Logo

Boer Soek ’n Vrou: Klink ’n glasie op Maputo!

Nuus
18 Januarie 2018
Die boere en hul meisies gaan hou vandeesweek vakansie in Mosambiek!
BSV-Mosambiek

Strandlangs in Mosambiek! FOTO: Getty

Seisoen 10 se boere verruil hierdie week plaaslewe vir skemerkelkies en bootritte in Maputo! Boonop is dit die eerste keer in Boer Soek ’n Vrou-geskiedenis dat die boere, dames en span na ’n bestemming buite die landsgrense reis.

“Ons het net gehoor ons moet paspoorte bring,” vertel Helene. Bianca sê hulle het darem ook geweet hulle gaan ’n malaria-gebied besoek, en dat dit redelik warm gaan wees. Johan vertel sy tas is oorvol, omdat sy kinders vir hom gepak het.

“Dis lekker om te sien almal is gelukkig en kom goed oor die weg – en party is verlief en so aan!” sê Corné.

Het jy verlede week se episode misgeloop? Lees dan hier!

Braam sou graag ’n maat wou hê wat saam met hom Mosambiek kon verken, maar sê “die ander paartjies pas mooi bymekaar.”

Hy is egter nie die enigste alleenloper onder die boere nie. “Ek sal liewer alleen hier wees,” sê Johan – eerder as om saam met “die verkeerde persoon”, met “verkeerde motiewe”, te wees.

Op haar bank in Johannesburg vertel Marilyn die verliefdheid tussen haar en Johan het begin wyk soos wat die boer se ware kleure ál duideliker geblyk het. Dis grotendeels “klein dingetjies”, soos Johan wat laat was vir ’n ontbyt saam met Marilyn se ma en toe nie om verskoning gevra het nie, wat haar teleurgestel het.

Johan het by dié ontbyt tot die besef gekom dat dinge tussen hom en Marilyn nie gaan uitwerk nie. “Ek is nie ’n skoothond nie.”

Hy vertel Marilyn het vir hom gesê hy is nie die man wat sy gedink het hy is nie, maar die boer sê hy het daarna introspeksie gedoen en reken hy wéét wie hy is – en dat hy nie voorgegee het om iemand anders te wees nie.

Marilyn sê: “Dit gaan meer oor hom as, regtig, oor ander mense.”

Johan vertel verder vir Minki hul kortstondige verhouding was “die lekkerste, wonderlikste ding wat gebeur het.”

Kyk die volledige onderhoude hier.

Ruan en Bianca lag heerlik vir mekaar terwyl hulle ’n vlieër in die lug probeer hou. Die harnas is ietwat knap, en Bianca sê vir Ruan: “Trek in jou maag!”

Van giggel oor hul vlieër-vaardighede tot kokosneut-leuens: “Dit proe vir my ’n bietjie soos warm kraanwater,” bieg Bianca wanneer sy vir die eerste keer kokosneutwater drink.

“Jy sê dan dis lekker die eerste keer!” lag Ruan. Bianca sê sy moes jok, anders gaan die boer dit mos nie wou proe nie.

LEES OOK: Rolanda Marais: ‘Onverwagse juweel-oomblikke’

Hulle gesels ernstige dinge wanneer hulle die aand aansit vir ete. “Nog ’n ding wat jy my geleer het, is hoe ’n mens met ’n glimlag en met ’n vriendelike persoonlikheid iemand anders kan laat beter voel…

“Ek is ernstig,” sê Ruan. Bianca sê dis vir haar moeilik “om in sy kop te kom.”

Ruan sê: “As ek haar reg verstaan, dan, ja, sy voel iets vir my, en ek is die skuldige een wat nie iets terug voel nie.”

KYK: Die skuldige een

Kyk hier na foto’s vanuit die vakansie-episode:

Gallery

Jacques en Corné ry perd op ’n strand, maar die boer is nou nie juis lief vir perde nie. Corné sê sy dink nie Jacques geniet dit om iets buite sy gemaksone te doen nie, maar dink hy het dit op die ou einde geniet – al is hy nie áltyd gemaklik met die “onbekende” nie.

