Logo

‘Alles in goeie tyd’ – Boer Soek ’n Vrou

Nuus
11 September 2018
Boer Adriaan van seisoen 10 vra die ja-woord – lees meer.
BSV_Adriaan en Helene

In 2017 tydens ons reise deur Suid-Afrika, het ons die jong Riversdal-skaapboer met die breë glimlag ontmoet, en sy lag was sommer dadelik aansteeklik. Dié blouoog-boer was vasoortuig om liefde te vind, en op soek gewees na iemand wat haarself rondom hom kon uitleef. “As sy ’n vertrek instap, wil ek bars van trots en my wange moet pyn van die smile op my gesig,” het hy destyds gesê.

En toe ‘sy’ vir die eerste keer in die vertrek instap tydens die blitsafsprake van seisoen 10, was dit liefde met eerste oogopslag vir Adriaan en Helene. Tydens hul eerste ontmoeting het Helene aan haar boer geopenbaar dat sy nie gereed is vir die “high life” nie. “Ek sien nie myself eendag in Sandton werk in een of ander high flying [besigheid] nie. Ek wil graag dit rustiger vat, en ek het besluit dit is vir my belangriker as enige groot salaris,” het sy verduidelik.

Adriaan het dadelik geweet dat hy sy trouvrou ontmoet het, en sowat ’n jaar later op 9 September 2018 het hy op sy knie afgesak en vir Helene die ja-woord gevra.

Oor daardie eerste ontmoeting sê Adriaan dat hy geweet het “alles voel net reg en dit gaan sy wees” die oomblik toe hy haar groet. Hy vertel dat dit vir hom duidelik was sy sou maklik aanpas op sy plaas. “Dis mos wat ’n man wíl hoor, en dis mos enige boer se grootste vrees: Gaan sy aanpas, en gaan dit vir haar werk hier?

“Toe sy dit vir my sê, het ek geweet sy gaan die vrou wees vir my.”

 KYK OOK: MOSAMBIEK-DUIFIES

Aanpassing is ’n relatiewe woord:

Na afloop van die tiende seisoen van Boer Soek ’n Vrou was afstand die die grootste uitdaging vir dié paartjie. Adriaan moes voltyds op die plaas wees, terwyl Helene ’n restaurant in die Kaap bestuur.

Hy sê:
“Ek het vir haar gesê ons mag nooit twee weke verby laat gaan voordat ons mekaar sien nie. Vir my was dit belangrik om die 300 kilometer tussen ons so kort as moontlik te maak sodat ons verhouding kan groei.”

Sy sê:
Volgens Helene was daar nie juis enige aanpassings in hul verhouding nie. Sy verduidelik: “Die woord ‘aanpassing’ is maar ’n relatiewe woord. [Ek en Adriaan] het altyd saamgestem: Wanneer iets te moeilik is, dan is dit nie reg nie. En dit was nog nooit moeilik nie. Omdat alles so natuurlik in plek geval het, was die enigste logistiek om so vêr te ry. Maar dit was alles die moeite werd.”

Sondag, na werk:

Hoe verseker ’n mens die sukses van ’n verhouding wat voor die kameras afspeel? En hoe het Adriaan en Helene se verhouding verdiep vandat die kameras ophou rol het? 

Hy sê:
Hoewel hy erken dat dit ’n stresvolle tydjie voor die kameras was, verduidelik hy: “Omdat ons so erg is oor mekaar, het ons so vinnig teenoor mekaar oopgemaak en so vinnig mekaar vertrou dat alles van selfsprekend gebeur het.”

Sy sê:
Helene vertel dat hul verhouding heelwat verdiep het na afloop van die seisoen. “Hy het byvoorbeeld naweke vir homself gehad. Sondae kon hy by sy ouers gaan middagete eet het, terwyl ek tot 18:00 toe in die aande ’n restaurant in die middestad moes bestuur.” Sy verduidelik dat hul wêrelde vir ’n baie lang tydperk “uiteenlopend verskillend” was. “En tog, in die middel van dít alles, het ons mekaar gehad, mekaar ondersteun en vertrou, en ek dink daardie tyd het vir ons gewys dat waaraan ons werk nie verniet is nie en dit iets is wat kwaliteit is en verewig sal hou…”

Die groot vraag:

Hy sê:
Hoewel Adriaan nie geweet het wanneer hy haar sou vra nie, het hy presies geweet waar. “Die Saterdag was ons by ’n troue. Toe ons die Sondag terugkom by die huis, was dit die perfekte Lente-dag na die onlangse reën.

