Logo
Binnelanders S13 Slim BB Updated November 2023
web uni tv guide

Binnelanders

144Drama13

Welkom by die Binnelanders-familie

Nuus
11 Junie 2018
Van Junie af is daar heelwat nuwe dinge om na uit te sien in Binnelanders.
Binnelanders

Dié nuwe, sowel as reeds bekende gesigte, wat in die gange van Binneland Kliniek kom draai, gaan sorg vir vuurwarm vermaak in die koue wintermaande.

Terwyl almal nog wonder of Monique Cilliers vertrou kan word, is Elani Dekker kliphard aan die skiet aan Toorbos in Knysna. Die aktrise is nie ’n onbekende onder fliekgangers nie, aangesien sy reeds op die grootskerm aandag getrek het in Jou Romeo (saam met eks-Binnelanders akteur Ruan Wessels in die hoofrol), en Vaselinetjie (as die ouer weergawe van die karakter Pizzaface). Monique is huidiglik aangestel as die persoonlike assistent van At Koster (Hans Strydom), maar dit raak al hoe duideliker dat haar fokus nie op die grootbaas van die hospitaal is nie. Op Woensdag, 27 Junie, lig sy die sluier oor wie sy werklik is, wanneer sy ‘n eerlike gesprek met Lika Bosch (Lea Viviers) het – en dié onthulling gaan nog groot nagevolge inhou.

Lea Vivier, wat ook te sien was in die kykNET-komedie Mense Mense as Salomé, en is ook te sien in die rolprent Wonderlus wat in April in teaters begin draai het. Lea is ook nie heeltemal ’n onbekende aan Binnelanders-aanhangers nie: sy het reeds in Januarie haar eerste verskyning gemaak as die karakter Lika Bosch, ’n verpleegster by ’n privaatkliniek wat omgesien het na Jana Koster (Brümilda van Rensburg) en duidelik ’n indruk gemaak op At. Op Maandag, 18 Junie, kontak Karli du Preez (Pascal Pienaar) weer die bekwame verpleegster om haar ’n guns te vra – maar dalk is Karli se oproep ondeurdag. Kort voor lank is Lika sak en pak terug in Pretoria – maar waar is Jana dan?

Chanel Sameuls, gespeel deur Lindsey Abrahams, daag ook sak en pak op in Pretoria op Woensdag, 18 Julie, om aan te sluit by die personeel van Binneland Kliniek. Chanel se pa is ou vriend van Steve, maar terwyl die drama hoogty vier in die Kongo, het Steve en Lexi skoon vergeet van dié verpleegstertjie se aankoms. Die arme Chanel daag op voor dooiemansdeur, en gaan bitter vining ’n plan moet maak om ’n heenkome te vind.

Lindsey was voorheen te sien as Chantel Davids in die kykNET-dramareeks Knapsekêrels, asook die verhoogstuk Kinnes wat by KKNK 2018 opgevoer is, en het ook al ’n draai in Ruiterbosch gemaak toe sy die rol van Lauren vertolk het in Suidooster.

Maar dit is nie net oorgehaalde persoonlike assistente en verpleegpersoneel wat aanmeld vir diens by Binneland Kliniek nie. Ilne Nienaber, wat vir ’n geruime tyd nou al te sien is as dr. Elana Bester, sluit ook permanent aan by die rolverdeling van Binnelanders. In Julie gaan hierdie dokter se staal wel getoets word wanneer sy saam met dr. Steve Abrahams na die Kongo vertrek. By die veldhospitaal aangekom, is dr. Jax Davids nie die enigste verrassing wat op hulle wag nie. Te midde van etniese geweld in die land is daar ook ’n raaisel of twee om op te los – mits die raaisels natuurlik nie hul lewens as offerandes vra nie.



