Logo
Nataniël. Erik. Wolf.
web uni tv guide

Nataniël. Erik. Wolf.

144LeefstylPG

SLOT se droomwêreld bied misterie en spanning

Nuus
26 November 2020
Weet ons ooit wat in die onderbewussyn van ons medemens aangaan?
DSC04298

Die nuutste kykNET-riller, SLOT, uit die pen van skrywer Leon Kruger beloof om kykers op ’n eiesoortige reis van misterie, intrige en spanning te neem vanaf Dinsdag 12 Januarie 2021 op kykNET, DStv-kanaal 144.

'n Briljante en gerekende psigiater ontwikkel 'n terapie wat onmiddellik pasiënte se onderbewussyn kan binnedring om sodoende toegang tot onderliggende traumas te gee. Weens die onwettige aard van die dwelm, bied sy in die geheim wegbreek-terapiesessies aan. Wat sy nie besef nie is dat die volgende vier dae haar en drie oënskynlike pasiënte se lewens onherroeplik sal verander.

Hierdie moderne sielkundige riller kyk na die lewens van herkenbare karakters wat ’n aweregse, unieke ervaring beleef. Tog bied dit aan kykers ’n blik oor hoe ’n droomwêreld mag lyk en hóé meesleurend dit potensieel kan wees.

“Ons het beoog om ’n misterie riller te skep wat afspeel in ’n milieu wat nie bekend is aan almal nie en ons hoop dat deur hierdie ervaring, kykers hulself kan geniet en vasgevang raak in die karakters asook hoe die storie bewustelik en onbewustelik ontvou,” sê Jozua Malherbe (Griekwastad, Bloedbroers), regisseur van die reeks.

’n Wereldklas psigiater glo dat sy ’n terapiemiddel ontwikkel het wat tot die diep traumas van die onderbewussyn kan deurdring. Wanneer vier vreemdelinge vir behandeling opdaag by ’n verlate huis, vind eienaardige insidente plaas.  Die raaisel om uit te vind wie elkeen werklik is en wat uiteindelik agter die sluiers aan die gang is, is die sleutel tot die reeks se boeiende storielyn.

“Hierdie interessante spanningsriller sal kykers beslis vasgenael hou. Veral ook  hoe die akteurs hulself in hul karakterisering verdiep het. Die 5-episode reeks maak uiteindelik basies ’n 125-minuut speelfilm op, wat die formaat is waarin ek  op my gemaklikste is vanweë my voormalige ervaring. Elke episode vorm deel van die groter verhaal, die geheelbeeld wat die kyker oor die verloop van 5 weke uiteindelik, tot groot verligting, bymekaar pas.” voeg Malherbe by.   

Die rolverdeling bestaan uit Rolanda Marais, Brendon Daniels, Greta Petersen, Albert Pretoruis en Trudy van Rooy.

“Elke episode het sy eie ritme, sy eie beweging en ontknoop nog ’n bietjie van die onderbewussyn en die mense wat daaraan deelneem,” sluit hy af.

SLOT begin Dinsdag 12 Januarie 2021 om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144.