Volgende keer, sê Jacques, gaan hy vierwiel ry en Corné perd.

Corné sê die boer het sy “giere”, maar sy sal niks aan hom wil verander nie. Jacques is bly Corné is ’n reguit vrou met ’n sterk persoonlikheid, “want ek is ’n moeilike mens.”

LEES OOK: Só hou Tracey Lange vakansie

Corné sê die twee trek gedurig “mekaar se siele” uit en is beide netjies op hulself. “Ek aanvaar hom so en ek verstaan hom. Hy luister ook as ék praat.

“Ons verstaan mekaar.”

KYK: Humor en terggees

Adriaan en Helene deel ’n liefde vir kos en nuwe avonture, en ’n sjef berei ’n smullekker seekosdis vir hulle voor. “Dis ’n belangstelling wat ons deel,” sê Helene.

Dié twee is tot oor hul ore verlief op mekaar. “Dis ’n lekker gevoel!” sê Adriaan.

Helene is gek oor die boer se lewenslus. “Hy weet hoe om te lewe te geniet, en hy weet wanneer om net te vergeet van alles wat by die huis of by die plaas aangaan.”

Adriaan sê hy en Helene “kom nie met ’n ompad” wanneer een van hulle iets oor die ander een wil weet nie. “Jy vra hom net en jy kry klaar, en jy praat dit uit.

“Om saam met haar die heeltyd te kan wees, is vir my ongelooflik lekker. Dis ’n baie mooi, oulike meisie wat jy die heeltyd by jou wil hê,” sê die boer.

KYK: Mosambiek-duifies

Soos wat die boere en dames meer oor mekaar te wete kom, vorm hulle ook opinies oor mekaar. Johan sê: “Braam gee baie meer as wat hy vat uit ’n verhouding.

“Ek dink Braam gaan ’n ongelooflike vrou ontmoet wat hom gaan waardeer vir wie hy is en vir wat hy gee…”

Bianca dink Braam is ongetwyfeld gereed vir ’n verhouding, omdat hy emosioneel volwasse is. Ruan sê: “Ek dink hy is amper die meeste reg van almal!”

Adriaan sê: “Ek dink hy sal haar op die hande dra. Hy sal rêrig baie mooi na haar kyk.”

KYK: Die regte een vir Braam

Jacques sê dis goed om vir ’n week lank elke dag in mekaar se geselskap te wees (“maak of breek”), om te sien of daar werklik potensiaal is vir ’n verhouding. Braam sê: “Corné hanteer vir Jacques eintlik bitter goed.

“Hy gaan nie sommer dat ’n vrou vir hom sê wat om te doen nie, maar ek kan sien Corné… sy gaan ook nie nonsens vat nie.”

Adriaan sê net die tyd sal leer, maar hy dink nogtans die twee maak ’n goeie paartjie. Helene dink “dis bietjie vroeg om te sê” of Jacques en Corné ’n lang pad saam gaan loop.

Oor Ruan en Bianca sê Helene: “Ek dink dit sal ’n fout wees as Ruan nie die geleentheid aangryp om vir Bianca beter te leer ken nie.”

Vir Johan lyk dit of die twee ’n pad saam kan loop, maar net as vriende. “Ek mag verkeerd wees,” sê hy.

“Adriaan en Helene is baie verlief! As hulle mekaar kan waardeer, dink ek hier is ’n troue op hand!” meen Johan.

Bianca sê: “Dis so oulik! Ek dink hulle is baie gelukkig.”

Jacques sê Adriaan en Helene vul mekaar só goed aan, dat ’n mens amper wil glo die twee is al ’n jaar of langer saam.

Braam sê: “Daai is die twee duifies van hierdie seisoen. Hulle is permanent bymekaar, hulle hou hande vas, hulle is nie skaam om voor ons te soen nie, niks nie! Ek dink hulle dinge gaan definitief uitwerk.”

Minki gesels met ons agter die skerms oor die vakansieweek. Kyk die video:

Donderdag om 20:00 sien ons weer ál tien boere by die reünie – jy wil dit nie misloop nie! Volg ons op FacebookTwitter en Instagram, en gesels saam by #GroterBeterBoer en #BoerSoeknVrou.