Logo

Silwerskermfees 2017: Drie, twee, een – aksie!

Nuus
03 Augustus 2017
Kom verlustig jouself in Afrikaanse film – die Silwerskermfees 2017 is hier!
Silwerskermfees

Dit het begin in Prins Albert in 2011, toe ’n groep film-geesdriftiges bymekaar gekom het om Afrikaanse film te vier. Sedertdien het die kykNET SIlwerskermfees gegroei tot ’n volwaardige filmfees wat elke jaar in die hange van die ikoniese Kampsbaai plaasvind.

Vir al die films wat by vanjaar se fees vertoon word, klik hier.

Die program spog hierdie jaar met 65 films, wat vanaf 23 tot 26 Augustus 2017 vertoon sal word en enige film-foendies se aptyt vir Suid-Afrikaanse film gaan voed.

Twee boekverwerkings, Raaiselkind en Vaselinetjie, is aangewys as die twee films wat die fees onderskeidelik sal open en afsluit. Raaiselkind vertel die verhaal wat die kruis van outisme genadeloos uitbeeld, en die verwoestende uitwerking wat dit op ’n gesin het blootlê. Die film is gebaseer op die boek van Annelie Botes, met Diaan Lawrenson en Anrich Herbst in die rolverdeling. André Velts het die regie behartig.

Corne en Rene van Rooyen was verantwoordelik vir die verwerking van die bekroonde roman deur Anoeschka von Meck, Vaselinetjie ’n storie oor die definiëring van die betekenis en oorsprong van ’n mens se identiteit en ras in die warboel van post-apartheid-Suid-Afrika. Hierdie is Corne se derde vollengte film. Lees ook: Vaselinetjie binnekort op silwerdoek

Tydens die fees is daar ses Afrikaanse films wat oor die vier dae vir die eerste keer sal debuteer. Meerkat Maantuig, wat in 2018 vrygestel word, is die tweede film uit die pen van Hanneke Schutte, wat ook die regie behartig het. Na haar pa se dood, besef Gideonette de la Rey, ’n vreesbevange jong meisie met ’n ooraktiewe verbeelding, dat sy die enigste oorlewende gesinslid is met ’n familienaam waarop ’n vloek rus.

Wonderlus is die eerste vollengte-film van Johan Cronje. ’n Troue draai op sy kop, en die volgende oggend moet ’n groep vriende en vyande die raaisel van die vorige aand probeer oplos. Die film spog met ’n jong rolverdeling soos Mila Guy, Edwin van der Walt, Beer Adriaanse, Simone Nortmann, Lynelle Kenned en Stiaan Smith.

Vuil Wasgoed is in 2014 aangewys as beste kortfilm tydens die kykNET Silwerskermfees, en vorm hierdie jaar deel van die vollengte-film-aanbod. Die film is geskryf deur Bouwer Bosch en Bennie Fourie. Dit handel oor twee jong mans wat by ’n wassery werk, en die ontdekking van ’n afgesnyde vinger in een van hul kliënte se sakke. Wat volg is ’n jaagtog om oorlewing, terwyl ’n ongenaakbare verraaier op Wim en Kevin se spoor is. Lees ook: Vuil Wasgoed in vollengte rolprent omskep

Etienne Fourie is terug op die vollengte-program met sy nuutste aanbieding, Liewe Kersfeesvader. ’n Skoonheidskoningin word in vroeë volwassenheid gedwing wanneer haar pa ’n nuwe identiteit aanneem: Kersfeesvader. Terwyl sy ’n kranksinnige pa, ’n vatbare boetie en ’n ontwikkelende romanse balanseer, moet Nonnie haar eie betekenis van familie herdefinieer.

Etienne was verantwoordelik vir die draaiboek asook die regie en die film het Mila Guy, Morne Visser, Milan Murray, June van Merch, Dean-John Smith en Melt Sieberhagen in die rolverdeling.

Die bekroonde The Wound en VAYA maak deel van die bestaande vollengte-film-kategorie wat by die fees te sien sal wees. Die film Strike a Rock het by die onlangse Durban Internasionale Filmfees baie gesprek uitgelok en vorm deel van die dokumentêre aanbod by die Silwerskermfees. Winnie, 'n film wat handel oor die lewe van Winnie Madikizela-Mandela, sal ook by die fees te sien wees. 

Ruimte tussen Niks was die 2016-wenner van die Nasionale tienertoneelfees-kompetisie. Onder leiding van Louis Pretorius, en in samewerking met die studente, is ’n film gemaak wat op 23 Augustus sal vertoon.

Lees ook: Die kortfilms wat by vanjaar se Silwerskermfees gewys sal word is pas bekendgemaak!

Gesels saam op sosiale media – op FacebookTwitter, en Instagram, en gebruik die hutsmerk #Silwerskermfees.