Logo

Boer Soek ’n Vrou: In die kol!

Nuus
11 Januarie 2018
Die boere maak hulself hierdie week behoorlik tuis in die dames se wêreld.
BSV-In-die-Kol

Die boere se pogings om by die dames se naastes in te pas was vandeesweek in die kol! FOTO: Getty

Een van die grootste stappe in ’n nuwe verhouding is om jou maat aan jou vriende en familie voor te stel. Vier van ons boere verlaat vandeesweek hul plase om die dames se naastes in Pretoria, op ’n plaas tussen Jan Kempdorp en Warrenton, Durbanville en Johannesburg te ontmoet.

Watter van ons boere gaan skoonma of skoonpa laat lag? Ons het vooraf vir ons boere gevra hoe hulle die ys gaan breek!

Ruan en Bianca het mekaar ’n week lank nie gesien nie, en die boer is baie opgewonde om tyd saam met haar – dié keer omring deur háár mense – deur te bring. Lol die senuwees? Glad nie! “Ek geniet dit om uit my comfort zone te wees,” sê Ruan. “Ek dink ek het meer gestres daar binne my comfort zone as wat ek stres om hier te wees!”

Die boer is vol lof vir die “baie oulike oom en tannie en boetie” wat hy in Pretoria ontmoet, maar dink nie daar blom al iets tussen hom en die donkerkop wat hy gekies het nie.

Dis eers later, ná hy Bianca se vriendekring en die res van die familie ontmoet het, wat hy ’n ander deuntjie sing. “Ek voel sterker oor Bianca na vandag en vanaand as wat ek gevoel het,” sê hy. “Ja, daar is iets aan die ontwikkel. Ek kan nog nie beloftes maak nie, maar sy het die vermoë om baie dieper in enige mens se hart in te kruip, en sy het nou al baie dieper in my hart ook gekruip.”

VASVRA: Watter tipe skoonma of skoonpa is jy?

Jacques ry van die een plaas na ’n ander om saam met Corné se familie en vriende te kuier. Corné het in die vorige episode gespot en gesê Jacques gaan moet ligloop rondom haar broers. Die boer het egter g’n waarskuwing nodig gehad nie, want hoewel die tweeling hom al sy dae gee, kom hulle ongetwyfeld goed klaar.

Hy sê Corné se mense “lyk soos ons dam se ganse”.

Hy voeg by: “Ek kan lief raak vir dié mense.”

Daar is ook ’n “spark” tussen hom en Corné, sê Jacques, en hulle kuier en lag lekker saam. Corné sê sy hoop die boer is nog “trots” op die keuse wat hy gemaak het: “Ek hoop hy hou meer van my na hierdie kuier en dat hy meer op sy gemak is en nog meer oopmaak teenoor my.”

KYK: ‘Ons dam se ganse’

Jacques gaan doen wat hy kan om hul verhouding ’n kans te gee. “Ek gaan definitief my skoene ingooi – alles wat ek het, agter haar aan, om hierdie ding te laat máák werk.”

Kyk hier na foto’s vanuit hierdie week se episode:

Gallery

Adriaan se skoene is skaars op Durbanville se grond of Helene verwelkom hom met ’n klapsoen. “Ja, hy soen baie lekker!” lag Helene.

Hulle is ’n baie hegte gesin, en dit sal vir Helene lekker wees as hy goed met hulle oor die weg kom. “Jy moet hulle almal maar vat saam met my!” sê sy.

Die boer is egter so gemaklik tussen haar familie en vriende soos wat hy rondom haar is. “Ek hoop hulle het van my gehou – dit lyk darem so!” sê Adriaan.

Helene se naastes slaan die spyker op die kop: Dié twee is beslis verlief! “Jy steek dit nie meer weg dat jy hou van mekaar nie – jy sê dit al, want ons mag mos darem al,” sê die boer.

“Ek is baie opgewonde en ek kan nie wag vir dit wat voorlê nie,” sê hy later. “Dis ’n droom, en dis ’n droom wat waar word. Dis ’n ongelooflike meisie, en ek kan nie wag nie.”

Johan en Marilyn ontmoet mekaar in Hartbeespoort om tyd saam deur te bring voor sy hom aan haar familie en vriende in Johannesburg voorstel. Sy is die enigste dogter van vier kinders, en meen haar ma is die een wat die boer moet beïndruk omdat sy oorbeskermend is oor haar dogter.

Almal kom egter goed klaar, en Marilyn en die boer blom behoorlik. “Ek voel positief oor Johan. Ek voel hoe meer tyd ons saam spandeer, hoe meer tyd wíl ek saam met hom spandeer. Dis net soos hierdie twee kinders wat net heeltyd wil giggel oor goeters, en ek geniet dit.”

KYK: ‘Dis net heerlik’

Johan voel “soos ’n skoolseun” omdat hy nooit gedink het hy sal weer verlief kan raak op iemand nie. “My borskas is te klein vir my hart, wat kan ek sê?”

Die dames vertel ons bietjie meer van hul naastes:

Donderdag om 20:00 gaan die paartjies saam met vakansie – jy wil dit nie misloop nie! Volg ons op FacebookTwitter en Instagram, en gesels saam by #GroterBeterBoer en #BoerSoeknVrou.