Logo

Hoekom moet jy Boer Soek ’n Vrou 11 kyk?

Nuus
18 Oktober 2018
As jy nog ’n bietjie oorreding nodig het . . .
Kyk-BSV-S11

Al ooit gehoor van Boer Soek ’n Vrou? Die jongste seisoen van die gewilde kykNET-werklikheidsreeks skop binnekort af, so as jy wil weet hoe die program – in ’n neutedop – werk, skerp jou kennis op deur verder te lees.

Die formaat van die reeks het oorsee ontstaan, en die Suid-Afrikaanse weergawe het vir die eerste keer in 2007 op DStv-kanaal 144 uitgesaai.

Dalk laat dit jou bietjie aan die liefdesoekprogram The Bachelor dink, maar daar is tien vrygeselle – nie net een nie! Boonop woon ons hubare manne (én vroue!) op plase, en word belangstellendes in hul plaashuise (in plaas van ’n weelderige herehuis in die stad) onthaal.

Vind die boere ooit liefde?

Baie enkellopendes het al pasmaats deur die reeks gevind. Dink maar aan Adriaan en Helene, Hennie en Jacobu, Gerrie en Carna, Johan en Helen, en Tickey en Selme-Louise – om net ’n paar suksesverhale uit te sonder.

LEES OOK: Groter, beter, liefde

So, wat kan kykers van ’n Boer Soek ’n Vrou-seisoen verwag? Die aanbieder skuif jaar na jaar agter die stuurwiel van ’n bakkie in en deurkruis die land om die boere in hul soeke na liefde by te staan.

Vanjaar se boere is in April 2018 aan kykers voorgestel en mense van regoor Suid-Afrika kon vir die boer van sy of haar keuse ’n brief skryf.

Hier is waarna jy kan uitsien:

18 Oktober 2018 om 20:00

Leah deurkruis Suid-Afrika om seisoen 11 se boere op hul plase te ontmoet. Sy vind uit waarmee hulle boer, wat hul belangstellings is en waarna hulle in ’n lewensmaat soek.

25 Oktober 2018 om 20:00

Leah lewer die boere se briewe by hulle af. Die vyf boere met die meeste briewe moet elk tien briefskrywers kies wat hulle tydens ’n blitsafspraak wil ontmoet. Die ander vyf boere kan op hul eie tyd deur die briewe werk.

1 November 2018 om 20:00

Briefskrywers van heinde en ver kom byeen op een plek om vir vyf minute met hulle boere te gesels. Aan die einde van die dag kies ons vyf boere elkeen vyf persone wat hulle beter wil leer ken.

8 November 2018 om 20:00

Leah reël vir elke boer ’n gesellige dag om die vyf wat in die vorige episode gekies is van nader te leer ken. Aan die einde van die dag nooi die boer drie om op die plaas te kom kuier.

15 November 2018 om 20:00

Plaas toe! Die boere se gaste kom uiteindelik op die plaas aan en die boere begin worstel en wonder watter van die drie moontlik die een kan wees.

22 November 2018 om 20:00

Die boere leer hul kuiergaste beter ken en stel hulle aan die plaaslewe bekend.

29 November 2018 om 20:00

Dis tyd vir die boere om die eerste kuiergas te groet. Wie gaan bly en wie gaan ry? Is daar dalk iemand wat nie langer wíl bly nie?

6 Desember 2018 om 20:00

Daar is nou net twee op die plaas oor. Die boere nooi hul vriende en familie oor om hulle te ontmoet.

13 Desember 2018 om 20:00

Dis die laaste dag voor die boer die finale keuse moet maak. Sal dit ’n tweestryd of ’n uitgemaakte saak wees?

20 Desember 2018 om 20:00

Vandag moet die boer finaal kies. Wie gaan dit wees, en voel albei partye ewe sterk oor mekaar?

27 Desember 2018 om 20:00

Dis vandeesweek die boer se beurt om soos ’n vis uit die water te voel! Wat gaan die ‘skoonfamilie’ van die boere dink?

3 Januarie 2018 om 20:00

Dis vakansietyd en die paartjies kry die geleentheid om mekaar in ’n ander omgewing beter te leer ken.

10 Januarie 2018 om 20:00

In die reünie-episode kom al tien boere bymekaar. Ons vind uit of die vyf boere wat die minste briewe gekry het, liefde gevind het, wie nog saam stap en alleenlopend is. Seisoen 11 word afgesluit met ’n heildronk!

Skakel elke Donderdag om 20:00 in, en onthou om saam te gesels op Facebook, Twitter en Instagram deur die hutsmerk #BoerSoeknVrou te gebruik.

Kykers kan ook hul mening weekliks op ons webblad lug. Kliek hier vir alles wat jy moet weet.