Logo

Ons Sprokiesbruilof: Rozanne se Europese droomdag

Nuus
25 Mei 2017
Ons het met aanbieder Rozanne McKenzie gesels oor die unieke uitdagings om ’n bestemmingstroue te reël.
Sprokiesbruilof_Rozanne

Fotos deur Ben Tomlin van Touch Photography

Aanhangers van Ons Sprokiesbruilof wat op Donderdagaande ’n bietjie langer op kykNET ingeskakel bly, sal dadelik vir Rozanne McKenzie herken.

Dié Flits-aanbieder het in 2013 getrou by die pragtige Bearwood College in Engeland. Sy het met ons gesels oor die unieke uitdagings om ’n bestemmingstroue te reël.

As jy by ’n baie spoggerige plek wil trou, sal jy lank vooruit moet bespreek. Rozanne en haar man, Chris Bishop, het al meer as ’n jaar voor hul troudatum die bespreking by Bearwood College gemaak.

Rozanne se ma en skoonouers was onvervangbaar met die reël van die troue. Hulle was in Engeland gedurende die aanloop daarvan. “Toe hulle die kos gaan proe het, het ons by hulle aangesluit via Skype,” sê sy. “Hulle het die wyn en kos ge-score, en ons het ons keuses vir die groot dag gemaak op grond van wat ons wou hê en wat hulle van die verskillende disse gedink het – dankie vir tegnologie.”

Met Rozanne se rok was daar spesiale voorsiening gemaak vir die feit dat die bruilof gedurende die Europese winter sou plaasvind, “maar ek was so vol opgewondenheid, dat ek heeltemal van die koue vergeet het.

“Ek het wel ’n paar wellies gehad, wat perfek gewerk het, vir toe ons ons foto’s buite in die woods geneem het.”

Die paartjie het hulle uitrustings, uitnodigings en dankie-sê geskenkies in Suid-Afrika laat maak. Verder het hulle van Britse verskaffers gebruik gemaak.

Gallery

Weens die groot onkoste om, soos Rozanne dit stel, ’n troue “in ponde te betaal”, het hulle slim te werk gegaan met gaste se verblyf. “Ons het meeste van die hotel waar almal vir die aand van die troue gebly het uitgeboek, so daar het ons afslag gekry.”

In Engeland moes Rozanne en Chris hul aanstaande huwelik by die stadsraad van Wokingham (die dorp waar hulle getrou het) registreer. “Ons het hierdie gedoen toe ons die vorige jaar daar was met vakansie”, sê sy.

Volgens regulasies moes hulle ook vir ten minste ’n week in die Verenigde Koninkryk gewees het voor hul bruilof. Terug in Suid-Afrika, het hulle ook hulle huwelik registreer by die departement van binnelandse sake.

Rozanne het in 2009 reeds die inspirasie gekry vir haar sprokiesbruilof en sy sê entoesiasties, “so drie jaar later het my droom waar geword.”

Ons het onlangs ingeloer by Rozanne om met haar te klets oor die koms van haar tweede pienkvoet. Lees die volledige artikel.

Rozanne en mede-aanbieder Bouwer Bosch is Donderdae om 22:00 te sien op Flits.

Ons Sprokiesbruilof is Donderdae om 20:30 op kykNET (kanaal 144). Bly hier op hoogte en gesels saam op sosiale media – op FacebookTwitter (gebruik die hutsmerk #SprokiesBruilof), Instagram en WeChat (gebruik die WeChat-ID kykNETtv om kykNET as ’n “vriend” by te voeg).