Logo

Boer Soek ’n Vrou: Blitsliefde

Nuus
16 November 2017
Lees hier watter vyf dames die boere ná die blitsafsprake van nader wil leer ken.
BSV Boere Blits

Ons top-vyf boere! FOTO: Donna Lewis

Vandeesweek kom ons hubare manne in Saldanha tot die besef dat dit dalk makliker mag wees om te boer as om ’n lewensmaat te kies – veral wanneer jy nét vyf minute met elk van jou tien gunsteling-briefskrywers het.

Vyf minute, sal sommiges sê, is maar min tyd. Vir ander is ’n aksiebelaaide blits-ontmoeting weer presies waarop hulle gehoop het. “Ek is bly dis net vyf minute,” sê Ruan. “Dis vir my genoeg tyd.”

LEES OOK: Onthou julle nog dié skreeusnaakse oomblik uit seisoen 9?

Braam het as oefening ’n onderhoud met homself gevoer en was binne twee minute uitgepraat. “En daai twee minute het soos ’n uur gevoel!” lag die boer.

Maar sodra die kameras rol, lol die senuwees en word al die aksie vasgevang: Afspraak-angs, skaam drukkies en benoude geselsies. Van hulle babbel en kom soos ’n bom oor die weg; by ander slaan die sweetdruppels uit en die woorde droog op.

Dan is alles verby en loer Minki weer by die boere in: “Julle is dan nou nóg stiller as vanoggend!”

Dis egter ’n algehele gevoel van tevredenheid wat hul tonge gesteel het, en die meeste meen hulle is vandag aangenaam verras. “Ons is nou so tevrede, dis hoekom ons so stil is!” sê Adriaan.

Ruan sê: “Ek voel baie verlig en ek sien uit om van hulle beter te leer ken. Dit gaan ’n moeilike besluit wees. Die meisies het baie mooi persoonlikhede.”

Braam se aandag is veral deur een of twee dames getrek: “Wat waardes betref en persoonlikheid en dan ook looks-gewys het daar definitief van hulle uitgestaan.”

Op sy op-die-man-af-manier sê Jacques: “Daar is een. Daar is een van die tien wat kop bo water uitstaan.”

Drie dames het Johan se maag laat bollemakiesie slaan, en “as dít die drie is wat plaas toe kom, het ek moeilikheid!” lag die boer.

KYK OOK: ‘HIERDIE AUNTIE ROOK NIE’ 

Dan word dit tyd vir die boere om die ding gedoen te kry – net vyf dames kan voortgaan met die proses.

Adriaan gaan vir Marion, Anzelle, Helene, Leonie en Danelle van nader leer ken.

Braam wil langer as vyf minute met Janine, Alexandra, Anene, Yola en Michellé deurbring.

Jacques kies vir Danél, Carla, Melandri, Corné en Lu-Mari.

Johan se gekose dames is Marilyn, Marita, Marinda, Christa en Zelda.

Ruan het vir Jolizna, Gwen, Marica, Bianca en Lucinda gevra om langer te bly.

Ons top-5 boere blik terug op die blitsafsprake:

Donderdag om 20:00 kies die boere elk drie dames wat saam met hulle plaas toe gaan. Daar is ook ’n verrassing of twee vir die kykers én die boere! Volg ons op Facebook, Twitter en Instagram, en gesels saam by #GroterBeterBoer en #BoerSoeknVrou.