Logo

André en Madelé – Boer Soek ’n Vrou 11

Nuus
20 Desember 2018
Dis nou sommer stoetmooi!
BSV-Andre-Madele

André het vir Madelé gekies. FOTO: Vanuit ’n episode van Boer Soek ’n Vrou 11

 

As daar nou één ding is wat ons weet, is dit dat Boer André sy hart op sy mou dra – al het hy sy tyd en aandag regverdig tussen die dames verdeel.

Hy het vroeg al teenoor Leah erken daar is iemand wat vir daardie ekstra glinster in sy oog verantwoordelik is en enkele ure voor hy bekendgemaak het dis Madelé, het hy gesê hy is “102 persent” seker oor sy besluit.

Wat is die volgende stap noudat hy weet aan watter vrou sy hart behoort? wou Leah by hom weet. “Trou en kinders!” het André gespot. “Nee, ek sien uit daarna om die dame wat agter bly beter te leer ken en saam met haar te groei.”

Madelé meen sy het dit veral geniet om die versteekte kamers van die boer se hart deur sy naastes se oë te verken. “Ek het definitief meer van hom gesien deur sy vriende en familie, omdat hy so nederig is,” het sy vir Leah gesê. “Ek dink hy gaan eendag sy vrou báie gelukkig maak.”

André het ’n unieke manier om ’n ding te sê en Madelé was van dag een af gaande oor sy sin vir humor.

Hulle het selfs ’n nuwe gonswoord, “stoetkwaai”, op André se plaas geskep!

In die paartjie se alleentyd het André vir Madelé gevra of sy hom beter wil leer ken. Sy het ’n definitiewe “ja” geantwoord, maar bygevoeg: “Die man is die jagter.”

André het gelag: “Dit klink nie asof jy dit baie maklik gaan maak nie!”

Toe hulle uiteindelik saam voor Leah op die bank sit, het André gesê: “Ek dink ons harte het in ’n mate ’n konneksie gemaak.”

 

“Hulle wou regtig net gehad het ons moet nou loop!” Lees hier wat skryf Leah oor André en Madelé.

Wat voorlê vir die Colesberg-boer en sy donkerkop sal net die tyd leer. Ons weet gelukkig André is nie bang vir ’n langafstandverhouding nie!

Nuwe episodes van Boer Soek ’n Vrou 11 word Donderdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.