Kim Syster maak haar buiging in Binnelanders op Vrydag, 20 Julie, as Jax – en sy is beslis nie ’n dokter wat jy sonder handskoene wil aanpak nie. Behalwe dat sy haar man beslis kan staan onder enige omstandighede, is sy ook ’n vrou wat respek afdwing – en nie net omdat sy genoodsaak is om die bestuur van dié veldhospitaal oor te neem nie. Jax het ook ’n geheim wat sy ten alle koste wil en moet beskerm, en dit gaan beslis besluitnemings beïnvloed wanneer Elana en Steve agterkom wat hierdie geheim is.

Jax is darem nie alleen aan die stuur van sake in die Kongo nie: sy word ondersteun deur dr. Charles Johnson (gespeel deur Conrad Kemp), ’n reisende chirurg wat vir die laaste ses maande by die veldhospitaal in die Kongo is. Charles is nie iemand wat hou van magspeletjies nie, en sy hoofdoel is om na die pasiënte om te sien – al kos dit hom ook ’n bietjie van sy siel…

Pietie Beyers gaan ook weer die rol van dr. Deon Visser vertolk vanaf Vrydag, 27 Julie, wanneer Jana se peetkind se lewe in gevaar is. Deon het Binneland Kliniek ’n jaar terug gegroet om sy heil te gaan vind in die opwinding van avontuur en genesing toe die karakter aangesluit het by Dokters sonder Grense (MSF). Maar of dit nog presies dieselfde blinkoog Deon is wat ons ’n jaar terug gesien het, sal net die toekoms ons leer…

Deon is nie die enigste bekende man wat weer ’n draai kom maak in Binnelanders nie: Bradley Olivier is ook vir ’n wyle terug as Danny Jantjes. Danny is ’n paramedikus wat nie nonsens vat nie – indien dit nog nie duidelik was gedurende Steve en Bronwyn Abrahams (vertolk deur Kim Cloete) se doodsnikke van hul huwelik nie. Bronwyn se broer hou ’n ogie oor Lexi (gespeel deur Kisha Skeï), maar raak ook so meer betrokke by die wel en weë van die personeel van die privaatkliniek. 

Terug in Pretoria ontmoet ons ook uiteindelik vir Boeta Ferreira (gespeel deur Eduan van Jaarsveld) wanneer hy en vroulief Renate (gespeel deur Sandra Vaughn) na hul tienerdogter Trudie (nuweling Daniah de Villiers) moet begin soek op Woensdag, 20 Junie. Trudie verdwyn soos ’n grootspeld wanneer sy wegloop by die skool, en dit raak nog erger wanneer almal besef sy is dalk nie so straatwys soos wat sy dinkn nie. Die meisiekind verdwaal nie net in die middestad van Johannesburg nie, maar maak ’n paar keuses wat heelwat ouers slapelose nagte sal gee.

Die gekompliseerde verhouding wat daar reeds heers tussen Okkie (Ben Kruger) en sy seun Boeta word later in die maand verder gevoer wanneer Boeta ’n renosterhoring in die hande kry, en At Koster se wildsplaas ook deel word van die nuwe intrige.  

Hierdie dramatiese storielyne gaan die Binnelanders-kykers wegneem van die hospitaal, en hulle aan die ongenaakbare omstandighede van die Kongo - asook die ongereptheid van At Koster se wildsplaas en Johannesburg se middestad – blootstel. Die buitetonele, wat vir die eerste keer weer deel word van die storievertelling in die reeks sedert Binnelanders destyds ’n uurlange weeklikse drama was, is in en om Johannesburg verfilm.

Die winter mag jou dalk reeds skrik op die lyf gejaag het, maar die nuwe gesigte in Binnelanders gaan beslis sorg vir witwarm aksie om jou knus voor die kassie te hou.

Die nuwe seisoen van Binnelanders skop af 11 Junie om 19:30 af – maak seker jou PVR is gestel.

Binnelanders word elke weeksaand om 19:30, slegs op kykNET (kanaal 144 op DStv), uitgesaai.