Logo

Kanarie: Schalk, Christiaan op internasionale rooitapyt

Nuus
30 Mei 2018
Kanarie het op 29 Mei sy internasionale première in Toronto gehad. Hier is die eerste foto’s!
Kanarie_Billboard

Schalk Bezuidenhout in Kanarie. FOTO: Verskaf

Christiaan Olwagen se jongste rolprent, Kanarie, het Dinsdagaand sy wêreldpremière in Toronto, Kanada gehad by die Inside Out lesbiese, gay, transgender- en interseks (GBTI)-rolprentfees. Olwagen, die vervaardiger Roelof Storm, asook akteurs Schalk Bezuidenhout en Hannes Otto, het die rolprent verteenwoordig. Die opwinding oor die projek is plaaslik gedeel toe die lokprent onlangs in Suid-Afrika vrygestel is.

Hier is die eerste foto’s!

Gallery

Kanarie is gebaseer op ware gebeure, en vertel die storie van ’n jong seun wat sy identiteit moet vind én man word in ’n problematiese tydperk in die land se geskiedenis – die kruin van apartheid in Suid-Afrika, 1985. Olwagen daag uit met verskillende genres, met ’n groot musikale komponent wat die popkultuur van die tyd vereer.

Nie alle reaksies was egter positief nie. Sommige Kanarie-alumni het kapsie gemaak ná die lokprent vrygestel is omdat hulle voel die rolprent is nie feitelik nie. Die vervaardigers het selfs ’n paar dreigemente ontvang.

Medeskrywer, komponis en oud-Kanarielid, Charl-Johan Lingenfelder, verwys egter na die titel van die film, en dat dit na ’n enkele Kanarie se ondervinding verwys, en nie die Suid-Afrikaanse Weermag se kerkkoor en konsertgroep (Die Kanaries) as geheel nie. “Natuurlik moes ons sekere elemente van die storie aanpas om die draaiboek te laat werk, maar die kern van die storie is gebaseer op ware gebeure.”

Gallery

Die film word later vanjaar plaaslik vrygestel, maar word oor die volgende paar maande by verskeie filmfeeste wêreldwyd vertoon.

Volg #KanarieFilm op sosiale media vir meer!