Logo

Boer Carl vind sy duifie

Nuus
02 Februarie 2018
Carl boer in sy vrye tyd met duiwe en nou koer hy alte lekker met sy duifie in die werklike lewe, Danél.
BSV_Carl

FOTO: Verskaf

Ons bel vir Boer Carl vroeg een oggend, maar g’n antwoord nie. Dis te verstane, want inteenstelling met sy ontspanne tyd op die kassie, is hy druk besig om te boer. ’n Boer maak egter ’n plan en ’n uur of wat later bel Carl terug met sy kenmerkende kristalhelder stem. “Ek bel maar al die nommers wat ek nie ken nie. ’n Mens weet nooit of dit ’n kliënt is vir die beeste nie, jy weet.”

Wil jy ook ware liefde vind? Skryf hier in vir seisoen 11.

 

Die skaap- en beesboer van Carnarvon weet egter waarom ons bel. Dit gaan oor die borrelende blonde onderwyseres van Vredendal wat vir die afgelope drie en ’n half maande aan sy sy is – Danél. Sy het aanvanklik vir Boer Jacques van Loeriesfontein ingeskryf en kykers was ontstook toe die boer haar op die kassie afsê. Sy was egter nie lank in sak en as nie en deesdae vergelyk kykers hulle met die immergewilde-paartjie Hennie en Jacobu van die negende seisoen van Boer Soek ’n Vrou. Nes dié paartjie het hulle liefdesverhaal ook nie voor die kassie afgespeel nie. 

Leer ken die nuwe Boer Soek ’n Vrou-aanbieder van nader

Carl vertel dat hul eerste ontmoeting by ’n Vredendalse restaurant was. “Hoewel dit ons eerste ontmoeting was, het dit gevoel of ons mekaar al jare ken. Die senuwees het geknaag, maar dit het als verdwyn toe ons begin gesels het. Inteendeel, ons het so lekker gesels dat ons nooit  eers uitgekom het by die kos nie!” skerts hy. Na dié ontmoeting, het Danél vir Carl genooi vir koffie by haar huis, waar hulle verder gekuier het. “Toe ek by haar wegry, het my hart vinniger geklop, en het ek geweet: sy is die een vir my!” 

Hulle het gou besef dat hulle dieselfde belangstellings deel soos familie, vriende, asook die Boer Soek ’n Vrou-ervaring. Dit is ook wat die grootste deel van hulle eerste gesprek uitgemaak het. “Soos die tyd verloop het, het die kuiers en geselsies meer geraak en ek het tot die besef gekom dat hier potensiaal is vir ’n langtermyn verhouding.”

Skryf hier in vir Boer Soek ’n Vrou 11.

 

Ons wou by Carl uitvind wat dit is van Danél wat sy aandag gevang het en hy verwys terug na sy Boer Soek ’n Vrou aansoekbrief waarin hy die volgende geskryf het: “Ek sal my ideale maat beskryf as iemand met goeie beginsels en waardes, met ’n warm persoonlikheid en wat spontaniteit uitstraal. ’n Verhouding met die Here is vir my belangrik en is die hoeksteen van enige verhouding. En dít is presies wat ek in Danél gevind het.”

KYK: Boer Carl se bekendstellingsvideo

Hy erken dat buiten vir Danél se mooi glimlag en potblou oë, is die grootste aantrekkingskrag vir hom haar menswees, spontaniteit en goedhartigheid. “Ek het van die begin af gehou van wat ek sien, uiterlik en innerlik. Sy is vir my die volledige pakket.”

Gelukkig is die afstand tussen Carnarvon en Vredendal vir Carl “relatief” en ’n paar honderd kilometers op ’n grondpad “niks as ’n man verlief is nie”. Die paartjie sien mekaar glo elke tweede naweek. “Ons albei is baie lewenslustig en hou van nuwe dinge aanpak. Ons besoek gereeld nuwe plekkies, restaurante en spandeer tyd saam met die mense vir wie ons omgee. Wanneer Danél by my op die plaas kom kuier, ry ons op die plaas rond en sy help my selfs skape en beeste voer.”

Carl en Danél deel ’n liefde vir restaurante. 

Sy ouers is net so ingenome met die nooi aan sy sy. “Ek weet dat hulle baie bly is dat ons twee se paadjies gekruis het en dat ons mekaar gevind het. Hulle waardeer haar vir die mens wat sy is en met haar persoonlikheid en geaardheid kan jy kan nie anders as om vir haar lief te raak nie. Partykeer dink ek my ma is meer opgewonde as ek, maar ek is geseënd met ouers wat net die beste vir my wil hê.”

Tog kom hulle nuutgevonde roem met ’n paar vreemde vrae. Daar was by meer as een geleentheid ’n aanhanger wat wou weet of Danél dan nie nou by die verkeerde boer kuier nie. “Ons het maar lekker gelag en maar net gesê: ‘nee’."

Carl sal beslis ander boere aanmoedig om in te skryf. “Veral boere wat op afgeleë dorpe woon, wat maar min blootstelling het tot die skoner geslag. Boer Soek ’n Vrou bied ’n platform om nuwe mense te ontmoet wat jy nie anders sou (ontmoet) nie. Dit is baie blootstelling en mens leer baie van jouself en ander. As jy nie die kans vat nie, sal jy nooit weet nie. En dit het vir my baie goed uitgewerk."

Hy verklap dat hy baie opgewonde is oor hom en Danél en die pad vorentoe. “Daar is ’n opgewondenheid om tyd saam met mekaar te spandeer en om mekaar net nóg beter te leer ken. Ons glo en vertrou dat wat moet gebeur, sal gebeur.”

Dit lyk asof die paartjie mekaar al jare ken.

Of daar ander Boer Soek ’n Vrou-deelnemers op hul troue gaan wees, sal net die tyd leer. “Indien wel, sal ek vir seker die ander deelnemers nooi. Daar het ’n hegte band en vriendskap tussen ons gevorm gedurende dié tyd wat ons vir altyd sal koester. Dit sal dan soos ons eie ‘n mini-Boer Soek ’n Vrou-reünie wees!”

Inskrywings vir Boer Soek ’n Vrou 11 is nou oop – skryf hier in.