Logo

Terug na Egipte: Begin 14 April

Nuus
30 Maart 2015
Dit is vier maande later en die inwoners van Breipaal wat ons nou al goed ken, leef hul lewens voluit.
a

Terug na Egipte, die reeks wat volg op Vlug na Egipte, is vanaf 14 April op Dinsdae om 20:30 op die kassie.

Dit is vier maande later en die inwoners van Breipaal wat ons nou al goed ken, leef hul lewens voluit. Daar is twee nuwe “inkommers” op die dorp: Woestyn (gespeel deur Adrian Alper) en Pieter Wolf (André Weideman). Beide van hulle gaan van die eerste dag af moet besef dat daar nie iets soos ’n ‘geheim’ op Breipaal bestaan nie, en dat die Karoliete onwrikbaar saamstaan wanneer hulle voel dis nodig.



Woestyn (gespeel deur Adrian Alper)



Pieter Wolf (André Weideman)

Lea (Leandie du Randt) het ’n wil van haar eie, en Charles (Marcel Schoeman) is nie heeltemal seker waarmee hy besig is nie – tot Dot (Marion Holm) met ’n voorstel vorendag kom. Rooikappie (Diane Wilson) besluit dit is tyd om aan te beweeg van haar groot liefde, want sy het ’n man in die oog. Lena (Clara Joubert) is hard aan die werk en oefen, maar sonder die nodige ondersteuning, en met gedagtes wat haar siel kan verwoes, gaan dit maar moeilik.

Daar is ook verrassende verwikkelinge in almal se lewens wat soms gepaardgaan met skokkende nagevolge – veral as ouderling Giel Swiegers (Eric Nobbs) betrokke is. Dot gaan nie stilletjies stil sit en toekyk hoe die hoofouderling homself ’n uitverkorene maak wat die wette van die kerk gebruik tot sy eie voordeel nie, maar danksy ’n paar interessante gesprekke lyk dit darem nie of sy alleen die stryd gaan moet voer nie. Dit wil voorkom of Troffel (Richard van der Westhuizen) se oë ook stadig maar seker oop gaan vir dit wat rondom hom aan die gebeur is. Die probleem is net dat Troffel se vrou ’n groot rol in sy lewe speel – en dalk ’n groter rol as die daaglikse bestuur van sy plaas.

Dominee Karel Burger (Wilson Dunster) kan maar net nie die tuig neerlê nie, al hardloop die duiwel dan nou ook met ’n pak en das die hele dorp vol om seker te maak hy bring die prediker van stryk. Gelukkig is Dominee nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie – hy lyk maar net soms so – en besef die gedugte digter dat wanneer daar ’n wil is, is daar ’n weg.

Breggie (Kay Smith) is besig om haar boek nou met alle erns te skryf, siende dat sy nou baie stof tot nadenke het. Kortjas (Chris van Niekerk) moet gewoond raak aan die nuwe rigting wat sy lewe ingeslaan het – al is dit maar ’n alleen pad om te stap.

Tony (Frank Opperman) is duidelik ’n man wat weet hoe om vyande van vriende te maak – of is dit dalk andersom? Sanna (Karen Wessels) begin ook baie meer standpunt inneem – maar is dit die regte standpunt wat sy ondersteun?

Gertjie (Rolanda Marais) laat nie gras onder haar voete groei nie, maar die weë van die liefde is blykbaar bestem om besaai te wees met duwweltjies. Die boerin sit dat nou ook met meer as een probleem op Daggafontein, en dit is nie net haar hardekwas pa wat die lewe vir haar al hoe moeiliker begin maak nie.

Om dit alles te kroon, gaan die salige, stil lewe op die Paal ook nie meer vir te lank so stil en stemming wees nie - ’n moordenaar het ’n mes in vir ’n paar lede van die gemeenskap…