Logo

Boer Soek ’n Vrou 9 in ’n neutedop

Nuus
13 Januarie 2017
Wat ’n seisoen was nommer 9 nie! Boer Soek ’n Vrou-kykers het saam met ons boere, dames en Minki gelag en saam gehuil. Ons kyk terug.
BSV 9 Reeksopsomming

Wat ’n seisoen was nommer 9 nie! Boer Soek ’n Vrou-kykers het saam met ons boere, dames en Minki gelag en saam gehuil. Ons kyk terug.

In die eerste episode het aanbieder Minki Joubert ons tien boere – Johan, Pieter, Rob, Leon-Fritz, Cornè, Arno, Wessel, Johannes, Hennie en Erhard – vir die eerste keer in lewende lywe ontmoet.

In episode 2 het Minki posduif gespeel en die briewe, wat dames van regoor die land vir die boere geskryf het, by die plase afgelewer. Arno, Johannes, Leon-Fritz, Hennie en Rob het die meeste briewe ontvang het dis dié vyf wie se liefdespad kykers oor die volgende episodes op die kassie gevolg het.

Van briewe na blitsafsprake – die top-vyf het elk tien vroue uit hul briewe gekies en in episode 3 het hulle die kans gekry om die briefskrywers van nader te leer ken. Vyf minute is dalk min, maar ons boere het die tydjie goed benut en aan die einde van die episode bekend gemaak watter vyf vroue hulle beter wil leer ken.

Die uitstappies in episode 4 was egter nie net pret en plesier nie, want vyf moes drie word – ’n keuse wat vir ’n paar van ons boere beslis nie maklik gekom het nie.

Hennie het vir Elizbé, Chantelle en Marléne saam plaas toe genooi, Leon-Fritz vir Tanya, Marna en Chanté, Rob vir Estelle, Elizna en Maureen, Arno vir Mareli, Jenny en Jacobu, en Johannes vir Marlu Marga en Danielle. Marlu het egter die boer se uitnodiging van die hand gewys.

In episode 5 was dit tyd vir plaaspret, en ons boere het die drie dames van hul keuse op hul plase verwelkom. Arno het besluit hy gaan sommer elke vrou soengroet, “laat ons sommer nou al kyk wie soen die lekkerste.”

Hy het egter “meer wange gesoen as wat ek lippe gesoen het”.

Jacobu het gelag en gesê sy kan nie op TV sê Arno soen lekker nie: “My ma kyk dit!”

In die volgende episode het die boere ál meer bewus geraak van die moeilike keuse wat voorlê. Hoewel ons boere meer ernstig geraak het, was daar darem nog tyd vir pret en plesier.

Hennie het die vroue elk ’n kans agter die stuurwiel laat waag toe hulle ’n 4x4-roete aangedurf het. “Hoekom keer jy so? Jy is soos my ma!” het Marléne gespot.

Leon-Fritz het die vroue met ’n spa-besoek en kabelkarretjie-rit verras, Rob-hulle was heeldag op die plaas doenig, Arno het die dames geneem om leeus van nader te bekyk en vir Johannes was wynproe en wyn op die agenda.

Op Johannes se plaas het dit egter begin lyk asof die drie sukkel om mekaar te verstaan. Op ’n stadium het Marga gesê: “Jy het dan gesê ek praat te veel.”

“Dis nie wat ek gesê het nie! Ek het maar net bedoel om te sê jy was baie op jou senuwees,” het die boer gesê.

Marga het gesê Johannes het dit verkeerd opgeneem.

Die volgende dag was die vure nog nie heeltemal geblus nie, maar Johannes het nogtans vir Danielle en Marga gevra om bietjie langer op die plaas te bly. Beide het ingestem. “Daar is nog steeds ’n belangstelling,” het Marga gesê.

Op die ander plase was dit tyd om te groet. Estelle het gesê sy het verwag dat Rob haar gaan huis toe stuur. Op Arno se plaas het Mareli ook ’n voorgevoel gehad.

Leon-Fritz het vir Tanya gegroet – ’n besluit wat Marna glad nie sien kom het nie.

Elizbé was verbaas toe Hennie vir Marléne huis toe gestuur het.

“Ek moes my instink volg,” het Hennie gesê. “Dit help nie ek gaan soek gevoelens wat nie daar is nie.”

Met net twee dames oor op die plaas het die boere hulle aan hul naastes voorgestel.

Die aand om die braaivleisvuur het dinge vir die boere in perspektief geplaas, want die volgende dag kon hulle alleentyd met die vroue deurbring. Vir vier van die boere was dit tyd vir diep gesels – om hopelik duidelikheid te bring.

Johannes het egter die tyd gebruik om oop kaarte met Marga en Danielle te speel. “Dit help nie om dinge uit te rek nie,” het hy gesê, en albei huis toe gestuur.

Dit was ’n emosionele dag vir Hennie, Rob, Leon-Fritz en Arno toe hulle finaal moes besluit watter vrou gaan agter bly.

“Ek is moeg. Ek is bly dit is nou verby,” het Jenny gesê voor sy Arno se plaas verlaat het. Marna het vrede in haar hart gehad toe Leon-Fritz sy keuse bekend gemaak het. “Chanté is ’n ongelooflike meisie,” het sy gesê.

Op Rob se plaas het die trane gevloei. “Ek sal hulle (Rob en Maureen) graag wil saam sien,” het Elizna vir Minki gesê. “Selfs die honde het al gekies.”

Chantelle het gedink Hennie gaan haar huis toe stuut en was geskok toe sy hoor dis eintlik Elizbé wat gaan.

In die volgende episode het die boere hul plase verlaat om by die dames aan te sluit en hulle wêreld en mense beter te leer ken.

Maureen het egter nie saam met Rob by die vakansieweek opgedaag nie – al het die boer goed met haar naastes oor die weg gekom. Rob het gesê Maureen is “lieflik”, maar nie die een saam met wie hy die res van sy lewe wil spandeer nie.

Cornè, een van die boere wat nie genoeg briewe ontvang het nie, en Pauline, ’n vrou wat vir hom geskryf het, is smoorverlief en het by die res van die boere in Mosselbaai aangesluit.

Leon-Fritz en Chanté het besluit hulle wil net vriende bly. “Daar is ’n verskil tussen die perfekte persoon en jóú perfekte persoon,” het Chanté gesê.

In episode 13 het ons afskeid geneem van seisoen 9 se boere met ’n reünie. Kyk hier hoe dit afgeloop het.

Dankie aan al ons kykers vir die saamkyk – tot volgende keer!