Logo

Ons Sprokiesbruilof: ’n Troue by die see, kom wind of weer

Nuus
27 April 2017
’n Buite-troue in die hartjie van die Overberg is die sprokiesbruilof van Bredasdorp se Elthea van As en Nathan Hendricks.
Ons Sprokiesbruilof

Partykeer is ouderdom net mensgemaakte grense, en dis duidelik dat Elthea van As (39) en Nathan Hendricks (30) daardie grense geskei het.

“Ons het oor en weer gekuier na mekaar toe, en tot en met vandag toe kuier ons nog steeds oor en weer,” vertel Nathan. Volgens hom gaan hulle dié kuier “klaarmaak” deur te trou.

Die paartjie trou op Agri Dwala, ’n gasteplaas in die hartjie van die Overberg net buite Bredasdorp, en die tema het alles en meer met die see te make. Elthea sê: “Ons gaan staan altwee met ons stokke langs die see om vis te vang as ons die tyd kry.”

Die paartjie gebruik hul gunsteling-kleure saam met die kleure van die see vir hul bruilof. “Ek is mal oor blou,” sê Elthea. “Hy’s mal oor wit en swart.” Dié kleure kombineer hulle met turkoois en silwer vir hul perfekte dag.

Verder is die paartjie gaande oor wyn, en bestee baie tyd by Strandveld-wynlandgoed om die perfekte verskeidenheid aan hul gaste te voorsien. Nathan sê: “Dis belangrik om ’n goeie hoeveelheid wyn by ’n troue te hê.”

Elthea verduidelik dat sy nie ’n “blomme-mens” is nie. Daarom gebruik sy skulpe in die skouerruikers om die see-tema van hul sprokiesbruilof verder te komplimenteer. Sy span vir Suzán Vlok in hiervoor.

Volgens Suzán is dít ’n makliker opsie vir die paartjie. “Dit kan nie oud word nie,” sê sy. “Ons kon dit ook lank vooruit gemaak het, so dit maak dit makliker vir [Elthea].”

Elthea se rok word deur Michelle Louw, ’n vriendin in Vredenburg, gemaak, en Elthea was baie lank voor die troue reeds oortuig daarvan dat dié rok haar droomrok sou wees.

“Ek het die rok net eenkeer, lank terug, aangepas,” vertel sy. “Michelle het die rok gemaak sonder om self my mates te neem.”

Verder het Michelle vir Elthea nog ’n rok gemaak – ’n spesiale rok vir ’n spesiale dans! “Ek kan nou ongelukkig nie die Dirty Dancing moves in die [trourok] doen nie. Dit is hoekom ek die ander rok het,” verduidelik Elthea.

Die paartjie het besluit om hul eie dekor te maak om sodoende nie net geld te bespaar nie, maar ook meer tyd saam met mekaar te spandeer weens die lang ure wat Nathan moet werk.

Vir hul sprokiesbruilof maak dié paartjie spesiale geskenke vir elke tafel wat pas by die see-tema.

Slegs twee ure voor die troue, en Nathan besef dat hy die ringe moontlik vergeet het. Sorina spring in en help om seker te maak dat die ringe veilig by die kansel beland.

Die wind waai, maar dit keer nie dié sprokiesbruilof om plaas te vind nie. Vir Elthea is dit ’n onvergeetlike oomblik op pad na die kansel. “Ek het nie die wind gevoel nie,” sê sy. Dis ’n oomblik wat sy “nie kan beskryf in woorde nie”, maar vir die res van haar lewe sal onthou.

By die onthaal het Elthea ’n baie spesiale gedig wat sy aan Nathan lees. Volgens haar sit sy al haar gevoelens op papier, wees dit hartseer of geluk. En dit is ’n spesiale oomblik tussen haar en Nathan wanneer sy die gedig voor al hul gaste aan hom rig.

Nathan het egter niks voorberei nie, maar maak op daarvoor deur almal vir hul teenwoordigheid te bedank.

Die Hendricks-troue word afgesluit met ’n pragtige dans, wat die paartjie vooraf geoefen het, en ’n heerlike kuier saam met hul familie en vriende. Dis ongetwyfeld ’n sprokiesbruilof!

Ons Sprokiesbruilof is Donderdae om 20:30 op kykNET (kanaal 144). Bly hier op hoogte en gesels saam op sosiale media – op FacebookTwitter (gebruik die hutsmerk #SprokiesBruilof), Instagram en WeChat (gebruik die WeChat-ID kykNETtv om kykNET as ’n “vriend” by te voeg).