27 kokkedoor kardoes 3d

Sjef ontketen Kokkedoor Kardoes-koors

Kokkedoor Kardoes kos R550,00 per maand en sluit afleweringkoste in by die huis of kantoor enige plek in Suid-Afrika. Lees meer oor dié inisiatief.

16 November 20:26

Is dit ’n boks? Is dit ’n doos? Is dit ’n papiersak? Nee, dis die Kokkedoor Kardoes, ’n nuwe konsep van uitgesoekte kos- en wynprodukte wat bekendgestel word deur sjef Nic van Wyk en smulpape landswyd met kardoeskoors kombuis toe sal stuur.

Dié nuwe inisiatief is ’n intekendiens wat kos- en wynliefhebbers die geleentheid bied om maandeliks ’n sorgvuldig-saamgestelde Kokkedoor Kardoes by hul huis of werkplek te ontvang.

Dit bevat wyne van die maand, ’n lekkerny, ’n kosbestanddeel soos speserye of olie, ’n drankie soos koffie, tee of spesialisteitsbier; asook kosmaak-verwante produk en ’n bederfie. ’n Resep word ook ontwikkel en getoets met die oog op die produkte van die betrokke maand se kardoes.

Kokkedoor Kardoes kos R550,00 per maand en sluit afleweringkoste in by die huis of kantoor enige plek in Suid-Afrika.



Sjef Nic van Wyk het as aanbieder van kykNET se werklikheidsreeks Kokkedoor ’n bekende gesig op die Afrikaanse kostoneel geraak en bedryf sy restaurant Bistro 13 op ’n Stellenbosch-wynplaas.

Hy vertel meer oor sy nuwe konsep: “Vandat ek in die Boland bly besef ek van nuuts af dat ons mooi land se rykdom ook lê in die groot verskeidenheid van sy kos en wyn. Dis jammer dat net ’n handjievol mense maklike toegang tot van hierdie topklas-produkte het.”

Hy wys ook uit dat hoewel baie van die uitstekende Kaapse kos- en wynverskaffers reeds bekende gesigte op winkelrakke is, daar ’n magdom kleiner, minder bekende verskaffers is wat ongelooflike kwaliteit lewer. “Hierdie klein verskaffers het nie altyd toegang tot hul mark nie, weens beperkte kapitaal of kapasiteit wat hulle verhinder om hul uitstekende produkte op die kleinhandel-rak te kry.”

Die oogmerk van Kokkedoor Kardoes is om ’n platform te wees waar die verskaffer en verbruiker mekaar ontmoet in die gerief van die verbruiker se eie huis. “Sodoende kan die produkte eerstehands beproef word. Daarna het die verbruiker die geleentheid om die produkte direk van die verskaffer te bestel.”

Die bekroonde sjef is bekend dat hy goeie waarde saam met goeie gehalte nastreef. Hy toets en keur persoonlik elke produk voor dit in die Kardoes gelys word. “Ek waarborg ook dat die waarde van die Kardoes meer is as waarvoor dit in die mark verhandel. Ek sal dan ook elke maand ’n paar resepte insluit, spesifiek met die oog op daardie maand se produkte en gepaar met die wyne.”

34 kokkedoor kardoes 3d


Van waar gehasie

Sjef Nic se noue betrokkenheid by kykNET se Kokkedoor het sy belangstelling geprikkel in ons koskultuur en geregte se oorsprong, en hoe om dit met geesdrif en nuwe betekenis relevant te maak vir die hede. Soos met sy kinkel-benadering van Kokkedoor-kos, en nou ook met kardoes. “Hoewel Kokkedoor Kardoes eerder ’n stewige kartonhouer as ’n papiersak is, dra dit by tot die herontdekking van hierdie mooi woord in ons taalskat en hoop om ons kos- en wynkultuurskat ook uit te bou.”

Een en ander oor die woord ‘kardoes’

• Die woord ‘kardoes’ word in die HAT geborg deur die skrywer Marita van der Vyver.
• Net soos die woord Kokkedoor (afgelei van ‘coq d’or) ’n gewysigde betekenis gekry het, kom ‘kardoes’ van die Franse woord cartouche (buskruidlading in papier toegedraai).
• In die 19de eeu is kardoes ook gebruik om dinge soos lekkers in te dra en te bêre.
• Kardoes is in die 1880’s die eerste keer in Afrikaans opgeteken.

Kardoes gee terug

Vir elke Kardoes wat verkoop word, word ’n bydrae gemaak aan die Imibala Trust, wat geld insamel om behoeftige kinders se skoolgeld vir ’n jaar te betaal en ’n skooluniform te voorsien.

Vir meer inligting oor die Kardoes, die twee opsies en hoe om deel te word van die Kokkedoor Kardoes-kring besoek www.kokkedoorkardoes.co.za.

Volg ons ook op Facebook of kry ons op Twitter by @kykNETkardoes.

Nog Nuus

28 osb johan suret news

Ons Sprokiesbruilof: Johan en Suret

29 Maart 16:50

28 osb ella christo 00 news

Ons Sprokiesbruilof: Eerste liefdes

24 Maart 01:31

28 osb ontmoet ella christo news

Ons Sprokiesbruilof: Christo en Ella

23 Maart 13:40

28 sink special screening news

Saftas 2017: kykNET wen groot!

20 Maart 16:32