“Op pad huis toe het ek gedink, hoekom moet ek langer wag? Ek het alreeds vroeër die week, sonder haar wete, [gaan ouers vra] in die Kaap. En die ring het ek al vir ’n hele rukkie.

“Toe ons by die huis kom, het ek vir haar gesê ek gaan ’n draai ry. Ek het hout en stoele na die vlei geneem, ’n koelerboks gepak en dit alles daar onder ’n boom gaan wegsteek. Terug by die huis, was sy klaar gestort, en ek het haar gevra om saam met my te kom. Uiteindelik by die vlei, en toe raak ek so senuweeagtig dat ek 500 meter verby my spot stap. Darem was dit nogsteeds mooi daar,” vertel hy giggelend.

Gallery


Sy sê:
“Dit was deel van ons normale Sondagmiddag-roetine om ’n rustige dag te hê, koffie te drink, wasgoed te was, deur die skape te stap, en op die plaas rond te ry – hy in sy plaasklere en ek in my oefenklere. Ek was eintlik gereed vir ’n middagdraffie later, so ek het geen grimering aan gehad nie.

“Adriaan vat my toe na die vlei toe. Volgens hom wou hy my gaan wys het hoe dit gereën het. En daar gaan die man op sy knie.

“Ek het dadelik begin huil, want ek het nie verstaan wat aangaan nie – en ek was vas oortuig iemand sit in die bos met ’n kamera besig om my af te neem terwyl ek geen grimering aan het nie. Ek kry toe so skaam.

“Maar toe besef ek dit is eintlik net eenvoudig die rou oomblik alleen saam met mekaar, ’n oomblik waarin ons tevrede is met net die eenvoudige dinge in die lewe… 

“Ons het daar gesit vir ’n paar ure, en rustig ’n glasie gin gedrink terwyl hy my vertel het hoe hy vir my pa gaan vra het in die Kaap, en met my ma gesels het sonder dat ek weet die vorige naweek toe sy kom kuier het. 

KYK OOK: ‘SO JULLE IS EKSKLUSIEF?’

Die agterdog: 

Hoewel Adriaan verklap dat hy die ring aangeskaf het tydens ’n weeklange sakereis wat Helene onderneem het in Johannesburg, sê Helene dat Adriaan se optrede glad nie anders was in die weke voor hul verlowing nie. “Nie eers vyf minute voor dit gebeur het nie,” sê sy. “Ek het juis gedink dit sal glad nie nou gebeur nie want dis ’n besige maand vir ons.”

Sy vertel verder: “Toe ek weg was, kon ek agterkom hy verlang ongelooflik erg. En dit het my laat dink ons beteken vir mekaar meer as wat ons besef. Ek dink ook dit was goed vir ons verhouding om vir ’n rukkie weg te wees van mekaar af nadat ek Riversdal toe getrek het. Dit het ons laat besef wat ons vir mekaar is.”

KYK OOK: ‘SY IS ONGELOOFLIK’

Die toekoms:

Volgens die paartjie, gaan hul droomtroue ’n dag wees waartydens almal wat vir hulle spesiaal is genooi sal word – ’n dag waartydens almal dans tot die son opkom. Vir beide Adriaan en Helene is dit belangrik dat almal wat bywoon saam met hulle die dag sal geniet. En daarom wil hulle dinge eenvoudig genoeg hou om dít te verwesenlik.

Helene bieg: “Ons sal maar hou by die tradisionele goedjies van troue so ja, maar julle sal sien…”

Die elfde seisoen van Boer Soek ’n Vrou skop af op 18 Oktober 2018. Hou ons platforms dop en gesels saam FacebookTwitter en Instagram met die hutsmerk #BoerSoeknVrou