Logo

Ons Sprokiesbruilof: Herman en Hanlie

Nuus
06 Junie 2017
Herman en Hanlie trou ’n dag ná die sewende herdenking van hul verhouding.
OSB Herman en Hanlie

Die ontmoeting

Hanlie Nel (29), ’n kliniese sielkundige, is twee dae ouer as haar verloofde, Herman van Deventer (29), ’n rekenmeester. “Sy dra die broek,” spot Herman. “Maar dis vanselfsprekend.”

Hulle is in dieselfde hospitaal gebore en was in dieselfde babakamer, so Hanlie spot altyd en sê Herman “het my tóé al uitge-check.”

Op universiteit is Hanlie deur ’n vriendin na ’n braai genooi, wat by Herman se huis gehou is. Dié rustige man, wat boonop met enigiemand oor die weg kan kom, het dadelik Hanlie se aandag getrek. Herman dink egter dis sy oulike Engelse bulhondjie wat Hanlie finaal oortuig het.

Herman was “mal verlief” op Hanlie van die eerste dag af. Hy is gek oor dié blondine se liefde vir mense, en die wyse waarop sy ander hanteer.

Die verlowing

Die paartjie het Europa in Julie 2015 besoek en die enigste item op Hanlie se bucket list was om die brug met liefdeslotte in Parys, Frankryk, te besoek. Herman het beplan om haar híér, in die stad van liefde, te vra om te trou, maar daarteen besluit toe hy sien hoe baie mense daar op die brug was.

Hy het toe op ’n bruggie in Brugge, België, vir Hanlie ’n pienk slot gegee met die woorde “trou asseblief met my” daarop gegraveer. Hulle het daarna die slot aan die brug gehang en die sleutel in die water gegooi. “Ons sal maar eendag dalk gaan kyk of hy nog daar is,” sê Herman.

“Ons weet nie of ons hierdie rêrig mag sê nie, jy weet,” sê hy, omdat dit nie eintlik ’n “slotbrug” is nie.

Dis sewe jaar nadat die paartjie hul verhouding begin het, en Hanlie weet sonder twyfel dat Herman die man van haar drome is. Herman sê: “Sy maak ’n goeie tyd net baie beter.”

Die troue

Herman en Hanlie trou by Moolmanshoek buite Ficksburg, in ’n pragtige “boskerk”.

Ons Sprokiesbruilof is Donderdae om 20:30 op kykNET (kanaal 144). Bly hier op hoogte en gesels saam op sosiale media – op FacebookTwitter (gebruik die hutsmerk #SprokiesBruilof), Instagram en WeChat (gebruik die WeChat-ID kykNETtv om kykNET as ’n “vriend” by te voeg).