Logo

Skelmpie: ‘Bly vir die regte redes’

Nuus
10 Maart 2018
Ons gesels verder met huweliksberader Gerrie Pretorius.
Skelmpie

Dié week op Skelmpie het aanbieder Rian van Heerden die huweliksberader Gerrie Pretorius van Life Counsil vir raad ontbied nadat Roz en Cindy hul stories gedeel het.

Tydens dié uitsending, het Gerrie gesê dat ’n egskeiding of ’n maat wat op jou verneuk die moeilikste ding is om te verwerk naas die dood van ’n geliefde.

Agter die skerms het hy aan ons vertel dat huweliksberading nie net in ’n huwelik nodig is nie, maar ook voor ’n huwelik. Volgens hom is voorbereiding voor ’n huwelik in talle gevalle nie genoegsaam nie.

“[Paartjies] plaas die klem op die troudag en hulle maak dit mooi, en familie en vriende is daar om dit te sien, maar in baie gevalle is hulle nie emosioneel gereed vir ’n huwelik nie,” vertel hy.

Volgens Gerrie is dit vanselfsprekend moeilik om ’n gelukkige verhouding te onderhou. “Waar Suid-Afrikaanse-paartjies te kort skiet is dat daar nie voorbereiding vooraf is nie. Hulle berei nie voor vir die huwelik nie. Dis hoekom ons voorhuwelikse berading bied, waar paartjies [in ’n neutrale omgewing] met mekaar kan praat voor die huwelik.”

Kyk die volledige gesprek hier onder:

“Hier kan hulle praat oor klein goedjies, want hulle praat nie altyd met mekaar nie. Hulle weet nie altyd waar hulle met mekaar staan nie en wat hulle van mekaar moet verwag nie, en dis ook hoekom baie huwelike gewoonlik vou, omdat hulle nie voorbereid was vir die langtermyn-toewyding nie.”

En wanneer dit by egbreuk kom, waar trek ’n mens die streep? Gerrie sê dat dit ’n besluit is wat net “jy alleen kan neem”. In baie gevalle, sê hy egter dat dit hoop is wat iemand in ’n verhouding laat bly, al is hul maats ontrou.

Hy vertel: “Hy of sy hoop hulle maat gaan verander. Na ’n paar sessies by die huweliksberader en dinge is beter vir ’n paar maande. ’n Jaar later gebeur dieselfde ding, en sewe jaar later sit jy op dieselfde plek.”

LEES OOK: ‘Daar is baie hoop’

“Jy moet besluit, en dis waar ons dinge evalueer, sodat wanneer ’n gedragspatroon opgemerk word, en hy of sy nie rou het vir sy dade nie, moet die ander persoon sit en sê ‘ek kan nie’.”

Volgens Gerrie moet mens vermy om in enige verhouding te bly vir die kinders se onthalwe. “Dit kan ’n byfaktor wees, maar moenie die enigste rede wees hoekom jy bly nie. Dit moet eerder vir julle as paartjie wees – bly want julle is lief vir mekaar, en julle wil dit maak werk.”

Hier is hoe Roz en Cindy hulle mans wat ontrou was gekonfronteer het: