Logo
Suidooster TX change Slim BB
web uni tv guide

Suidooster

144Drama13

Suidooster se Jerome sterf in hartroerende toneel

Nuus
30 Maart 2017
Suidooster het vandeesweek van Jerome October én dus ook van Danny Ross afskeid geneem.
Danny Ross Groet

Suidooster het op 29 Maart afskeid geneem van een van sy gewildste karakters, Jerome October, wat deur Danny Ross vertolk word.

In ’n hartroerende toneel het kykers gesien hoe Jerome in ’n hospitaalbed lê waar hy aan pype en masjiene gekoppel is. Jerome was omring deur sy familielede en dr. Siya Thuli (Gantane Kusch) het die masjiene afgeskakel.

Dié dramatiese kinkel kom na Jerome en Mymoena (Jill Levenberg) sowat twee weke terug in ’n motorongeluk was. Mymoena het ernstige beserings opgedoen en haar lewe hang ook aan ’n draadjie, maar Jerome het aanvanklik net met ’n paar skrapies weggeloop.

Verlede Donderdag moes kykers toe sien hoe Jerome voor sy ouers, Bridgette (Denise Newman) en Ian (Abudraghmaan Adams), ineenstort. Jerome is Maandagaand breindood verklaar en het glo ’n aneurisme en ander inwendige beserings gehad.

Kykers sal volgende week sien hoe die mense van Ruiterbosch van Jerome afskeid neem met sy begrafnis.

kykNET en Suidooster Films het die volgende kommentaar oor dié drastiese storielynkinkel vrygestel:

Geen akteur sal die karakter van Jerome October soos Danny Ross kan vertolk nie. Toe Danny ons inlig hy gaan Suidooster verlaat, het ons geweet Jerome kan nie net stil-stil verdwyn nie. Hy is so ’n sentrale karakter en ons het besef sy “spook” kan nie vir altyd in Suidooster loop waar mense hoop hy kom oor ’n paar maande of ’n paar jaar terug nie.

Ons het besluit in tipiese Jerome-styl sal hy met ’n knal uitgaan, waaroor mense nog lank gaan praat omdat hulle dit nie sien kom het nie. Danny praat ook eksklusief met Kuier-tydskrif, wat van 30 Maart 2017 te koop is, oor sy besluit om Suidooster te groet.

Suidooster is van Maandae tot Donderdae om 18:00 op kykNET en 20:00 op kykNET&kie te sien.