Logo
Silwerskermfees SP BB NEW

kykNET kondig die TV-benoemings vir die eerste Silwerskermfeestoekennings vir Film en Televisie aan

News
28 Junie 2023
Vir die eerste keer deel kykNET ook Silwerskermfeesbeeldjies aan die akteurs, aanbieders en persoonlikhede uit wat tussen 1 April 2022 en 31 Maart 2023 vir puik televisievermaak gesorg het.
Silwerskermfees 2023 SSF Benoemings Social Image

kykNET se Silwerskermfees in Kampsbaai sluit gewoonlik met ’n glansryke toekenningseremonie af waartydens die fees se beste films vereer word. Vanjaar is dié spoggeleentheid dubbel die grootte en nóg blinker, want vir die eerste keer deel kykNET ook Silwerskermfeesbeeldjies aan die akteurs, aanbieders en persoonlikhede uit wat tussen 1 April 2022 en 31 Maart 2023 vir puik televisievermaak gesorg het. 

Boonop kan televisiekykers elke oomblik van die eerste en skouspelagtige kykNET Silwerskermfeestoekennings vir Film en Televisie meemaak. Die gala-aand, wat op Saterdag 26 Augustus by die CTICC in Kaapstad plaasvind, is ook ’n televisie-opname wat die volgende aand (Sondag 27 Augustus) om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144 uitgesaai word. 

Die CTICC se 1200-sitplek ouditorium gaan volgepak wees met die bekendste gesigte en grootste name op ons skerms, uitgedos in spoggerige uitrustings. Tussendeur al die senuwees wat knaag voor die wenaankondigings en die kenmerlike trane van blydskap van sulke seremonies, gaan die land se top Afrikaanse musiekkunstenaars ook die verhoog aan die brand sing. 

“Dit is tyd dat ons naas die voortreflike werk in film ook uitsonderlike prestasies in televisie op ons kykNET-kanale vier,” sê Waldimar Pelser, M-Net-Direkteur: Premium Kanale. “Sonder dié uitsonderlike talent kan ons nie ons kykers vasgenael voor die kassie hou nie. Dit is ’n voorreg om vir hulle met die benoemings en toekennings dankie te sê.”

Die TV-deel van die Silwerskermfeestoekennings vir Film en Televisie strek oor ’n allemintige 20 kategorieë. Daarbenewens is daar toekennings vir lewensbydraes . Die legendes aan wie daar só hulde gebring word, is die geliefde akteur Cedwyn Joel, Freek Robinson, wat ons al vir 40 jaar die hoogste standaard stel en handhaaf in die nuusmedia, en die vervaardiger André Scholtz, wat al meer as ’n halfeeu films maak. Scholtz se toekenning sal die Saterdagoggend by die Silwerskermfees se Tegniese Toekennings in Kampsbaai oorhandig word. 

Alhoewel ’n onafhanklike paneel kundiges moet koppe krap om die Silwermfees vir Film en Televisie se wenners te bepaal, kan kykNET-kykers hul sê in twee van die televisiekategorieë sê: Die TV-oomblik van die jaar en die Persoonlikheid van die Jaar

Om te stem, moet jy jou keuse maak op die kykNET-webwerf. Dié kykerstemme sluit op 31 Julie 2023.

Wat was vir jou die TV-oomblik van die jaar? Besluit self uit die volgende benoemings: toe ons in Binnelanders gehoor het dat aartskurk At, wat al van die begin van die reeks vol skelmstreke was, skielik oorlede is; ’n kleinding se skattige beskrywing oor skoolgaan op Kyk wie praat; Dian wat hoor dat hy sy sout werd was om Plaasjapie se wenner te wees; Mnr. En Mevrou Samsodien se troue op Suidooster; die spanningsvolle kinkel in die kabel in Spoorloos 4: Die Eiland se slottoneel. 

Die vyf moontlike persoonlikhede van die jaar is Op My Eish! se Francois Jacobs; Jonathan Rubain van KoortjiesDie Real Housewives van Pretoria se Kiki La Coco; dieselfde Housewives-reeks se paartjie Mel en Peet Viljoen; en Nataniël

Onder die ander benoemings staan Hannes van Wyk se vele talente uit. Hy is benoem vir sy spel in ’n komedie (Magda Louw), sy ondersteundende rol in ’n drama (Spoorloos 4: Die Eiland), asook vir sy aanbiederswerk in die  leefstylprogram Kwêla

Edwin van der Walt het ook bewys dat hy ’n akteur van formaat is met twee benoemings as beste akteur in ’n drama – vir sy toneelspel in Fraksie én Donkerbos.

Die benoemings vir die Silwerskermfees se films sal eers aan die einde van hul vertonings by die fees aangekondig word. 

Gesels saam oor die Silwerskermfees op Twitter, Facebook en Instagram – @silwerskermfees.co.za en gebruik die hutsmerk #silwerskermfees. 

Klik hier vir die Silwerskermfees vir Film en Televisie se volledige lys TV-benoemings.