Logo
Suidooster TX change Slim BB
web uni tv guide

Suidooster

144Drama13

Suidooster: Bernice se diepe smart

Nuus
01 Februarie 2018
Hier is wat jy van Bernice, vertolk deur Ira Blanckenberg, moet weet.
Suidooster

Dié week het kykNET vir Ira Blanckenberg as nuwe toevoeging tot die Suidooster-familie verwelkom. Ira, wat die rol van Emma se ma, Bernice, vertolk, het met ons gesels oor onder meer haar karakter se worsteling met dwelms, en hoe sy lewe aan dié karakter gegee het. 

Hoe het jou karakter in Ruiterbosch beland?
Bernice kom Ruiterbosch toe om haar dogter, Emma, om verskoning te vra en hopelik haar vergifnis te kry.

Kan jy Emma en haar ma se verhouding vir ons beskryf?
Emma is al soveel keer deur haar ma en haar ma se verslawing in die steek gelaat dat sy dit moeilik vind om enigiets uit haar ma se mond te glo. Emma se ma het totale begrip vir die feit dat Emma haar haat, maar is vasbeslote om te bewys dat sy skoon is.

Wat dink jou karakter van Michelle wat so mooi na Emma omsien?
Sy is ongelooflik dankbaar teenoor Michelle. Sy is wel geïntimideerd en wil seker maak Michelle besef dat Emma háár dogter is, en dat Michelle dit moet onthou.

Het jy enige raad aan moeders wat hulself in dieselfde situasie bevind?
Ek weet nie of ’n mens kan raad gee oor ’n pad wat jy self nog nooit moes stap nie. Die kort rukkie waarin ek myself in die hartseer wêreld van ’n verslaafde moes inleef het my soveel empatie laat ontwikkel vir mense wat deur hierdie hel gaan. Ek dink elke oomblik bied die geleentheid om die verslawing te breek. My raad is dus dat jy jou veghandskoene moet aantrek en nooit opgee nie. Los die selfhaat, fokus op jou liefde vir jou kinders, en laat dít jou motiveer om te aanhou baklei.

Kan daar ’n positiewe einde aan hierdie storie wees?
’n Mens moet altyd glo dat daar ’n positiewe uitkoms kan wees, want selfs in die slegste van situasies is daar hoop. Of die storie wel mooi gaan uitdraai, wel, dit sal mens maar moet sien.

Dink jy dit is belangrik om hierdie storie te vertel?
Verslawing is een van die grootste en gevaarlikste siektes van ons tyd. Om dit op die TV te plaas waar, mense uitgangspunte van alle betrokke karakters kan waarneem, is ongelooflik waardevol. Só kan iemand wat self hierdeur gaan nie net met die karakter identifiseer nie, maar ook ander se persepsie beter verstaan.

Is daar enige ooreenkomste en verskille tussen jou en Bernice?
Ek is in die bevoorregte posisie waar ek nog nooit die lus gehad het om dwelms te gebruik nie, en hierin verskil ek en my karakter hemelsbreed. Waar ons wel ooreenstem is dat ons beide diepe smart ken, en die hel van elke dag binne smart oorleef – [Bernice] deur haar verslawing, en ek met my paadjie as rouende ma na die dood van my seun [Kieran] wat vier jaar gelede verongeluk het.

Emma probeer hard om haar seer weg te sny – kyk die video hier onder:

Suidooster saai Maandae tot Donderdae om 18:30 uit op kykNET én kykNET&kie. Gesels saam met ons op sosiale media deur die hutsmerk #Suidooster te gebruik.