Logo

Boer Soek ’n Vrou: Pret sonder brieke

Nuus
30 November 2017
Het ons boere die regte dames plaas toe genooi? Lees meer oor vandeesweek se episode.
BSV Skoene

FOTO: Gaan die dames Jacques se skoene as trokbestuurder kan volstaan? (Dié oulike stewels is ’n geskenk van die boer)

Die plase wag en die boere staan gereed: Gaan die liefde hier kan blom?

Op Jacques se plaas is daar ’n koue byt in die lug, maar die wete dat drie dames binnekort by hom op die plaas gaan aansluit laat die boer se hart warm klop.

Corné, Danél en Melandri is ewe opgewonde om hul gekose boer in sy wêreld te sien. Die senuwees lol effens, maar die eerste sien ná die groepaktiwiteite is toe nie só erg nie. Corné meen die boer is ’n “gemaklike mens” wat hulle sommer vinnig tuis laat voel.

Jacques besluit om hul bestuursvermoë uit te daag. Vandag moet die dames egter nie ’n gewone plaasbakkie bestuur nie, maar ’n groot blink trok. Dankie tog dis outomaties, maar moenie dink Jacques is nie ’n streng speedcop nie! “Ek het darem gelukkig nie ’n baksteen of twee omgery nie!” lag Danél.

KYK: Hokaai, stop die lorrie – hier kom die dames!

Die boer meen dit lyk op hierdie stadium nie of enige van die dames spyt is dat hulle aan Boer Soek ’n Vrou deelneem nie. “Ek voel vandag soos ’n man wat in die hemel is, want waar in jou lewe gaan jy weer drie vroue onder een dak hê en niemand is kwaad nie.”

Kyk hier na foto’s van die dames wat die boere plaas toe genooi het:

Gallery

Op Johan se werf gaan dit rustiger ná ’n stormagtige tyd aan die Weskus. Dié boer dink Marita, Marinda en Marilyn gaan baie goed met mekaar oor die weg kom omdat hulle al drie oor mooi en goeie kwaliteite beskik. “Ek dink dit gaan ’n baie aangename week wees,” sê die boer.

LEES: Het jy verlede week se episode misgeloop?

Marilyn sê: “Ek dink tot nou toe was ons almal baie rustig gewees, maar ek dink tog op die plaas gaan daar meer kompetisie wees.”

Marinda hoop sy kan die boer se hart wen sodat sy daai wortelkoek (waaroor sy ook vir Johan in haar brief geskryf het) in sy plaaskombuis kan bak. “Ek hoop hy gee my die kans om dit te doen vir hom.”

Hoewel Johan in sy noppies is oor die drie wat hy gekies het, dink hy nie hulle gaan ewe maklik op die plaas kan aanpas nie. Hy sê as hy vir Marinda alleen op die plaas moet los, weggaan en terugkom, sal hy minstens weet die plaas gaan bly staan.

Sonder om te verklap wie, sê die boer dat daar een dame is met wie hy ’n baie spesiale konneksie deel.

KYK: Die kompetisie is dalk sterk, maar Johan bly hoop . . .

Marica, Bianca en Lucinda sien uit om te sien wie boer Ruan is wanneer hy by die huis is. “Kyk hoe stres Ruan!” sê een soos wat die Boer Soek ’n Vrou-bakkie nader ry. Alles op dié plaas is eksie-perfeksie, meen Bianca. “Dis baie netjies en dis baie mooi.”

Lucinda sê: “Hier’s baie liefde in hierdie huis.”

’n Lekker sny sjokoladekoek en ’n handgeskrewe briefie van Ruan se ma is ’n heerlike welkom-verrassing vir die dames.

Die boer sê hy het ’n “lekker kopseer om mee te sukkel”, want ál drie dames is oulik en die keuse wat voorlê gaan moeilik wees. Marica kén plaaslewe, Bianca is ’n regte moederhen en Lucinda het die sterkste persoonlikheid, gesels die boer. “Ek is 100% seker ek het die regte keuse in die Kaap gemaak.”

KYK: Saamwerk en saamlag is ’n wenresep op Ruan se plaas

Braam verwelkom vir Janine, Anene en Yola op sy tamatieplaas, waar hy hoop die liefde gaan wortel skiet. Janine hoop om hierdie week meer van Braam se persoonlikheid te sien. “Hoe hy voel ook goed, hoe hy dink oor goed . . .”

Nadat die boer hulle gewys het hoe om met tamatieplante te werk, sê Anene: “Ek sal nou nie sê dit was kwaai lekker nie, nee, maar as ek dit moet doen dan sal ek dit doen!”

Gelukkig wag daar ’n piekniek langs die dam. Yola sê: “Dit was ’n lekker dag vandag saam met Braam.”

Braam sê sy brein sê een ding en sy hart wil weet “wat maak jy?”. Die boer probeer rustig bly terwyl die stemmetjie in sy kop hom benoud maak, om homself te beskerm. “Ek wil die dinge reg doen hierdie keer.”

KYK: Só het dinge op Braam se plaas verloop

LEES OOK: Ken sy haar boer?

EKSKLUSIEF! Ons het die dames se algemene kennis getoets! Kyk hier:

Op Adriaan se plaas is dit nie net Danelle, Helene en Anzelle wat vandag met ope arms verwelkom word nie – daar is ook ’n welkome reënbui wat neersak.

Dié boer moes na die enkelbed-spaarkamer trek sodat elke dame op ’n dubbelbed kan slaap, maar sê: “Ek doen enigiets vir liefde.”

Die dames is beïndruk wanneer Adriaan hulle aan sy skape voorstel, en veral Danelle hou van hoe “sag” hy met sy diere werk.

Helene meen die feit dat die drie dames so goed oor die weg kom maak die druk erger, al voel nie een van hulle daar is werklik druk nie. Anzelle sê: “Ek dink ons moet net die oomblikke laat tel en die tyd saam laat tel.”

Adriaan is opgewonde oor die week wat voorlê en “die een” wat hy gaan kies. “Maar ek kan nog nie sê watter een nie!” lag hy.

KYK: Adriaan het ongetwyfeld ’n passie vir skape – iets wat die dames eerstehands ervaar

Donderdag om 20:00 is dit tyd vir ’n nuwe episode! Kyk hier wat voorlê.Volg ons op FacebookTwitter en Instagram, en gesels saam by #GroterBeterBoer en #BoerSoeknVrou