekruip met haar oop hart en gesindheid teenoor die boere. Maar hoe ervaar dié pragtige kykNET-liefling die sprong van TV-aanbieder na aktrise?

Hoewel dit aanvanklik ’n aanpassing vir haar was, sê Nadia dat sy elke dag meer en meer besef hoe waardevol Iva se stories is, en hoe dit kykers se harte raak.

Sy beskryf haar karakter in Getroud met Rugby as ’n deernisvolle vrou met ’n pratige hart. “Dit is ’n rol waarvoor ek baie lief geraak het.

KYK: NADIA BEUKES GESELS OOR HAAR ROL AS IVA IN GETROUD MET RUGBY

“As aanbieder het ek nie juis ’n rol vertolk nie,” vertel sy. “Ek kon bloot net myself wees.”

Sy verduidelik: “Ons werk met regte mense, en ek het die geleentheid gehad om tydens Boer Soek ’n Vrou met die hulp van ’n ongelooflike span agter die skerms by die deelnemers se harte uit te kom, sowel as die realiteit van die program.

“Ek was absoluut mal daaroor om Boer Soek ’n Vrou aan te bied,” sê sy. “Dit was en sal áltyd ’n hoogtepunt in my loopbaan en lewe bly.

“Om die boere en dames te ondersteun in hul soeke na liefde, terwyl ons ons pragtige land verken, is ’n voorreg en ’n avontuur waarvoor ek altyd sal dankbaar bly.”

“Ek het my hart en siel in die produksie ingestort.”

Natuurlik het haar lewe geweldig baie verander sedert haar rol as aanbieder. Ek het myself soveel beter leer ken op die plaaspad,” vertel sy. Na afloop van die agste seisoen het sy op die stel van die musiekblyspel Liefling vir David de Villiers ontmoet, en aan die einde van seisoen nege hom aan kykers voorgestel. Twee jaar nadat sy en David ontmoet het, het hulle saam voor die kansel gestaan.

“Ek glo in ware liefde, maar ek dink ook dit is grootindeels ’n keuse om jou lewe op die ou einde met iemand te deel, en ek dink dit kan enige plek afspeel. Selfs op die kassie. Kyk net na boer Johan, boer Gerrie en boer Lize – om maar net ’n paar te noem!”

LEES OOK: ANGELIQUE GERBER OOR WARE BOERELIEFDE

Nadia verduidelik dat tydsverloop tydens ’n seisoen van Boer Soek ’n Vrou ’n belangrike aspek is om in ag te neem. “Die program speel op die kassie af oor ’n tydperk van 13 weke; een episode ’n week, dus, die hele proses in ongeveer 13 ure.

“Ek verstaan dat kykers voel als gebeur vinnig – dalk soms té vinnig in terme van verlief raak en in ’n verhouding wil wees. Maar in werklikheid hardloop die produksie vir omtrent ’n jaar.

“Ek kon nooit verstaan hoe die dames so vinnig verlief raak nie, maar selfs ek het in ’n kwessie van ’n jaar my man ontmoet, en nie net verlief geraak nie, maar sommer ook verloof geraak...”

KYK: NADIA BEUKES TROU!

Tydens haar aanbieding van Boer Soek ’n Vrou vertel Nadia dat sy 'n waardevolle les geleer het – dat almal wat deelneem wel iets sál vind. “Dit mag dalk nie liefde wees nie, maar ’n mens kan nie onveranderd deur die proses gaan nie. Jy leer jouself ken. Dalk kry jy nie waarvoor jy gesoek het nie, maar dalk besef jy daardeur dat jy nog heeltyd na die verkeerde goed soek.

“Die program se bedoeling is nie om mense in verhoudings in te forseer nie,” sê sy. “As dit uitwerk dat daar ’n verhouding ontstaan, is dit natuurlik ’n vreugde. Maar die wonderlike ding vir my van die program is dat dit ’n veilige omgewing skep vir mense om eerlik met hulself en mekaar te wees, ongeag die resultaat.”


Foto deur Belinda Burger

Verder sê sy dat die vervaardiger, regisseur, die produksie-span agter die skerms, sowel as die aanbieder saam werk om die proses maklik en natuurlik te laat verloop vir beide die boer en die dames. “Ons is daar as ’n klankbord wat die voorreg het om byna soos ’n vlieg teen die muur te sien hoe verhoudings ontwikkel al dan nie, en die realiteit van dit alles met die kykers te deel.”

Dit blyk egter dat hoewel Nadia haar aanbieder-skoene vir nou uitgetrek het en in die rol van Iva ingetree het, sy nog lank nie klaar is nie. “Ek hoop ek kan in my loopbaan eendag weer as ’n aanbieder werk en ook ander rolle as aktrise vertolk, maar ek bly dankbaar vir als wat Boer Soek ’n Vrou my as aanbieder geleer het en die kans wat ek nou het om vir Iva by Getroud met Rugby lewe te gee terwyl ek as aktrise groei.”

LEES OOK: ELMA POSTMA – NOG LANK NIE KLAAR MET LIEFDE

’n Bietjie aanmoediging vir vanjaar se boere

“Wees eerlik met jouself en die dames. Moenie te veel druk op jouself plaas nie, en geniet die proses... Dit is ’n opwindende avontuur en mag heel moontlik jou lewe verander.”

Nadia gee vir vanjaar se dames raad

“Wees net jouself en vat elke deel van die proses soos dit kom. Dit is werklik opwindend, en wie weet wat die resultaat gaan wees? Luister na jou hart en vertrou dinge werk uit soos wat dit moet.”

Skakel Donderdag om 20:00 in vir nog ’n Boer Soek ’n Vrou-episode. Volg ons op Facebook, Twitter en Instagram, en gesels saam met die hutsmerk #GroterBeterBoer en #BoerSoeknVrou.