Logo

Ons Sprokiesbruilof: ’n Droom word waar

Nuus
10 Maart 2017
Rikus en Linda is uiteindelik meneer en mevrou! Lees hier wat in vandeesweek se episode van Ons Sprokiesbruilof gebeur het.
OSB Rikus Linda 00

Dis die dag waaroor hulle ’n jaar en ’n half lank droom, en wat ’n sprokiesverhaal is dit nie!

Rikus (52) en Linda (49) van Kempton Park trou vandag by Gabbata Lodge in ’n vuurwarm Pretoria, maar hul pad tot hier was nie met maanskyn en rose besaai nie. Rikus het die vrou van sy drome jare gelede deur sy vingers laat glip en ’n gruwelike ongeluk het hulle in 2015 bymekaar gebring.

Linda het ’n moeilike jaar agter die rug, maar is beslis gereed om ewige trou aan Rikus, met wie sy in 2011 bevriend geraak het, te beloof.



Aan Linda se sy op haar mooiste dag is haar twee dogters (Charné en Chantelle), Rikus se dogter Nicole en haar drie kleinkinders. Rikus se broer, Christo, gaan hom bystaan.

“Ek voel goed en ek lyk mooi,” sê Linda oomblikke voor sy die pad na die kansel aandurf. Eers wil die musiek nie begin speel nie, maar dan breek die groot oomblik aan: “My hart was maar seer,” sê Rikus. “Ek kon nie wag dat sy by my uitkom nie.”

“Ja, dominee,” antwoord die paartjie wanneer dit tyd is om beloftes uit te ruil. Dan word meneer en mevrou Brits met balonne en borrels begroet, en Linda vergeet sommer van die balonne wat Rikus vroeër per ongeluk by die kerk opgesit het.

“Nie net is ek getroud oornag nie, maar ek is ook ’n oupa oornag. Wat ’n voorreg,” sê Rikus.

By die onthaal stel Chantelle ’n heildronk in: “Mamma was deur ’n baie moeilike tyd die laaste paar jaar… en ek kan sien Oom Rikus – Pa – maak Mamma baie, baie gelukkig.”

Rikus sê: “Ek gaan vir haar opstaan, ek gaan vir haar baklei, want dís my vrou.”

Hulle het ’n tweede kans gekry, sê hy, én ’n sukses daarvan gemaak – soos dit ’n ware sprokiesbruilof betaam!

Kyk hier na foto’s vanuit die episode:

















Ons Sprokiesbruilof is Donderdae om 20:30 op kykNET (kanaal 144). Bly hier op hoogte en gesels saam op sosiale media – op Facebook, Twitter (gebruik die hutsmerk #SprokiesBruilof), Instagram en WeChat (gebruik die WeChat-ID kykNETtv om kykNET as ’n “vriend” by te voeg).

Herhalings word op Vrydae om 13:30, Sondae om 10:00 en 21:30, Maandae om 10:30 en Woensdae om 11:00 uitgesaai.