Logo

Skenk ’n orgaan – red ’n lewe

Nuus
30 November 2017
Wil jy 'n lewe red? Registreer vandag nog om 'n potensiële orgaan- of weefselskenker te word.
iDonate-2

Die Orgaanskenkingsvereniging (OSV) van Suid-Afrika beplan en implementeer opvoedings- en publisiteitsprogramme wat ontwerp is vir bewusmaking rondom orgaan- en weefselskenking.

Die OSV is nie ’n mediese organisasie nie, en speel geen rol daarin om organe te verkry of aan ontvangers toe te wys nie. OSV ontvang geen befondsing van die regering nie en maak slegs staat op ons eie fondsinsamelingsinisiatiewe, sowel as skenkings van ondernemings en individue.

OSV se openbare bewusmakingsinisiatiewe sluit die volgende in:

  • Tolvrye telefoonlyn: Die OSV biet ’n tolvrye lyn wat inligting aan die publiek oor orgaan- en weefselskenking verskaf.
  • Webwerf: Mense kan op hul webwerf as orgaan- en weefselskenkers registreer, inligting oor orgaan- en weefselskenking vind of ’n finansiële bydrae tot die OSV maak.
  • Verspreiding van inligting: Die OSV verskaf identiteitskaarte vir orgaan- en weefselskenkers, sowel as inligtingsbrosjures aan die publiek. Die organisasie versprei jaarliks 100 000 inligtingspamflette na oorplantingsentrums, maatskappye of enigiemand in Suid-Afrika wat inligting versoek.
  • Opvoedkundige praatjies: Die OSV lewer jaarliks opvoedkundige praatjies oor orgaan- en weefselskenking by verskeie instellings, insluitende hoër- en laerskole, tersiêre opleidingsinstansies, maatskappye en enige ander belangstellende groep of onderneming. Gedurende so ’n besoek lewer die span ’n informatiewe praatjie oor orgaan- en weefselskenking en die oorplanting daarvan deur gebruik te maak van visuele hulpmiddels en aanbiedings.
  • Korporatiewe welstandsdae (Wellness Days): Die OSV word dikwels genooi om korporatiewe gesondheid- en welstandsdae by te woon. Dit bied ’n wonderlike geleentheid vir hulle om die publiek in te lig oor orgaan- en weefselskenking en die oorplanting daarvan.
  • Ekspos en bewusmakingsgeleenthede: Die OSV word gereeld genooi om ’n stalletjie te hê by verskeie geleenthede met die doel om groter bewustheid te skep – ’n voorbeeld is die jaarlikse Cape Homemakers Expo by die KIKS.
  • Sosiale media: Die OSV het ’n personeellid wat verantwoordelik is vir die bestuur van ’n interaktiewe Facebook-bladsy – die skakel is beskikbaar op hulle webwerf se tuisblad.
  • Media: Die OSV neem gereeld deel aan TV- en radio-onderhoude en ook veldtogte in die gedrukte media, met die doel om groter bewustheid van orgaan- en weefselskenking op ’n nasionale vlak te skep.
  • Jaarlikse pretstaptogte: Die OSV  het jaarliks pretstaptogte in Kaapstad en Johannesburg om bewustheid oor orgaan- en weefselskenking te verhoog en ook die publiek se deelneme aan te moedig.

WAGLYSSTATISTIEK

Daar is ongeveer 4 300 Suid-Afrikaanse volwassenes en kinders wat wag op ’n moontlik lewensreddende orgaan- of kornea-oorplanting.

OORPLANTINGSTATISTIEK

In Suid-Afrika in 2016:

  • Was daar 512 orgaan- en kornea-oorplantings
  • 361 van hierdie was orgaanoorplantings wat bestaan uit die volgende:
    • Harte: 23 volwassense en 2 pediatries
    • Longe: 14 volwassenes
    • Lewers: 40 volwassenes, 4 adolessente en 21 pediatries waarvan
      • 1 volwassene en 14 pediatries verwant was aan mekaar
    • Niere: 234 volwassenes, 3 adolessente en 12 pediatries waarvan
      • 86 volwasse, 2 adolessente en 4 pediatriese oorplantings verwant was aan mekaar
      • 26 volwasse nieroorplantings was nie verwant aan mekaar nie
      • 37% van die nierskenkers was verwant aan die ontvanger
    • Pankreas: 1 volwassene
    • Gelyktydige nier/pankreas: 3 pediatries
    • 151 volwassenes, adolessente en kinders kan weer sien te danke aan ’n kornea-oorplanting

 

Kyk die video hier onder:

HOE WORD EK ’N POTENSIËLE ORGAAN- OF WEEFSELSKENKER?

Die proses is baie eenvoudig. Registreer aanlyn of bel die Orgaanskenkersvereniging se tolvrye lyn by 0800 22 66 11. Die OSV sal dan vir jou ’n orgaanskenkerskaart stuur om in te vul en in jou beursie te dra. Hulle sal ook vir jou ’n plakker stuur wat jy op jou ID-kaart en bestuurslisensie kan plak. Dis baie belangrik dat jy jou besluit met jou familie bespreek. Stel hulle in kennis dat jy jou organe en/of weefsel ná jou dood wil skenk. Vra hulle ook om jou wens te eerbiedig wanneer jy sterf.

Besoek die Orgaanskenkersvereniging se webblad en registreer vandag nog.