Logo
slim BB kwela
web uni tv guide

Kwêla

144TydskrifprogramPG13 VL

Willem Botha: Die vreeslose dromer

Nuus
27 Oktober 2017
Hy is nie net ’n talentvolle sanger nie, maar ook Kwêla-veldaanbieder en voormalige aanbieder van chatNOU!. Nou verwelkom ons Willem Botha as die nuutste toevoeging tot Die Top 20.
WillemBotha-8

Die kykNET-liefling Willem Botha het geen bekendstelling nodig nie. Of dit nou op die verhoog is met ’n skare voor hom, of in die veld as aanbieder van kykNET se joernaalprogram Kwêla, het hy nou eenmaal ’n manier om vinnig-vinnig in ’n mens se hart in te kruip, en jou op jou gemak te laat voel.

Op 27 Oktober 2017 is hy as nuwe aanbieder van kykNET NOU! se gewilde musiektrefferprogram Die Top 20 aangewys, en tydens dié inhuldiging het dit net meer duideliker geraak dat geen uitdaging dié talentvolle jong man kan afskrik nie.

Maar hoe is hy só gemaklik in al dié verskillende rolle?

Willem vertel dat hy nog altyd ’n groot aanhanger was van Die Top 20. “Hoewel ek ’n aanbieder by Kwêla én Die Top 20 is, verskil die tipe styl van aanbieding heeltemal.” Hy neem volle leisels oor by Die Top 20 se oorspronklike aanbieder, Francois Nolte, en sê dat hy dankbaar is vir die wonderlike geleentheid.

“Dis vir my altyd so belangrik om dinge te doen wat my buite my gemaksone druk, en my toelaat om te kan leer,” sê hy.

Vir hom is die geleenthede vir Afrikaanse kunstenaars en bands eindeloos. “Ek dink ons bedryf was nog nooit so sterk soos nou nie. Die gehalte van musiek, en veral video’s, is só goed.”

Sy vars blik op die Suid-Afrikaanse musiekbedryf beloof om kykers Vrydaeaande vasgenael te hou voor die kassie. “Natuurlik het ons nie die begroting van lande soos byvoorbeeld Amerika nie, maar ek voel nie ons Afrikaanse kunstenaars hoef ooit terug te staan wat talent aanbetref nie.

 

“Ek dink ek is verslaaf daaraan om kreatief te wees.”

 

“My groot liefde sal altyd sang bly,” sê hy. Sedert hy as naaswenner van Afrikaanse Idols in 2006 gekroon is, lyk dit of dié jong sanger, en nou ook aanbieder, terugstaan vir niks. Maar vir hom verskil sy rol van aanbieder heelwat van sy rol as kunstenaar. “Dis lekker om ná 11 jaar in die bedryf nóú ’n nuwe baadjie aan te trek en soveel te kan leer van aanbieding. Die lekkerste deel daarvan is om al die verskillende mense te ontmoet en hulle storie aan die land oor te dra.

KYK OOK: Willem Botha en die blonde rabbedoe

Natuurlik het Willem ’n baie besige skedule, maar hoe handhaaf hy ’n gebalanseerde leefstyl? “Ek dink ek is verslaaf daaraan om kreatief te wees,” verduidelik hy. “En dis hoekom ek so geniet wat ek doen.

“Ek weet dis ’n groot voorreg om te kan doen wat ek doen, en daarom vat ek dit nooit as vanselfsprekend nie. Omdat ek so geniet wat ek doen, voel dit bitter selde soos werk.”

Kan iemand met só ’n besige skedule nog op sy voete dink? Ons vind uit:

Wat verkies jy: ’n Tempo-toekenning vir beste aanbieder, of ’n nommereen-treffer?
Oef... Dis moeilik. Maar daar is niks so lekker as om ’n nommereen-treffer te hê nie. Veral as jy die liedjie self geskryf het.

Sal jy eerder al jou hare afskeer of 15 kilogram optel?
My hare afskeer...

As jy musiek kan maak in enige ander genre, watter van die volgende sou jy verkies: RNB, Kwaito of Gospel?
Gospel-musiek het altyd die mooiste melodies. Vir een of ander rede laat dit my altyd na die plaas en my familie verlang.

Wat is die top-5 liedjies waarna jy tans in jou kar luister?
Pink – “I Am Here”
Pink – “What About Us”
Tim McGraw – “Love Runs”
Kelly Clarkson – “Love So Soft”
Bruno Mars – “Versace On The Floor”

Wie is meer ikonies en hoekom – Madonna, Lady Gaga of Beyoncé?
Beyoncé. Ek dink baie mense sal seker Madonna kies, maar ek is ’n groot Beyoncé fan. Ek hou van hoe ’n veelsydige kunstenaar sy is. En ek haal my hoed af vir haar omdat sy altyd haar privaat lewe privaat hou.

Soen jy op die eerste afspraak?
Hahahaha...! Dit hang af van hoe goed die aand verloop, maar ek is meeste van die keer te skaam.

Watter kunstenaars moet op ons radar wees?
Daar is só baie. Ek is mal oor Spoegwolf. Stephantasties wat saam met my op chatNOU! was bring nou vir die eerste keer nuwe solo-musiek uit wat, baie, baie goed is vir my. En dan ook iemand soos Caroline Grace.

Saam met watter plaaslike kunstenaar sal jy graag ’n duet wil doen?
Ek sal graag ’n powerful duet saam met iemand soos Leah, Caroline Grace of Tarryn Lamb wil doen.

En wat van ’n internasionale duet?
Hoe baie tyd het julle? Ek is mal oor country-musiek – dis omtrent al waarna ek luister. Tim Mc Graw, Hunter Heys, Maren Morris of Keith Urban. Maar die hoogtepunt van my loopbaan sal wees om eendag saam met Carrie Underwood te kan sing.

As iemand ooit ’n fliek oor jou lewe sou maak, wie sal jy wil hê moet die temalied sing?
Dalk iemand soos Niall Horan van One Direction...

Wat sal die naam van jou outobiografie wees?
Willem Botha – Ek’t gedroom en toe gewerk!

MOETKYK: Ons vat vyf met Willem Botha – kyk die video hier onder:

Willem Botha bied elke Vrydag om 20:00 Die Top 20 op kykNET NOU! aan. Gebruik die hutsmerk #kykNETTop20 op sosiale media en gesels saam.