Logo

Boer Soek 'n Vrou: Wilder as die wildtuin!

Nuus
02 November 2017
Die Boer Soek ’n Vrou-bakkie het byna 6000 km afgelê om by vanjaar se boere in te loer.
BSV-Wilder-as-Wild

FOTO: “Hulle drink ouliker as my kinders medisyne!” – Minki, uit vandeesweek se episode van Boer Soek ’n Vrou

Na ’n terugblik op die suksesverhale van die afgelope nege seisoene, is dit uiteindelik tyd vir #GroterBeterBoer – ’n seisoen wat Minki Joubert vól hoop en verwagting aanpak.

Dié week word daar ’n draai by elk van ons tien hubare boere op hul plase gemaak.

KYK OOK: EKSKLUSIEF – MINKI: “EK IS MAL OOR SY AKSENT”

Jacques (27) van die Loeriesfontein-omgewing is die eerste boer wat ons aanbieder op sy plaas ontvang. Dié boer vertel hy was “wilder as die wildtuin” voor ’n motorfietsongeluk sy lewe drie jaar gelede handomkeer verander het. “Die lewe ís kort,” sê die donkerkop skaapboer, wat voor die ongeluk nog nie kennis met die ernstiger kant van die lewe gemaak het nie.

Oor die dorre streek wat die boer sy tuiste noem, spot hy: “Hulle sê altyd hierso’s die wêreld so plat, as jou vrou wegloop, kan jy darem nog vir drie dae vir haar síén loop!”

Hy is nou eers werklik gereed vir ’n verhouding. “Die dag as ek trou, moet ek weet ek kan sorg vir my vrou,” sê hy, en voeg by dat hy daarom eers in sy besigheid wou belê voor hy vrouvat.

Carl (32) van Carnarvon is volgende aan die beurt. “Ek is nie eintlik ’n alleenmens nie, man,” sê hy vir Minki.

Dié skaap- en beesboer het in die Paarl skoolgegaan en gewerk, en toe plaas toe gekom – vyf jaar vroeër as wat hy aanvanklik beplan het. “Nou sit ek waar ek sit,” lag hy.

Carl glo nie noodwendig in liefde met die eerste oogopslag nie, maar meen jy kan soos ’n “klein kind wat lekkers kry” voel wanneer jy hou van wat jy sien en meer oor die persoon wil uitvind.

Hy hoop ’n potensiële pasmaat sal sy spontaniteit en eerlikheid raaksien. “What you see is what you get,” sê hy. “Ek is nie iemand wat vol fieterjasies en goed is nie.” 

Kyk hier onder na pragtige foto’s van Minki en die boere, geneem deur Boer Soek ’n Vrou-regisseur Stephanus Rabie:

Gallery

Ruan (28) onthou nog hoe hy op laerskool briefies geskryf het vir meisies wat sy oog gevang het. Nou hoop dié boer van die Jan Kempdorp-omgewing dat hy ook ’n klomp briewe van belangstellendes sal ontvang.

Hy sal graag sy lewensmaat tussen die briewe wil vind – iemand met wie hy diep kan gesels en alles mee kan saamdoen.

Ruan boer onder meer met katoen, mielies en pekanneute en vertel hy is ’n “heavy introvert” wanneer hy dames vir die eerste keer ontmoet. “Ek kort net ’n hupstoot, dan is ek reg!”

Braam (31), die groenteboer van Oos-Londen, is op die oomblik op soek na ’n bestuurder om hom uit te help, veral vir die dag wanneer ’n vrou by hom op die plaas kom aansluit. “Die boerdery gaan definitief tweede kom as ek ’n oulike meisie in my lewe het!

“Ek het baie liefde om te gee, so as sy vir my gaan liefde gee gaan ek vir haar méér liefde gee” sê hy. “Ek sal haar op my hande dra.”

Hy is op soek na ’n lojale pasmaat wat daarvan hou om te lag en grappe te maak. “Liefde, dis al wat ek soek.”

Willie (23), die saai- en beesboer van Viljoenskroon, is ons verrassingsboer van die jaar. “As jou drome jou nie bang maak nie, dan is jou drome nie groot genoeg nie,” sê hy.

