Logo

’n Diamant vir Boer Carl se duifie

Nuus
27 November 2018
Die liefde blom tussen Carl en sy ‘Danéllie’.
BSV Carl Danel

FOTO: Jan Koen Fotografie

 

“My en Danéllie se hele reis voel soos ’n sprokiesverhaal. Dit raak net beter,” koer Carl Möller oor sy liefling, Danél Saayman.

’n Mens kan nie anders as om die opgewondenheid in die skaap- en beesboer van Carnarvon, wat ons in seisoen 10 van die werklikheidsreeks ontmoet het, se stem op te merk nie. Hy het immers net ’n paar dae vantevore die Vredendalse onderwyseres, wat aan dié einste Boer Soek ’n Vrou-seisoen deelgeneem het, gevra om te trou.

Boer Carl, wat in sy vrye tyd ook met duiwe boer, was een van die vyf boere wat minder TV-lugtyd as die ander vyf gekry het. Sy pasmaat was nie tussen die briewe nie, maar op ’n dag het sy hokkie skielik oopgegaan en hy het reguit in Danél se arms gevlieg.

“My en Danél se storie is nie ’n aangeplakte besigheid nie. Als is opreg.”

“My en Danél se paadjies het op ’n snaakse manier gekruis,” sê hy. “Ek sê vandag nog gereeld vir Liewe Jesus dankie dat hy haar oor my pad gestuur het.

“Dis moeilik om die gevoel en geluk te beskryf. Ek weet nie watter woorde om te gebruik nie.”

Danél het vir Boer Jacques (’n boer wat Carl lank voor hulle aan Boer Soek ’n Vrou deelgeneem het leer ken het) geskryf. Sy was een van die drie wat Jacques na sy plaas genooi het en die tweede vrou wat hy huis toe gestuur het.

Carl het haar op TV raakgesien en aangetrokke gevoel tot haar, maar dit was eers toe hy haar leer ken het wat dit hom getref het: “Danél het dit alles! ‘Perfek’ bestaan nie, maar vir my is sy volmaak.”

Boer Hennie en Jacobu het óók op ’n ongewone manier liefde gevind! Lees meer hier.

’n Goeie vriendin van Carl het Danél toevallig ontmoet. “Hulle het dadelik gekliek en bietjie oor Boer Soek ’n Vrou gesels. Danél het vir haar gesê sy weet van my.

“Toe my vriendin wegry, het sy my dadelik gebel. Ek het vir Danél ’n friend request op Facebook gestuur, toe het ek haar nommer gevra. Die res is geskiedenis!”

Lees meer oor Carl en Danél se eerste afspraak hier.

Die verlowing is “fyn beplan”, vertel die boer. Hy het die ring in September laat maak en vroeg Oktober al ouers gevra. “Sy het van niks geweet nie.”

Blaai hier deur die foto’s (geneem deur Jan Koen):

Gallery

Sy pa se klein neef boer naby hulle en het ’n vliegtuig. Hy en Danél het die Saterdagoggend vroeg opgestaan sodat hulle oor die plaas kan vlieg.

Terwyl die paartjie en oom Kleinjan nog in die lug was, het Carl se ma en ’n vriendin van die boer ’n tafel vir ’n sjampanje-ontbyt gedek. Die fotograaf het opgedaag in ’n bakkie, gereed vir aksie.

Die ring was in ’n albastersakkie langs oom Kleinjan in die vliegtuig, maar het gelyk soos ’n “sakkie waarmee jy diamante smokkel”. Oom Kleinjan het gesê hy moet gou iewers stop om die “pakkie” af te lewer.

“Danél was tjoepstil toe ek die oom gevra het of hy goed smokkel!”

Toe hulle naby kom en die fotograaf se bakkie sien, het oom Kleinjan gespot: Dis seker die speurders wat hom kom vastrek!

Buite die vliegtuig het Carl vir Danél gevra of sy wil weet wat is binne die sakkie. “My hande het begin bewe!

“Toe sy dít sien, het sy geweet iets is aan die gang. Ek vertel haar toe sy maak my die gelukkigste man in die wêreld. Toe gaan ek op my knie. Sy was uit die veld geslaan.”

Die paartjie het die res van die dag saam met ’n paar naastes geniet.

Carl en Danél gaan die knoop op 21 September 2019 deurhaak. “Ons weet al waar ons trou en die gastelys is 70% gereed. Danél is ook 80% seker oor haar rok!”

Carl sê hy hoop jonger mense kan na hulle kyk en besef ware liefde bestaan werklik. “My en Danél se storie is nie ’n aangeplakte besigheid nie. Als is opreg.

“Dit wat ons het is ’n groot bederf en ’n voorreg.”

Boer Soek ’n Vrou se elfde seisoen saai Donderdae om 20:00 op kykNET uit.