Logo

SARIE Voorbladgesig 2017 binnekort op kykNET

Nuus
29 Mei 2017
Vanjaar bring kykNET die kameras saam op die soektog vir SARIE se 2017-voorbladgesig.
Sarie Voorbladgesig 2016 Billboard

Elmaré Schutte (41, van Pretoria), een van 2016 se wenners. FOTO: Leana Clunies-Ross

SARIE Voorbladgesig het geen inleiding nodig nie. Dié gesogte wedstryd ontvang elke jaar duisende inskrywings van vroue regoor Suid-Afrika wat meeding om op dié Afrikaanse glans-vrouetydskrif se voorblad te verskyn. Vanjaar bring kykNET die kameras saam op die soektog vir SARIE se 2017-voorbladgesig.

Karen Meiring, direkteur van kykNET-kanale, sê: “Dit is geen geheim nie dat Suid-Afrikaanse vroue wêreldwyd hul merk maak en SARIE se Oktober-uitgawe is jaarliks ’n bewys hiervan.

“Hulle is almal eg Suid-Afrikaanse vroue met ’n saamgesels-sprankel in die oë en ’n warm glimlag wat ’n vertrek kan ophelder. Dit is vir kykNET ’n voorreg om ons platform vir die wedstryd beskikbaar te stel. Ons gaan die vroue beter leer ken en al die mooimaakwenke agter die skerms deel.”

Die gewildheid van die wedstryd kan daaraan toegeskryf word dat modelwerk nie ’n voorvereiste is nie. Dit is vir die SARIE-redaksie belangriker om vir lesers die voorblad-geleentheid te gee wat gewoontlik net bekendes beskore is.

Volgens SARIE se redakteur, Michélle van Breda, is die projek vandag veel meer as net ’n wedstryd; “Dit het die hart van die tydskrif geword, want elke jaar sê tot 10 000 lesers, 18 jaar en ouer en vanoor die hele SA, vir ons: ‘Ek wíl op SARIE se voorblad wees, want dis mý tydskrif, mý taal, mý wêreld.’ By SARIE hou dit ons nederig, want dit beteken lesers het totaal eienaarskap van hul gunsteling-tydskrif geneem, soveel só dat hulle ook op die voorblad wil wees.

“Om te dink dat Voorbladgesig nou ook ’n TV-reeks op kykNET word, is net nog ’n bewys van die inspirasie van hierdie vroue. Ek glo die reeks sal veral die selfvertroue, wengees en sin vir pret van ons lesers, en van Afrikaanssprekende vroue in die algemeen, vasvang. Ek is verheug dat kykers dié keer saam met ons hierdie fenomenale wedstryd kan meemaak.”

Inskrywings het reeds gesluit en die kameras begin binnekort rol met die bekendmaking van die top-40 wat meeding om SARIE se Oktober-voorblad. Die uitsending bestaan uit 7 spesiale epsiodes wat kykers die geleentheid bied om deel te wees van uiteindelik 10 finaliste se reis na ’n glans-voorblad.

SARIE Voorbladgesig sal vanaf Augustus 2017 op kykNET (DStv-kanaal 144) te sien wees.

Gesels saam op Facebook en Twitter deur die hutsmerk #SarieVoorbladgesig te gebruik.