Logo
SARIE Voorblad Slim Bill
web uni tv guide

SARIE Voorbladgesig

144RealiteitsprogramFamilie

#SARIEVoorbladgesig 2017 bekend

Nuus
15 September 2017
Hier is die wenners van #SARIEVoorbladgesig 2017.
NUWE Groepfoto

’n Patisseriesjef en bakkery-eienaar van die Kaap en ’n boervrou en ma van Mpumalanga wat haarself Russies leer, lewer toe saam-saam SARIE Voorbladgesig vir 2017 op! Dit is die tweede keer op ’n ry dat twee wenners dié gesogte titel deel.

Yolani Abrahams, 25-jarige patisseriesjef en eienaar van die opskietbakkery Kole & Deeg op Ceres, en Nadia de Wet, 34-jarige boervrou met ’n handelsgraad van die plaas Platrand by Standerton, is gisteraand op ’n glansgeleentheid by die Menlyn Boutique Hotel in Pretoria saam as die SARIE Voorbladgesig 2017 aangekondig. Wat hulle nié deel nie, is die gróót prys – die Oktober 2017-voorblad van SARIE. Elkeen kry ’n eie voorblad en die twee voorblaaie sal vanaf Maandag 18 September landwyd langs mekaar op die rak staan.


Yolani Abrahams

 

SARIE-redakteur, Michélle van Breda, wat die wenners aangewys en die twee Oktober-voorblaaie onthul het, het ná die tyd gesê elke voorblad is volmaak – die een pure sonskyn, die ander eenvoudig boeiend – en sáám is hulle “net magic”.

“Vanjaar was SARIE Voorbladgesig inderdaad ’n reis omdat televisie ook bygekom het. Maar dit was opwindend, want almal kon meer van die finaliste sien en hulle leer ken. Die mededinging was straf, elke jaar word dit strawwer, en dit maak die finale keuse nog moeiliker. Maar op die ou end práát die foto’s. Is ek gelukkig met vanjaar se wenners? Nie gelukkig nie … ek’s over the moon! Hierdie twee voorblaaie is baie anders as dié van ons vorige wenners. Tog is hulle in voorkoms én in emosie in die kol, 100% SARIE-voorblaaie. Boonop is hulle van internasionale gehalte.”



Nadia de Wet

 

Die gala-aand is vir televisie verfilm en word eerskomende Maandag om 17:30 op kykNET (Dstv-kanaal 144) uitgesaai as die laaste episode van SARIE Voorbladgesig. Dit is die sewende jaar dat SARIE dié gewilde wedstryd aanbied, maar dit is die eerste keer dat televisiekameras die maande lange soektog na ’n voorblad-wenner volg. Oor die laaste sewe jaar het meer as 50 000 vroue al vir die wedstryd ingeskryf, met Pretoria die stad waarvan die meeste inskrywings kom.

Drie vorige wenners, SARIE Voorbladgesig 2013 se Marike Nel van Pretoria, en die twee wenners van SARIE Voorbladgesig 2016, Elmaré Schutte van Pretoria en Nicola Smit van Kraaifontein, het ook die geleentheid bygewoon. Ivan Botha, regisseur en medeskrywer en -vervaardiger van die 2018-rolprent Stroomop!, waarvan SARIE die mediavennoot is, was die seremoniemeester.

Nog bekendes wat die geleentheid bygewoon het, was onder andere die Binnelanders-aktrises Brümilda van Rensburg, Pascal Pienaar, Cindy Swanepoel en Je-ani Swiegelaar, asook Getroud met rugby se Marijke van der Westhuizen, Christel van den Bergh en Marlee van der Merwe en kykNET se Nadia Beukes en Lynelle Kenned. 

Die laaste episode van #SARIEVoorbladgesig word Maandag, 18 September om 17:30 uitgesaai op kykNET, DStv-kanaal 144.