Logo

Ons Sprokiesbruilof: Etiket vir bruidspaartjies

Nuus
22 Junie 2017
Nataniël gee etiketriglyne vir bruilofte.
OSB Nataniel Paartjie Etiket

Is jy bekommerd dat jou optrede nie plegtig genoeg sal wees by jou eie troue nie, al het jy elke episode van Ons Sprokiesbruilof gekyk in voorbereiding? Toemaar. Nataniël – wat binnekort terugkeer na kykNET vir Edik van Nantes 3 – kan ons almal ’n ding of twee leer van beleefdheidsvorme by bruilofte.

As jy vroeër na ’n bruilof genooi was deur een paartjie, moet jy verplig voel om hulle later na jou bruilof toe te nooi?

“Elke troue is anders, elkeen het ’n ander begroting, ’n ander tipe gastelys, ’n ander gevoel. Nooi wie jy daar wil hê vir jou spesiale dag. Sommige mense nooi almal wat hulle ooit ontmoet het, weens ’n gebrek aan intieme vriende.”

Is dit aanvaarbaar om vir jou gaste te sê dat julle, as bruidspaar, nie trougeskenke wil hê nie, maar eerder geld wil hê?

“Dis doodgewoon onbeskof om vir enigiets te vra, geskenk of geld. Gaste bring iets as ’n gebaar van liefde of goeie wense, nie omdat hulle ’n maatjie enigsins iets skuld nie. Ek weet mense doen dit, maar dit gaan my verstand te bowe hoe jy iemand voorskrifte oor ’n geskenk kan gee. Tensy ’n gas vra wat jy sou verkies, dis ’n heel ander storie.”

Is daar iets wat paartjies kan doen wanneer gaste opdaag en nie deftig genoeg vir die geleentheid aangetrek is nie?

“Sit die sproeier aan, ’n nat gas vertrek onmiddellik. Jy ken hopelik jou gaste goed genoeg. Hoekom sou jy iemand wat ’n waagstuk is, nooi na ’n troue? As dit nie anders kan nie, soos met familie, gee ’n wenk op die uitnodiging en volg dit weer op.”

Kleredragvoorskrifte

As jy ’n beeld in jou verbeelding het van hoe jy wil hê jou gaste getooi moet wees, maar nie weet wat is die term daarvoor nie, hier is Nataniël se opsomming van kleredragvoorskrifte:

Informeel (casual)
“Bly weg van so ’n troue, dit kan net lelik raak. Tensy dit hippies, inbrekers of strandlopers is, vra niemand dat gaste informeel opdaag nie.”

Netjies-formeel of semi-formeel
“Mense gebruik sulke terme om ’n gewone dagtroue of huistroue deftig te laat klink. ’n Das is nie nodig nie, ’n baadjie wel, en dames kan langbroeke en platterige skoene dra.”

Formeel
“Dit beteken ’n pak met ’n das vir mans en ’n kort rok vir dames. ’n Strikdas en ’n aandrok is net nodig wanneer ’n uitnodiging “BLACK TIE” aandui, nie vir “FORMEEL” nie. Die deftigste geleentheid is “WHITE TIE”. Mans dra ’n lang manelpak of snyersjas en vroue is verplig om ’n balrok te dra.”

Ons Sprokiesbruilof se finale episode word Donderdag 29 Junie om 20:30 op kykNET (kanaal 144) uitgesaai. Bly hier op hoogte en gesels saam op sosiale media – op FacebookTwitter (gebruik die hutsmerk #SprokiesBruilof), Instagram en WeChat (gebruik die WeChat-ID kykNETtv om kykNET as ’n “vriend” by te voeg).