Logo

Ontmoet die Mooimaak-kundiges

Nuus
10 Mei 2017
Alle Mooimaak-behandelings sal behartig word deur ’n span gerekende en internasionaal-erkende kundiges – ontmoet hulle hier.
Mooimaak

Mooimaak met Clare Wiese-Wentzel is ’n baanbreker-werklikheidsreeks, met die fokus op radikale transformasies wat enigeen mooier sal laat lyk en voel – van binne en buite. Elke week sal kykers die mooimaak-pad saam met Clare en een van die deelnemers stap. Só kan almal deel in die bederf. Dit sluit in die nuutste en beste nie-chirurgiese skoonheidsbehandelings, estetiese tandheelkunde, ontwerpersuitrustings, splinternuwe haarstyle en toonaangewende grimeerwenke.

Alle behandelings sal behartig word deur ’n span gerekende en internasionaal-erkende kundiges – ontmoet hulle hier:

TANDARTS

Foto: JJ Serfontein

Dr. JJ Serfontein
JJ glo dat gesonde tande bydra tot ’n gesonde lewe. Sy passie is kosmetiese tandheelkunde, en hy gebruik die mees gevorderde tegnologie internasionaal beskikbaar. Onder sy kliënte tel verskeie Suid-Afrikaanse bekendes en internasionale besoekers, wat spesiaal hierheen kom vir sy kundige behandeling.

’n Biomimetiese benadering is sy leuse, om die natuurlike tandomgewing te bewaar en te onderhou. Dr. Serfontein glo aan individuele aandag vir sy pasiënte, en dus neem hy dit een glimlag per dag!

Hy is ’n aktiewe, geregistreerde lid van die volgende instansies:

South African Academy of Aesthetic Dentistry (SAAAD)
International Team of Implantology (ITI)
American Academy of Dental Sleep Medicine (AADSM)
Health Professions Council of South Africa (HPCSA)

JJ is Clare se persoonlike tandarts en hy maak seker ons aanbieder se glimlag is altyd reg vir die kamera.

Kyk gerus dié video om ons kosmetiese tandarts solank aanlyn te ontmoet.

VELBEHANDELINGS: SKIN RENEWAL


Van links na regs: Dr. Andre Truter, dr. Dalize Willemse, dr. Rulene Maré, dr. Graham Duncombe

Met die ontwikkeling in estetiese tegnologie, bied Skin Renewal die voorste nie-chirurgiese alternatief tot meer tradisionele mediese prosedures. Die estetiese sentrum, met 16 takke oor Suid-Afrika onder leiding van Dr. Maureen Allem, bied ’n omvattende diens wat ’n uitgebreide reeks van vel- en liggaamsprobleme behandel. Elke pasiënt ondergaan ’n intensiewe konsultasie, waar daar besluit word op ’n individuele pakket van behandelinge wat die spesifieke behoeftes en probleme aanspreek, en seker maak dat daar aan persoonlike verwagtinge en drome voldoen word.

Die klinieke word bestuur deur dokters wat jare se ervaring het in kosmetiese dermatologie, estetiese medisyne en anti-verouderings behandelinge. Al die mediese personeel van Skin Renewal is aktiewe lede van die Health Professions Council of South Africa (HPCSA), asook AAMSA (Aesthetic and Anti-Aging Medicine Society of South Africa).

Die dokters word ondersteun deur ’n netwerk van hoogs gekwalifiseerde susters en terapeute om vir elke pasient ’n wêreldklas ervaring te bied.

Dr. Rulene Maré
Rulene ontvang haar MBChB van die Universiteit van Pretoria in 2005. Sy het ’n belangstelling in estetiese, anti-veroudering en kosmetiese gesondheid. Sy het onder andere opleiding ontvang by die Vancouver Laser and Skin Care Centre terwyl sy vir ’n paar jaar in Kanada werksaam was. Deesdae woon en werk sy in Stellenbosch en is sy ’n gerekende lid van die Skin Renewal-span.

Dr. André Truter
André het by die Skin Renewal-span aangesluit nadat hy vir 19 jaar as plaaslike geneesheer op Stellenbosch gepraktiseer het. Hy het sy mediese graad aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf. Hy glo die verbetering van gesondheid loop hand aan hand met die verbetering van voorkoms. André het jarelange ervaring met laserbehandelinge en inspuitbare velprosedures.

