Logo

Spoorloos: Hier is wat jy moet weet

Nuus
28 Augustus 2018
Jou Dinsdagaande gaan nooit weer dieselfde wees nie.
Spoorloos Article Banner

kykNET-kykers weet teen hierdie tyd dat die drama-gleuf op ’n Dinsdagaand nooit teleurstel nie en met die nuwe reeks, Spoorloos, wat op 9 Oktober begin, gaan dit ook nie anders wees nie.

Waaroor gaan dit?

Die storie speel af in die dorpie Digtersdal in die Oos-Kaap. Dis ’n spookdorp op soek na genesing en herlewing, maar ná dertien jaar se onopgelosde raaisels keer die reeksmoordenaar van destyds skielik terug. Om hom op te spoor, moet ’n speurder en joernalis al die ou wonde oopkrap. Terselfdertyd is daar ook drie kinders van die dorp wat die monster probeer vastrek en familie-intriges soos net in ’n klein dorpie kan wees.

Agtergrond:

Die dorp Digtersdal in die Oos-Kaap is dertien jaar gelede deur ’n reeksmoordenaar geterroriseer wat seuns van 5 tot 15 jaar oud geteiken het. Die moorde het skielik opgehou, maar die moordenaar is nooit vasgetrek nie. Die dorp was geknak. Die wonde het jare gevat om rowe te vorm en is nog lank nie genees nie. Werner Malan se planne vir die ontwikkeling van Digtersdal tot ’n vakansieparardys het doodgeloop en hy het ‘n fortuin verloor. Die bouwerke vir ’n toeristeoord wat met die Sonstad sou kompeteer, is gestop en die ingangspoort wat opgerig is staan verbleik soos ’n reuse grafsteen ter herrinnering aan die tragedie wat die dorp oorval het.

Nou, dertien jaar later, is die dorp onder Werner se stukrag vasberade om die spoke van die verlede te besweer. ’n Fees is in die lewe geroep – die Fakkelfees – waartydens besoekers aangemoedig gaan word om te in die nuwe tyddeelontwikkeling te belê.

In die rolverdeling is ’n paar veteraan-spelers asook nuwe gesigte. Die reeks is in Cradock in die Karoo geskiet en die dorp en sy mense dien as agtergrond vir dié nuwe reeks.

Deon Coetzee is te sien as Werner Malan, ’n sakeman, politikus en boer. Hy is getroud met Angelique (Catriona Andrew) wat uit ’n ryk Engelse familie kom. Hulle seun, Werner Jnr. wat almal Junior noem (Francois Jacobs), is getroud met Lara (Amalia Uys), ’n gekneusde engel wat op soek is na redding uit haar versmorende huwelik. Lara het ’n 12-jarige seun, Jan-Gustav (Neil Slabbert).

Ian Vos (Ludwig Binge) werk by ’n advertensieagentskap in die stad. Hy was 17 jaar oud toe sy broer, Benjamin, deur die reeksmoordenaar vermoor is. Sy ma, Frieda (Wilmien Rossouw), woon nog in Digtersdal.

Adam Arendse (Zane Meas) is ’n politieke leier en aktivis en is pa van Keagan (Charl Fleurs), ’n slim seun hoewel hy effens van ’n bangbroek is.

De Wet (Eric Bouwer) is ’n speurder van Johannesburg en Sonja Landman (Kim Syster) is ’n TV-joernalis wat groot drome het om ’n ondersoekende joernalis te word. Gert Neethling (Lieb Bester) is die dronklap van die dorp en sy vrou, Magda (Elsabé Daneel), is iemand wat wys wat onvoorwaardelike liefde beteken.

Sibusiso Jele (Kagiso Rathebe) is De Wet se kollega en Lusanda Miya (Sibulele Gcilitshana) is kaptein en Deon Prinsloo (Ashley Taylor) is ’n siniese speurder by die plaaslike polisiestasie.

Ander karakters is Ds. Els (Morné Visser), die maplotter en dwelmhandelaar Piet “Pille” Taljaart (André Odendaal) en sy dogter Esti (Ineke van der Merwe), die waarnemende skoolhoof Mnr. Immelman (Hannes van Wyk), Marie Fick (Lizz Meiring), die bestuurder van die plaaslike koerant en Fezile Grootboom (SK Sombokwe), Werner se voorman.

Die reeks is gegrond op Daddy Longlegs, ’n boek deur die Suid-Afrikaanse skrywer Vernon Baumann. Die draaiboek is deur Ilse van Hemert geskryf en sy was ook saam met André Odendaal die mede-regisseur.

Skakel vanaf 9 Oktober 2018, om 20:00, in op DStv-kanaal 144 vir Spoorloos. Gesels saam op FacebookTwitter en Instagram met die hutsmerk #Spoorloos.