Logo
Hotel

Schalk Bezuidenhout: Lag-lag volksbesit

Nuus
26 September 2016
Die komediant Schalk Bezuidenhout is iemand wat moeilik misgekyk word. Ons gesels met hom in die jongste uitgawe van Digityd.
Schalk Bezuidenhout Digityd

Hy is 24 jaar oud en skaars ses maande in die bedryf, maar die komediant Schalk Bezuidenhout is iemand wat moeilik misgekyk word.

Deur Erns Grundling

Dit moet die krullebol, die snorretjie en die kleurvolle truie so reg uit ’n Hospice-winkel wees wat Schalk Bezuidenhout een van die mees herkenbare komediante in die land maak.

Nie sedert Johan Stemmet en sy onderbaadjies op Noot vir Noot het iemand in ons vermaakbedryf só moeiteloos die publiek se aandag getrek nie.

Tog maak Schalk nie net op sy uiterlike staat om opgang te maak nie. Hy is een van die hardwerkendste komediante in die land en tree soms tot ses aande per week op, by enigiets van komedieklubs tot korporatiewe funksies. En dis harde werk wat vrugte afwerp – daarvan getuig sy twee gesogte Comics Choice-toekennings en die feit dat Trevor Noah hom verlede jaar genooi het om vyf weke lank in sy voorprogram op te tree by Montecasino se Teatro.

Boonop was al vyf vertonings van Second Language, sy onlangse solodebuut in die Baxter-teater in Kaapstad, ’n week voor die tyd al uitverkoop.

Nadat hy aanvanklik meestal in Engels gewerk het, het hy in 2015 met die Klein Karoo Nasionale Kunstefees die eerste keer ’n solovertoning in sy moedertaal gegee. Schalk het die Kanna-paneel toe só beïndruk dat hy bekroon is met die gesogte Slurpie vir Beste Opkomende Kunstenaar by die fees.

“Schalk laat my verstaan hoe ’n hele nuwe generasie Afrikaanssprekendes dink. Hy’s nie bang om die heilige koeie skrik te maak en te melk nie,” sê Deon Maas, wat Schalk by die KKNK gesien het.

Tot dusver was 2016 ’n deurbraakjaar vir Schalk inAfrikaans. Behalwe vir sy Schalk Bezuidenhout Lewendig-vertoning by die Woordfees, KKNK en Innibos, tree hy deesdae as seremoniemeester op by al wat ’n glansgeleentheid is: die ATKV-Mediaveertjies, die Huisgenoot-Tempo’s, later vanjaar by die Pendorings… Hy is drie seisoene al die aanbieder van Die Kliek op die DStv-kanaal Via. En nou te sien op kykNET as die portier Danny in die mokumentêre reeks Hotel.

Schalk, die enigste kind van Schalk en Greta Bezuidenhout, het in Kempton Park grootgeword en het verlede jaar sy B.A.-graad met drama as hoofvak aan die Universiteit van Kaapstad verwerf.

“My ouers het my nog altyd ondersteun,” sê Schalk, wat op skool al uitgeblink het in drama en redenaars. “Vandat ek 8 jaar oud was, het ek geweet ek wil niks anders as drama swot nie. Toe ek 16 was, het my ma ophou om my te probeer oortuig ek moet iets anders swot. Ek is dankbaar vir my ouers – ek weet van baie mense wat ’n talent gehad het vir die kunste, maar hulle is nooit toegelaat om dit te studeer nie.”

Hy het op skool humor gebruik om boelies te laat les opsê, en in April 2011 as student begin met stand-up komedie. “Ek dink nie my ouers was in die begin so mal oor die stand-up nie, miskien oor ek soms vloek, maar nou love hulle dit om in shows sit en te sien hoe mense vir my lag.”

Hier kom Hotel-manewales!

Oor Hotel is Schalk baie opgewonde. “Toe ek die eerste keer die draaiboek lees, het ek geweet dis iets wat ek moet doen, en daarom was ek baie bly toe ek die oudisie slaag en die rol kry. Ek dink Hotel is een van die snaaksste shows wat nóg in Afrikaans gemaak is. Dit is ’n mokumentêr, soortgelyk aan die oorsese reeks Parks & Recreation. Daar was al mokumentêre reekse op kykNET, maar Hotel bly rêrig by die genre se konvensies.”

Hierdie artikel is ’n uittreksel uit kykNET se digitale tydskrif, Digityd. Lees die volledige artikel hier.

Kyk Hotel, Maandae om 20:30.

TYDGLEUFVERANDERING: Nou elke Maandag om 20:30.