Logo

Tiaan Onthou... om weer soos ouma te kook

Nuus
30 Augustus 2018
Lees meer.
Tiaan Onthou Article Banner_1600 x 640

Op 1 Oktober begin Tiaan Onthou waarin Tiaan Langenegger die land deurkruis op soek na oumas se geheime in die kombuis. Sy grootste vrees, sê hy, is dat ons gaan vergeet hoe om werklik te kook.

“Dis deesdae net te maklik om klaargemaakte kos te koop of self disse te maak wat jy net in die oond druk om iets op die tafel te sit. Niks kom egter by die manier waarop ons oumas gekook het nie.”

Tiaan het nou saam met Errieda du Toit, inhoudsvervaardiger van programme soos Kokkedoor en Koekedoor, gewerk om die regte inhoud vir Tiaan Onthou te kry.

“In elke program is daar ’n ouma wat wys hoe sy haar bekende resep maak en ek sal dan my eie kinkel aan die resep gee,” verduidelik Tiaan.

Dit is vir hom geweldig belangrik dat ons Suid-Afrikaanse koserfenis behoue moet bly.

“Almal van ons onthou dae toe jy jonger was en by jou ouma se huis aangekom het en daar is bakke en bakke vol kos op die tafel. Ek wil daardie resepte, met al hulle verskillende geure en smake, gaan soek. Hulle het daardie dae met basiese bestanddele gekook en sonder die kortpaaie wat ons deesdae gebruik. As ons nie begin om daardie metodes vas te lê nie, gaan dit verlore gaan.”

Vir Tiaan is dit asof daar amper ’n generasiegaping in hoe ons kook is. “Ons oumas het nog werklik gekook, maar deesdae is gerief die belangrikste. Ons moet weer werklik begin kóók.”

Hy hoop ook dat die program kykers nie net ouma se resepteboek laat nader trek nie, maar ook die foon laat optel om te hoor hoe dit met ouma gaan. “Ek glo ons gaan met hierdie program ‘n skatkis van resepte ontdek, resepte wat vir die nageslag bewaar sal bly.”

Skakel in vir Tiaan Onthou vanaf 1 Oktober 2018 op DStv-kanaal 144 en gesels saam op sosiale media met die hutsmerk #TussenOns.