Logo

Boer Soek ’n Vrou: Om die tafel

Nuus
23 November 2017
Lees hier hoe die groepaktiwiteite verloop het en watter drie dames elke boer plaas toe nooi.
BSV-Johan-Waardering

“Ek het geen waardering vir ’n vrou wat só optree nie.” – Johan

Op ’n plaas word daar dikwels lánk om die tafel gekuier. Daarom kan ons nie aan ’n beter aktiwiteit as kosmaak dink vir die boere en dames om mekaar op ’n gemaklike wyse van nader te leer ken nie.

Ses uiteenlopende persoonlikhede, een strand-kombuis en beperkte tyd: Vandag moet ons deelnemers op hul voete dink én die kospotte laat prut terwyl hulle boonop ’n goeie indruk probeer skep.

Net soos in ’n plaaskombuis is daar vandag ’n hele rits bestanddele om te gebruik, maar daar is net een uur om ’n smullekker ete op te tower.

Het jy verlede week se blitsafsprake misgeloop? Lees dan hier.

Marica, wat daar is vir Ruan, meen die aktiwiteit kan baie van iemand verklap. “Mens kan maklik sien wie staan terug en wie vat voor in so ’n geval.”

Ruan lag wanneer hy sê hy is “nie ’n baie goeie multi-tasker nie”, veral nie wanneer daar wynglase is wat vol gehou moet word nie. “As ek wyn gooi, dan gooi ek wyn. Daar moenie vleis met my aan die agterkant praat nie!”

Só het die arme boer fokus verloor en die knoffelbrood gebrand. Dalk is dit omdat van die dames iets binne die boer “aan die roer sit”.

Ons het die dames agter die skerms oor die boere uitgevra. Wie ken haar boer die beste?

Jacques sal homself nou nie as ’n MasterChef beskryf nie, maar geniet nogtans sy tyd in die kombuis saam met die dames. “Jacques is beslis ’n netjiese mens – dit het ons nou in die kombuis ook gesien,” sê Danél.

Nes Ruan is dié boer gemakliker daarmee om seker te maak die wynglase is vol. Die dames kan mos die borde vol kos hou!

Wanneer Jacques en die dames mekaar uitdaag om ’n oester te eet, sê Corné sy is allergies vir skulpvis. “Nee, dis nou sommer ’n wolhaarstorie daai!” sê hy.

Carla meen die boer is baie avontuurlustig en sy geniet dit dat hy ander aanmoedig om ook bietjie te waag.

Vir Braam is daar nie genoeg spasie in die kombuis nie. “Ek sal maar hier eenkant staan,” sê die boer.

Terwyl hy homself met klein takies besig hou, kom die dames se persoonlikhede sterker na vore – elke dame wil haar brood aan albei kante gebotter hê. Janine meen groepaktiwiteite is nie maklik nie, veral nie wanneer jy een-tot-een-gesprekke verkies nie. Alexandra sien ook nie kans vir kompeteer vir aandag nie, en meen dis ’n bonus wanneer jy uitstaan deur net jouself te wees.

By Adriaan loop alles klopdisselboom. “Julle werk goed saam as ’n span, ek moet sê,” sê die boer.

Leonie meen “dis ’n mooi kwaliteit” van Adriaan om op elke dame te fokus en seker te maak hy gee aandag aan almal. Helene hou daarvan dat hy oogkontak maak en boonop die dames op die naam noem.

Johan is ’n boer wat wéét wat hy doen in die kombuis, sê Zelda. “Hy kan nogal oorneem in ’n kombuis, maar ek geniet dit. Dis vir my sexy.”

Wanneer die uur verby is, is die vleis egter nog rou. Maar ’n boer maak ’n plan, en die filet word bees-carpaccio.

Om die tafel raak dinge egter ongemaklik. Volgens Marinda is daar twee dames wat daar is om ware liefde te vind; die ander drie is daar vir kompetisie.

Johan raak vies omdat Christa te veel gehad het om te drink. “Ek het geen waardering vir ’n vrou wat só optree nie.”

Later sê hy vir haar: “Niks meer wyn vir jou nie.”

Christa sê: “Dis nou maar ’n grappie tussen ons.”

Wanneer sy egter alleen voor die kameras is, sê sy: “Nou kyk, ek is baie jammer. Jy gaan nie so met my praat nie.”

Voor hy twee dames elimineer, vra hy Christa “beleefd” om liefs huis toe te gaan. “Jou wêreld en my wêreld is twee verskillende wêrelde,” sê die boer.

Vanjaar word dinge ietwat anders gedoen om die boere te help om die besluit bietjie makliker te maak: Elke boer het tien kosbare minute alleen met elk van die vyf dames.

Na alleentyd sê Ruan vir Minki “daar is vir seker een” dame wat sy aandag het.

Adriaan is dalk nog nie verlief op iemand nie, maar hy sê: “Dis beautiful meisies, as ek die Engelse woord mag gebruik.”

Maar die onvermydelike kan nie uitgestel word nie, en Jacques is gespanne: “My bene gaan bewe en dit gaan nie van kouete wees nie!”

KYK: ’n Gespanne maar opgewonde Jacques maak sy keuse

KYK: Ruan is opgewonde noudat dinge na ’n kant toe begin gaan

KYK: Braam kies die drie vroue wat hy dink die beste by hom gaan pas

KYK: Vir Adriaan was die kosbare alleentyd met die dames deurslaggewend

KYK: Johan groet Christa nog voor hy bekend maak wie saam plaas toe gaan

Donderdag om 20:00 gaan die boere se drie gekose dames plaas toe! Volg ons op Facebook, Twitter en Instagram, en gesels saam by #GroterBeterBoer en #BoerSoeknVrou.