Hy het ’n landbou-agtergrond maar boer nie op ’n familieplaas nie. Ná hy sy studies in Potchefstroom voltooi het, is hy deur ’n maatskappy genader om hier in die Vrystaat te kom boer. “Ek wil baie graag sien hoe ons megaboere raak.”

Die boer is dalk bloedjonk, maar hy weet waarheen hy op pad is en wat hy in die lewe wil hê. Te jonk vir die liefde van sy lewe? Nee, wat! “Ek gaan net vir haar liefde gee en die man wees wat sy wil hê ek moet wees.

“Ek sal altyd seker maak haar belange word eerste gestel.”

Heleen (53) boer met wild en beeste in die Pienaarsrivier-omgewing en vertel boerwees het haar geleer om sterk te word en vir niks bang te wees nie.

“Ons dink baie meer emosioneel as ’n man,” sê sy vir Minki.

’n Nederige gentleman “wat lief is vir homself” gaan die beste by dié rustige boer pas, maar dit beteken nie sy gaan halsoorkop verlief raak op iemand nie. Sy wil eers die kat goed uit die boom kyk.

“Ek glo in ware liefde. ’n Mens moet – jy kan nooit opgee op die liefde nie. Die liefde oorwin alles.”

Stoffel (30) boer naby Koppies met saad en beeste, en maak áltyd die deur vir ’n dame oop. “Ek wil nou nie brag nie, maar ek sal sê ek’s ’n gentleman.”

Dié boer het altyd ’n glimlag op sy gesig. “Ek is ’n vriendelike mens,” sê hy. Boonop staan sy hande vir niks verkeerd nie. “Never fear when Stoffie is near!”

Harde werk is nie net vir die plaaslewe nie, maar dis ook nodig in verhoudings. As jy aan jou verhouding bou, kan jy ongetwyfeld ná twintig jaar nog verlief wees op die vrou van jou drome, meen die boer.

Johan (60) van Carolina het op sy plaas kom “uittree, maar nie aftree nie!”

Hy sê: “Dis heerlik, maar ek is alleen!”

Dié beesboer, wat na 37 jaar se getroude lewe van sy vrou geskei is, beskryf homself as gedrewe en gefokus, en iemand wat sy hart op sy mou dra. Hy sê hy sal maklik aanklank vind by ’n “spontane, vriendelike mens.”

Sy moet verder ewe gemaklik saam met hom in ’n woonwa kan wees as in ’n sewester-hotel. “Ek glo met my hele hart ek kan iemand hier ontmoet.”

Eben (29) is ’n wildboer van Dwaalboom, en bederf Minki hierdie week met ’n helikopterrit.

Hy wil graag iemand hê wat by hom kan staan en die lewe saam met hom kan geniet. Hy sê hy sal daarvan hou om “elke oggend vir iemand ‘môre’ te sê en saam met haar te kyk hoe die son opkom.”

Die boer sien uit daarna om ’n kans te waag en meen hy sal maklik vir ’n dame kan wys hoe hy oor haar voel. “Ek is maar ’n emosionele ou,” sê hy.

Adriaan (27), die veeboer van Riversdal, is die laaste boer op wie se plaas die Boer Soek ’n Vrou-bakkie stilhou.

Hy meen die dag toe hy sy studies afgehandel het en terug plaas toe kon keer het vir een van die gelukkigste oomblikke in sy lewe tot dusver gesorg.

Wanneer Minki hom oor die liefde uitvra, is dit baie moeilik om die glimlag van Adriaan se gesig af te vee. “Ek soek rêrig iemand in my lewe. Ek sien uit daarna. Kyk hoe smile ek – ek kan nie ophou lag nie; my wange pyn!”

’n Vriendelike, spontane meisie wat haar eie ding kan doen en boonop vir sy grappies kan lag, gaan dié boer se hart verower. “Ek het ingeskryf vir die regte rede,” sê hy.

KYK OOK: EKSLUSIEF – MINKI: “DAAR GAAN MAGIC WEES” 

Wil jy meer oor vanjaar se boere weet? Loer dan na hul profiele hier onder!

Donderdag om 20:00 hoor ons watter vyf boere het die meeste briewe ontvang – jy wil dit nie misloop nie! Volg ons op Facebook, Twitter en Instagram, en gesels saam by #GroterBeterBoer en #BoerSoeknVrou.