Logo

Nóg ’n verrassing vir Rozanne McKenzie

Nuus
05 April 2017
Aanbieder Rozanne McKenzie en haar man, Chris Bishop, verwag hul tweede pienkvoet!
Roxanne

Die bekende aanbieder Rozanne McKenzie en haar man, Chris, verwag hul tweede pienkvoet! Rozanne het kykers verras toe sy dié nuus gedeel het op haar Instagram-profiel vroeër dié week. Die paartjie het hul eersteling, James, in 2014 verwelkom en is binnekort die trotse ouers van twee! Ons het by Rozanne gaan inloer om meer uit te vind.


Hoe voel jy oor die nuus, en wat was Chris se eerste reaksie en kommentaar toe hy uitvind?
Ek is so bly! Ek en Chris het in die middel van 2016 besluit ons wil probeer vir nog ’n kind, so ons is albei so gelukkig.

Hoe het jy die nuus oorgedra aan Chris?
Ons het saam na die toetsuitslag gekyk. Dit was die oggend van Boxing Day en ons was in Engeland. Die perfekte Kersgeskenk, al was dit een dag laat.

Hoe het klein James die nuus hanteer, en hoe het jy die nuus oorgedra?
James is baie opgewonde oor sy klein boetie of sussie wat kom, maar soms dink ek hy verstaan nie heeltemal wat kom nie. Ons probeer vir hom verduidelik daar is ’n baba in mamma se maag, soos wat hy was. Ons maak ook seker dat hy nog steeds spesiaal voel, al gaan daar oor ’n paar maande nog ’n baba in die huis wees.

 

 

Hoe het jy gevoel toe jy die eerste keer die hartklop hoor?
Dis nou wel die tweede keer wat ons deur hierdie wonderlike proses gaan, maar dis altyd ongelooflik om die hartklop vir die eerste keer te hoor. Dit maak alles net werklik, dat hierdie klein mensie deel van ons wêreld gaan word. Ons het albei gehuil van blydskap.

Waarna sien julle uit?
Om die nuwe baba te ontmoet. Dit voel altyd na ’n baie lang tyd wat mens moet wag om hulle hier te hê, maar dan voel dit ook asof die tyd so vinnig verby gaan.

En waaroor is jy minder opgewonde?
Ek was met albei swangerskappe baie gelukkig dat ek glad nie oggendnaarheid gehad het nie, maar mens raak gouer moeg, so beslis die min energie – veral aan die einde kan nogal rof raak.

Wat is die beste swangerskap-raad of -wenke wat jy al gekry het?

Elke kind is anders, so vat maar elke dag soos dit kom.

En die vreemdste swangerskap-raad of -wenke?
Moenie oefen as jy swanger is nie. Ek is van plan om te oefen totdat ek moet kraam, net soos ek in my eerste swangerskap gedoen het. My dokter en my afrigter het albei gesê daar’s geen rede hoekom ek moet ophou nie, so solank ek en baba gesond is, gaan ons oefen!

Wat is die waardevolste ding wat jy by jou ouers geleer het?
My ma sê nog ál die jare vir my: “Daar is niks wat jy nie kan doen nie. As jy iets wil hê, werk hard daarvoor.”

Het jy enige wenke vir toekomstige ouers?
Doen julle eie ding. Advies wat vir ander mense werk sal dalk nie vir julle as ouers werk nie.

En die geslag van kleinding – wil julle weet?
Ons weet nog nie. Ons sal uitvind by die volgende scan. Ek is nie groot op verrassings nie.

Wie gaan die doeke omruil – jy of Chris?
Chris is so ’n goeie pa. Hy is uitstekend met James en hy gaan net so great wees met die tweede een. Ek kon nie vir ’n beter man gevra het nie. Hy doen alles – doeke, burping, the works.

Wat is jou grootste droom vir jou kinders?
Ek wil hê ons kinders moet gelukkig wees. Ek hoop dat hulle voel hulle kan hulle drome volg en hulle laat waar word, en ek wil hulle elke stap van die pad ondersteun. 

Rozanne is elke Donderdagaand om 22:00 op die kassie te sien as mede-aanbieder van die gewilde kletsprogram Flits, en was ook onlangs mede-aanbieder van Nasie in Gesprek.

Die kykNET-span is baie opgewonde oor die nuus en wens dié gesin alle voorspoed en geluk toe!