Logo
slim BB kwela
web uni tv guide

Kwêla

144TydskrifprogramPG13 VL

Ons Sprokiesbruilof: Therese Benade in die wolke

Nuus
22 Junie 2017
Therese Benade oor haar verlowing en naderende troudag.
OSB Therese

Om nou Sorina se woorde op Ons Sprokiesbruilof te leen: “Die liefde is so mooi”. ’n Mens moet met haar saamstem, wanneer Kwêla-aanbieder Therese Benade oor haar verlowing gesels.

Wat het julle gedoen om julle verlowing te vier?

“Christian se beplanning was perfek – hy het my op 1 Desember gevra om te trou. Kort daarna was sy kantoor se jaar-afsluitingsfunksie en ook sy vyftigste verjaarsdagpartytjie. So ons vriende en familie was almal saam. Ek moet bieg, die verlowing het die vyftigste effe ge-hijack. Dit was ’n reuse ABBA-partytjie op NASDAK. Onvergeetlik.”

Wat doen julle om die ervaring van verloof wees te geniet?

“Ek praat so dikwels as wat ek kan van ‘my verloofde’, voor ek hom nie meer dit kan noem nie. Ons sal nou en dan nog vir mekaar kyk en sê ‘ek kan nie glo ek trou binnekort met jou nie’. Dit voel regtig te goed om waar te wees.”

Maak jou naderende troudatum jou opgewonde of senuweeagtig?

“Die opwinding is veel groter as die spanning, maar die tyd haal my in. Ek het maande terug al begin beplan, maar dis ongelooflik aan hoeveel goed jy moet dink. En dis ’n groot dag. Mens bou dit vir soveel jare in jou gedagtes op, en nou is dit hier... dis druk.”

Hoe het julle op die venue besluit?

“Ons trou by Saronsberg in Tulbagh. Dis baie gerieflik, aangesien die seremonie en partytjie by dieselfde plek gebeur. Dis ook naby vir al die klein kinders in die familie om iewers te sit en DVD kyk saam met ’n oppasser, sonder dat hulle ouers te veel bekommer. Én die plek is ongelooflik mooi. Dis elegant sonder om opgesmuk te wees. Daar is die mooiste kuns (waaroor ons albei mal is), die mense is fantasties, en die wyn... wel, dít was net die wenner!”

Wat is vir julle belangrik wanneer dit kom by jul bruilof?

“Vir ons is die partytjie tops – ons het ’n baie goeie DJ bespreek. Ons gaan lekker gemaklike kos hê. En vir my is die foto’s en video kosbaar. Mens gaan nie weer al daai mense onder een dak kry nie, so ek wil dit goed vasvang.”

Na watter deel van die getroude lewe sien jy die meeste uit?

“Om elke dag van my lewe te weet: ek is so bevoorreg om Christian Bam se vrou te wees! Ek het my iemand gevind.”

Ons Sprokiesbruilof se finale episode word Donderdag 29 Junie om 20:30 op kykNET (kanaal 144) uitgesaai. Bly hier op hoogte en gesels saam op sosiale media – op FacebookTwitter (gebruik die hutsmerk #SprokiesBruilof), Instagram en WeChat (gebruik die WeChat-ID kykNETtv om kykNET as ’n “vriend” by te voeg).