Logo
Alles Malan
web uni tv guide

Alles Malan

144DramaPG13

Die Malans is terug – Alles Malan

Nuus
25 Oktober 2021
Alles Malan begin op Dinsdag 30 November om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).
Alles Malan S2

Dit voel soos familie wat terugkeer ná ’n lang vakansie. ’n Blye weersiens van geliefdes. Toe die laaste episode van die eerste reeks van Alles Malan in 2019 uitgesaai is, het kykers immers reeds gesê: Ons is lank nog nie klaar gekuier by die Malans nie.

Die goeie nuus is dat die tweede seisoen van Alles Malan op 30 November begin. Al die gewilde karakters is terug, maar soos met alle goeie familiedramas, is daar meer as genoeg kinkels in die kabel om kykers vir dertien episodes vasgenael te hou.

Veteraan-akteurs Albert Maritz en Elsabé Daneel is weer te sien as Derik en Brenda Malan. Ivan Zimmermann is die oudste seun Frik en Nadia Valvekens is sy vrou, Tessa. Hulle twee kinders, Elani en Freek, word onderskeidelik deur Greteli Fincham en Mateo Olivier gespeel. Sean-Marco Vorster is die jonger Malan-seun Nico en sy vrou, Lee-Anne, word vertolk deur Nicole Fortuin.

Die regisseurs is Corné en René van Rooyen en hulle het die reeks saam met Leon Kruger en Retief Scholtz geskryf.  
“Ons toets en beproef die Malans se familieverhoudings nog dieper,” sê René. “Nico en Lee-Anne het ’n eersteling op pad en Frik sukkel met ’n falende Malan Vervoer terwyl Tessa se loopbaan floreer. Daarmee ondersoek ons die veranderende manlike rol in baie hedendaagse Afrikaanse gesinne. Wat is die rol van die moderne pa? Wat gebeur as ’n vrou meer as haar man verdien? Intussen probeer Brenda die sakewêreld betree, Elani se hart is in twee geskeur tussen twee mans en Freek is verlief op die gewildste meisie in die skool, maar hy moet haar eers uit die kloue van ’n ander seun kry.”

Die skrywers het stories uit hulle eie families as inspirasie gebruik.
“Die belangrikste van die teks is dat dit eg persoonlik, maar alledaags moet wees. Stories waarmee ons, asook die gehoor, moet kan identifiseer,” sê Corné. “Ons en die kykers moet dus onsself in die verskeie tonele kan sien.”

Die Van Rooyens se dogter, Hannah, was net drie maande oud toe die verfilming van Alles Malan begin het. Het ouerskap hulle anders na familie laat kyk?
“Sjoe, ja,” sê René. “Dit was ’n lewensveranderlike ervaring. Ek en Corné het beurte gemaak om die regie te doen. Een dag was hy op stel en ek het by die huis gewerk, die volgende dag het ons rolle geruil. Met werksdae van 12 ure en babatjies wat nooit slaap nie, het ons nuwe respek vir ouers gekry, maar ons het ook besef dat sonder ’n sterk ondersteuningsbasis in jou familie, sou hierdie nie moontlik gewees het nie.”

Die nuwe seisoen is, soos die vorige, in en om Paarl en Wellington verfilm.
“Drakenstein Munisipaliteit het groot moeite vir ons gedoen,” sê Corné. “Hugenote Hoërskool in Wellington het weer uit hulle pad gegaan en gesinne het hulle huise vir ons oopgemaak. Paarl is ’n uiters warm en verwelkomende dorp. Ek glo daar is min plekke waar mens so ’n ondersteunende en goeie filmervaring sou hê.”

Enige hoogtepunte met die verfilming?
“Dit was heerlik om al die Malans weer onder een dak te hê,” sê René.  

Alles Malan begin op Dinsdag 30 November om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).