Logo

Ons Sprokiesbruilof: Werner en Ilandé

Nuus
12 April 2017
Werner en Ilandé se liefde het in Qatar gaan draai. Hier is hul liefdesverhaal.
OSB Werner en Ilande

Werner Pretorius (27) en Ilandé de Villiers (26) se liefde het in Qatar gaan draai. Hier is hul liefdesverhaal.

Die ontmoeting

Werner Pretorius (27) en Ilandé de Villiers (26) het saam klas geloop in Potchefstroom aan die Noordwes-Universiteit, maar Ilandé het eintlik eers van hom gehoor toe hulle die dag (in 2012) graad gevang het. Werner het haar naam op die program gesien, vir haar ’n uitnodiging op Facebook gestuur en hulle het mekaar later vir koffie ontmoet.

Hy het nie gewaag om met haar in die klas te gesels nie, sê Werner. “Sy was altyd die beterwetende een gewees.”

Hy meen dit was so te sê liefde met die eerste oogopslag. Ilandé stem saam: “Die oomblik toe ek hom vir die eerste keer sien het ek geweet dit kan werk!”

Maar Ilandé was op pad Qatar toe om as lugwaardin te werk, en hulle het ’n langafstand-verhouding begin. “Na 9 maande alleen in die verte het Werner ook in Qatar kom werk om nader te wees,” vertel sy.

Werner was daar vir ses maande, terwyl Ilandé meer as twee jaar daar gewoon en gewerk het. Sy het middel-2015 teruggekeer na Suid-Afrika en hulle het daardie jaar in Desember verloof geraak.

Die verlowing

“Ek het geweet dit gaan een of ander tyd gebeur,” vertel Ilandé.

Die paartjie het ’n vertoning by Montecasino in Johannesburg saam met familie gaan kyk. Toe almal ry, het Werner gesê hy wil nog langer bly om iets te gaan drink. Hulle het ’n pragtige restaurant opgespoor en daar gaan sit. Werner het vir Ilandé gevra om haar oë toe te maak en toe sy dit weer oopmaak was daar ’n ring op die tafel. “Toe sê ek ja – dadelik!”

Die troue

Die paartjie trou by Green Leaves Country Estate in Hartbeespoort. Hulle het op ’n vintage tema besluit (“tradisioneel met ’n twist!) en het slegs hul naaste vriende en familie genooi om die dag saam met hulle te deel. Ilandé het haar trourok in China laat maak terwyl sy oorsee gereis het.

Ons Sprokiesbruilof is Donderdae om 20:30 op kykNET (kanaal 144). Bly hier op hoogte en gesels saam op sosiale media – op Facebook, Twitter (gebruik die hutsmerk #SprokiesBruilof), Instagram en WeChat (gebruik die WeChat-ID kykNETtv om kykNET as ’n “vriend” by te voeg).