Dr. Dalize Willemse
Dalize het haar MBChB aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf en het daarna haar eie praktyk in Malmesbury geopen. Na sewe jaar het sy ’n estetiese afdeling bygevoeg, en ook deeltyds saam met Skin Renewal-span begin werk. Deesdae is sy ’n toegewyde en voltydse lid van dié wêreldklas-span.

Dr. Graham Duncombe
Graham het in 1995 as mediese praktisyn aan die Universiteit van Pretoria gekwalifiseer. Daarna het hy vir 18 jaar sy eie privaatpraktyk bestuur, en deesdae konsulteer hy as lid van die Skin Renewal-span in Durban en Kaapstad. Hy spesialiseer in verskeie behandelinge, en is lid van The South African Academy of Anti-Aging and Aesthetic Medicine

HAARSTILISTE


Van links na regs: Lameeze Barendse, Flo Neacsu, Gilbert Mofubelu

Gilbert Mofubelu
Die dertigjarige Gilbert het van kleins af al sy ma, dié se vriendinne, en selfs die bure se hare mooi gemaak. Teen die ouderdom van 18 het hy ’n posisie losgeslaan in ’n etniese haarsalon, waar hy vir 3 jaar sonder enige formele opleiding (maar met hope natuurlike talent) gewerk het. Daarna het hy haarkappery gaan studeer in Kaapstad, terwyl hy sy internskap voltooi het by die gewilde salon, Spoilt Hair & Nails, in Groenpunt. Nadat Gilbert sy kwalifikasie ontvang het, was hy nog vir vier jaar by Spoilt werksaam. Deesdae styg hy uit as uitsonderlike haarstilis en haarkunstenaar onder sy eie naam, Hair By Gilbert. Hy is by die moderne haarsalon Hair (in Kloofnekstraat) gebaseer.

Flo Neacsu
Florin het in 2007 sy loopbaan saam met sy broer Soso, ’n top-stilis in Roemenië, begin. Flo se belangstelling in die wetenskap agter hare, noop hom om seminare regoor Europa en die wêreld by te woon.

Tydens sy eerste werksjaar in Suid-Afrika by Scar in Kaapstad, het hy tweede plek in die Wella Trend Vision verwerf. Kort daarna het hy sy Meester Sertifikaat in Kleur voltooi, en in 2014 het hy die haarsalon Excentric na Kaapstad toe gebring.

Flo se uitsonderlike styl kom na vore in sy meesterlike kombinasie van gevorderde kleur- en snytegnieke vir elke kliënt, van sy gereelde besoekers tot modelle en bekendes. Sy doel is om deurentyd die grense te verskuif met oorspronklikheid en innovering.

Lameez Barendse
“My belangstelling en passie vir haarstilering is deel van my DNS”, vertel Lameez. “Ek onthou hoe ek as klein dogtertjie saam met my ma haarsalon toe gegaan het en altyd so aangetrokke was tot die kreatiewe en glansryke omgewing.

“In 1998 het ek my studies aan die College of Cape Town begin, en as ’n junior stilis gewerk onder die wakende oog van Wayne Gates, een van Suid-Afrika se voorste haarstiliste.” Met 19 jaar se ervaring spog Lameez deesdae met haar eie salon, HAIR, in Kloofnekstraat, Tamboerskloof. “Ek spesialiseer in die kuns van perfekte sny en kleur, aangepas vir elke kliënt se persoonlike voorkeure.

“Die feit dat ek seker maak ek bly op hoogte van al die nuutste en jongste internasionale haartendense, verseker dat kliënte altyd teruggekom.

GRIMEERKUNSTENAAR

Foto: Reneé de Wit

Reneé De Wit
Reneé se portefeulje strek wyd en ver. Haar werk is al gepubliseer in verskeie voorste internasionale tydskrifte soos Vogue en Marie Claire UK, en plaaslik het sy al meer as 30 voorbladgesigte mooi gemaak (van Sports Illustrated tot Cosmopolitan). Haar vaardige hande het ook al bekendes soos Petra Nemcova, Steffi Graff en Julie Walters opgetooi.

Sy het grootgeword as die jongste van vier dogters en het altyd gesorg vir haar sussies se grimering. Haar natuurlike liefde vir die mooimaak-kuns het in ’n loopbaan ontwikkel, en teen die ouderdom van 21 het sy ses maande van die jaar in Londen en ses maande in Kaapstad spandeer. Sy bedryf deesdae haar eie mobiele grimeermaatskappy, Gorgeous2Go, met verskeie top-grimeerkunstenaars wat onder haar werk.

