Logo

Angelique Gerber oor ware boereliefde

Nuus
31 Oktober 2017
Sy is die deernisvolle Boer Soek ’n Vrou-aanbieder met die vuurwarm hart wat na afloop van die vierde seisoen dit duidelik gemaak het dat sy haar baie goed van haar taak gekwyt het deur die boere by te staan in hul soeke na liefde.

Foto: Claudia Hamman Photography

Getroud met die man van haar drome, met ’n pragtige seuntjie wat haar besig hou en twee dogtertjies op pad – nooit in haar wildste drome het Angelique Gerber, aanbieder van Boer Soek ’n Vrou seisoen vier, vyf en ses, gedink dat haar lewe só sprokiesagtig sou uitdraai nie.

Vir dié bekende aktrise en aanbieder het baie dinge verander sedert Boer Soek ’n Vrou. Sy het onder meer Dis Koue Kos, Skat, Mooirivier, Dans in Jou Taal en die VIA-werklikheidsreeks Angelique en Junior op haar kerfstok. Sy verduidelik dat daar ’n groot verskil is tussen aanbieding en speel. “Met ’n program soos Boer Soek ’n Vrou voel jy régtig die emosies,” sê sy.

“Jy hoop saam met die boere en dames. Jy kry ook seer saam met hulle. En jy jubbel en juig saam met hulle van blydskap as hulle ware liefde vind.”

Vyf jaar ná Boer Soek ’n Vrou maak sy oop oor wat dit verg om aanbieder van só ’n werklikheidsreeks te wees.

“Baie mense sal my vra of dit alles aansit en opgemaak is, maar dit is nie.”
 

“Dis regte mense wat werklik hoop op liefde en geluk. As jy ’n rol vertolk, weet jy dis nie werklik nie, en kan jy weer vinnig jou ou self wees ná jy nounet moes huil of hartseer wees. Maar met die boere en dames het dit nog dae by my gespook as ek kon sien hulle het nou seergekry.”

Angelique vertel dat sy al baie kritiek ontvang het van Boer Soek ’n Vrou-kykers op sosiale media, maar raai egter aan dat hulle in gedagte moet hou hoeveel ure geskiet word, en hoeveel daarvan verlore gaan tydens redigering. “Kykers weet nie wat alles gebeur nie. Jy kan nooit iemand opsom vir wat hulle werklik is op die basis van wat jy op TV sien nie,” sê sy.

KYK: BOER SOEK 'N VROU – DIE MOOISTE VROU

“Een ding wat ek wel kan sê is dat elke boer ’n baie goeie hart gehad het. Dit was vir my hartseer as ek gehoor het hoe mense die boere sleg gesê het oor iets wat hulle gedoen of gesê het op TV.”

“Ek is mal oor ons land en ons mense, en elke persoon het hulle eie seer. Almal wil net liefde en geluk vind.

KYK: BOER SOEK 'N VROU – BAANBREKER-LIEFDE

Angelique meen dat daar redes is vir elke boer se optrede. “Van my kant af wil ek vra dat die kykers met meer deernis na die boere sal kyk en sal onthou alles is nie altyd soos dit lyk nie.

Wat is ware liefde?

Elke jaar word kykers toegelaat om boere se soeke na liefde op die kassie te volg. Soms vind hulle ware liefde, maar soms moet hulle ook moeilike besluite neem om mekaar se harte te beskerm. Maar glo Angelique in ware liefde, en dat dit op die kassie kan afspeel? “Een honderd present, ja!”

Angelique verduidelik dat wanneer dit beskore is, ware liefde op enige manier gevind kan word. “Selfs Facebook, soos ek en my man ontmoet het,” sê sy. “Tegnologie het ons nader aan mekaar gebring, en dit makliker gemaak om nuwe mense te ontmoet – en dis beide ’n seën en soms ook maar ’n curse.

Boereliefde [nie] vir almal bedoel

Vir Angelique is dit ’n ernstige saak van die hart wanneer sommige boere deur die hele proses gaan en aan die einde van ’n Boer Soek ’n Vrou-seisoen alleen opdaag by die reünie. “As mens deel is van die boere en dames se lewens vir soveel maande, hoop jy saam met hulle vir opregte geluk en liefde.

“Maar mens kan natuurlik ook nie die boere of dames forseer om van iemand te hou net om die kykers gelukkig te hou nie, en dít maak Boer Soek ’n Vrou werklik spesiaal – dis opreg.”

’n Oopkop boer bly ’n gelukkige boer

Haar raad aan vanjaar se tien boere is om oopkop te bly. “Soms is die persoon wat jy gedink het sal nooit by jou sal pas nie dalk net die een wat jou die gelukkigste man ooit sal maak.

“Moenie net na die uiterlike kyk nie,” sê sy. “Dit vergaan, en ’n mooi hart en ’n goeie vrou is blywend!

“Geniet elke liewe sekonde van die journey. Die crew is ongelooflik, en dit is ’n geleentheid wat nie baie mense kry nie. Maak dus jou hart oop en kyk maar uit vir daai kansvatters.”

’n Tikkie boereraad vir die dames

“Skryf asb in vir die regte redes. Dit is vir my só sleg as die dames inskryf net om op TV te wees.”

Angelique moedig vanjaar se dames aan om elkeen outentieke en eg aan hulself te bly. “As die boer jou nie kies nie, glo my, elke pot het sy deksel. Vertrou die proses en dat die regte persoon op die regte tyd oor jou pad sal kom!

“Vat ’n kans en waag bietjie!”

LEES OOK: ELMA POSTMA – NOG LANK NIE KLAAR MET LIEFDE

Skakel Donderdag om 20:00 in vir nog ’n Boer Soek ’n Vrou-episode. Volg ons op Facebook, Twitter en Instagram, en gesels saam met die hutsmerk #GroterBeterBoer en #BoerSoeknVrou.