Logo

Janina Oberholzer: Hen tussen die hane

Nuus
11 Januarie 2018
Só kan ’n vrou in ’n manswêreld uitstaan.
BSV_Janina Billboard

FOTO: Verskaf


Janina is die spreekwoordelike hen tussen die Toks ’n Tjops-hane. Tog sien jy nie dat dit haar onderkry nie, nee, sy is bekend daarvoor dat sy weekliks haar stempel afdruk om die knetterende vuurtjie. Met die oog op die Boer Soek ’n Vrou-dames wat moontlik eersdaags hul pumps vir vellies inruil, vertel Janina hoe ’n vrou in ’n manswêreld kan uitstaan. 

1. Wie is Janina as die kameras ophou rol?
Ek is ’n goeie mengsel van ekstrovert en introvert. Ek is mal oor my huis en soms wil ek vir dae net in my huis wees by my honde. Maar ek’s net so lief vir ’n lekker “luid” kuierplek, vriende en lekker lag.

2. Vertel ons ’n bietjie meer van jou grootwordjare?
Ons het as gesin tussen die Kaap en Pretoria rondgespring. Ons het in 1999 permanent Pretoria toe verhuis. Ek het aan Hoërskool Oos-Moot as hoofdogter matriek geskryf en daarna het ek drama by Tukkies gaan swot.

3. Vertel ons meer van Mej. Oos-Moot?
Hahaha! Ek was in Oos-Moot op skool. Ek was nooit Mej. Oos-Moot (die skool se skoonheidskompetisie-wenner) nie. Breyten Paulse, my mede-aanbieder op Toks ’n Tjops, het met die noemnaam opgekom! En dit het net gebly…

4. Hoe hanteer jy kritiek?
Ek probeer regtig myself nie te veel aan dit steur nie. Maar soms kry ’n mens ’n cyberbully wat jou net nie uitlos nie, wat week ná week aaklige opmerkings teenoor jou maak. Dan knak dit soms ’n mens. Opbouende kritiek verwelkom ek graag. Ek wil altyd verbeter. Maar wanneer mense op my voorkoms hammer dan maak dit effe seer. En indien my voorkoms al is waarmee hulle fout vind, dan is ek gelukkig.

5. Hoe staan mens uit in ’n wêreld waar die man geneig is om te oorheers en domineer?
Voorbereiding en selfvertroue. Dis moeilik om saam met ’n klomp manne (lees voormalige Springbok-legendes) om ’n vuur te kan gesels. Jy moet jou storie ken. Doen navorsing en gesels met oorgawe saam.

6. Dink jy dis nog nodig om vir mans terug te staan? Hoekom/hoekom nie?
Nee vir wat?! En watter bedryf word nie deur mans oorheers nie? Ek kan aan twee dink…. Daar is geen rede om vir enige iemand terug te staan nie.

7. Wat dink jy kan ’n vrou se rol op die plaas wees in ’n verwysingsraamwerk waar die man in beheer is?
Dis iets wat tussen die twee partye bespreek moet word. En altwee op dieselfde bladsy moet wees. En dit verskil van plaas tot plaas. Ek weet ek sal nooit iets kan doen op ’n plaas nie. Ek gaan iets moet kry om my besig te hou. Boekhou, bemarking, ’n smulwinkel of iets! Kyk na al die verantwoordelikhede van die plaas en verdeel dit tussen mekaar.

8. Wat is die beste raad wat jy al ontvang het om dit te maak in die bedryf?
Bly nederig. Hanteer almal met respek. En ken jou plek. Die werk kan môre opdroog en dan sit jy in die gemors. Die bedryf is piepklein, almal praat uit. Respekteer almal wat werk op ’n produksie.

9. As jy ’n plaas-implement was, wat sou dit wees en hoekom?
Ek sal ’n aapstert wees. Op die plaas word dit gebruik om swaar goed op te tel. Ek sien myself as iemand wat graag ander met ’n grappie of twee probeer “optel”.

10. Is dit net ’n vrou se plig om in die kombuis te werkskaf?
Glad nie! Almal kan ’n handjie bysit in die kombuis. Veral wanneer dit kom by die skoonmaak van die kombuis ná ’n heerlike kooksessie.

Donderdag om 20:00 ontmoet die boere die dames se naastes – jy wil dit nie misloop nie! Volg ons op FacebookTwitter en Instagram, en gesels saam by #GroterBeterBoer en #BoerSoeknVrou