Reneé en Clare loop al ’n hele klompie jare saam, en het mekaar leer ken toe sy eers ons aanbieder mooi gemaak het vir haar 21ste verjaarsdagpartytjie. Sy het ook Clare se grimering gedoen vir haar troudag op 22 April 2016.

MICROBLADING-SPESIALIS

Foto: Lisl Boshoff

Lisl Boshoff:
In 2013 het Lisl Boshoff haarself permanent in die industrie van grimering begewe, en sy was onmiddellik verlief. Hierna ondergaan sy fundamentele en gevorderde opleiding in alle onderafdelings van kosmetiese tatoeëring.

Sy beskik oor die volgende kwalifikasies:

  • Certified Permanent Cosmetic Professional (CPCP)
  • Full member of the Permanent Cosmetics Association of South African (PCASA).

Haar Bloodborn Pathogen-sertifikaat word gereeld hernu om te verseker haar kliënte word behandel in ’n veilige, higiëniese omgewing wat voldoen aan internasionale standaarde. Vanjaar is sy ook bekroon met ’n sertifikaat vir uitnemendheid in die industrie deur PCASA.

Lisl sê: “Ek maak ’n punt daarvan om ingelig te bly oor die nuutste tegnieke. Ek glo in gereelde opleiding om my vaardighede te verskerp.

“Ek is versot op wat ek doen, en dis baie bevredigend om daagliks ’n kosmetiese verskil te kan maak in my kliënte se lewens,” vertel sy verder.

ONTWERPER

Foto: Danielle Margaux

Danielle Margaux:
Danielle Margaux is ’n trots Suid-Afrikaanse mode-ontwerper en ontwerp reeds vanaf 2009 op die hoogste vlak as dit kom by topklas ontwerpersuitrustings.

Sy het in Stellenbosch grootgeword en naaldwerk was ’n gunsteling-tydverdryf. Dit was nie lank voor sy besef het sy wil graag ’n loopbaan maak uit haar stokperdjie nie.

Terwyl sy in London by Selfridges & Co. gewerk het, verloor sy finaal haar hart op mode en terug in Suid-Afrika skryf sy dadelik in vir ’n kursus in mode-ontwerp aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie.

Danielle begin haar loopbaan as ’n junior aankoper vir ’n vooraanstaande modewinkel, waarna sy haar ontwerp-potlood as patroontekenaar skerpmaak by Kluk/CGDT, een van ons land se bekendste mode-ontwerpers. Hier word sy bevorder tot kreatiewe ontwerpassistent en produksiebestuurder, voordat sy ook saamwerk met ander groot name soos Paul van Zyl, Errol Arendz en Gabi Rosenwerth.

Haar kliënte is mense wat hou van uitsonderlike kledingstukke met ’n klassieke, dog moderne gevoel. Boonop pasgemaak en ontwerp vir elkeen se unieke spesifikasies en behoeftes. Haar diens sluit trourokke, aandrokke, skemerkelkiedrag en matriekafskeidrokke in.

Danielle se filosofie is dat elke stuk van hoogstaande gehalte moet wees en dat vaardigheid, kwaliteit en presiese handwerk moet bydra tot die perfekte pas vir elke kliënt.

Onder Danielle se kliënte tel: Rolene Strauss (voormalige Mej. Wêreld) en Jo-Ann Strauss (voormalige Mej. Suid-Afrika).

FOTOGRAAF

Foto: Marguerite Oelofse

Marguerite Oelofse
Marguerite vier tans haar agtste jaar as vryskutfotograaf. Haar liefde en lewenslange nuuskierigheid, en bekoring met pragtige beeldmateriaal het haar oortuig om by die Johannesburg Nasionale Kunsskool aan te sluit. Ná sy haar graad in 2006 voltooi het, het Marguerite haar loopbaan met werksgeleenthede in Kaapstad en Berlyn, Duitsland, afgeskop.

Haar besonderse werk word beskryf as “geverfde” foto’s wat bo-wêreldse stories vertel en die estetiese aspekte van kunstige sielservaringe uitbeeld.

’n Loopbaan-hoogtepunt was ’n eksklusiewe fotosessie vir Chanel wat Marguerite vir Marie Claire-tydskrif in Parys, Frankryk, uitgevoer het.

Sy was aangestel as een van die hoof-fotograwe by Clare se troue verlede jaar op Lourensford, omdat ons aanbieder mal is oor haar kunstige en unieke styl.

Mooimaak met Clare Wiese-Wentzel is vanaf 5 Oktober, elke Donderdag om 17:40 op die kassie.