Logo

‘Dis hartseer!’ – Boer Soek ’n Vrou 11

Nuus
03 Desember 2018
Leah gesels oor die episode waarin die eerste deelnemers die plaas moes verlaat.
BSV-Leah-Hartseer

Leah. FOTO: Berdene Burger

 

In hul soeke na liefde moet die boere week na week ’n klip of twee uit die pad rol. Elk van ons vyf boere wil die pasmaat van hul drome ontmoet, maar eers moet ’n paar moeilike besluite geneem word.

Een van daardie moeilike besluite is onlangs geneem: Watter een van die drie deelnemers wat op die plaas kuier moet die boer eerste groet?

Op Boer André se plaas was Lea-Mari die eerste vrou wat haar tasse moes pak. Dit was vir die oorblywende dames ’n bitter pil om te sluk, omdat die drie goeie vriendinne geword het.

Vir André was dit ook geensins maklik nie. “Hy neem die proses báie ernstig op,” vertel Boer Soek ’n Vrou 11-aanbieder Leah. “Ek dink hy het sy besluit baseer op wat sy hart vir hom sê. Ek weet hy het baie mooi daaroor gedink . . . Ai, dis hartseer!

 “Lea-Mari is ’n wonderlike mens; sy is beautiful! Ek is seker sy gaan nog haar eie sprokie vind.”

Leah meen Natasha, die eerste vrou wat Boer Cassie gegroet het, se unieke eienskappe is iets wat Cassie baie van haar waardeer het. “Cassie het gesukkel om iemand huis toe te stuur. Op die ou einde het hy in sy hart gevoel daar is ’n sterker konneksie met die ander,” sê sy.

Die borrelende Christelle was die eerste vrou op Boer Duncan se plaas wat moes groet. “Ek dink sy en Duncan het baie goed oor die weg gekom, maar Duncan is baie teruggetrokke,” vertel Leah. “Ek dink hy het dalk net gevoel Christelle is nie iemand met wie hy sy hart wil deel op die oomblik nie. Hy het iemand nodig wat by sy wêreld gaan inpas.

“Ek het baie respek vir haar. Ek dink sy het dit baie goed hanteer.”

Michelle, ’n “absolute sweetheart”, het Boer Réan se plaas verlaat. “Ek wéét sy en Réan het baie goed oor die weg gekom. Réan het regtig baie van haar gehou, maar ek dink hy het meer connect met die ander twee.”

Boer Toanette het nie vir Carlo gevra om langer op die plaas te bly nie. “Toanette se werk is haar nommereen-prioriteit,” sê Leah. “Ek dink haar werk het haar keuse beïnvloed.

 “Ek weet Carlo was definitief bereid om in te pas, maar dit het ongelukkig net nie so uitgewerk nie. Hy het regtig baie liefde om te gee!”

Sy sê Adriaan en Nardus het Carlo by tye gespot omdat hy nie plaaslewe ken nie, maar dit was ook nie vir hulle lekker om die donkerkop brandweerman te sien gaan nie.

In die volgende episode ontmoet die oorblywende deelnemers die boere se familie en vriende. Skakel in Donderdag om 20:00 op kykNET!