Logo

Ons Sprokiesbruilof: Eerste liefdes

Nuus
24 Maart 2017
Lees hier wat in vandeesweek se episode van Ons Sprokiesbruilof gebeur het.
OSB Ella Christo 00

Ella Hiles (31) en Christoffel Jansen van Vuuren (33) van Pretoria is eerste liefdes. Hulle was maar 13 en 15 jaar oud toe hulle vir die eerste keer gekys is en al het die lewe vreemde draaie met hulle geloop (hulle was twaalf jaar lank uitmekaar), weet hulle vandag meer as ooit tevore dat hulle vir mekaar bedoel is.

Ella en Christo het ook ’n kleinding op pad – ’n boetie of sussie vir Ella se kostelike “prinsessie”, wat drie jaar oud is.

Die paartjie se sprokiesbruilof was amper nie ’n werklikheid nie: Ella wou aanvanklik in die hof trou, maar Christo het daarop aangedring dat hulle dit behoorlik doen.

Boonop was daar probleme met die rokke wat spesiaal vir Ella se gevolg – wat reis van Spanje en Kaapstad – ontwerp en laat maak is. “Maar nou is ons almal aangetrek en nog niks het geskeur nie!” sê Ella.

“Ek sou nooit self so iets gekies het nie,” sê Ella oor die trourok wat haar ma eintlik vir haar uitgekies het. “Dis baie girly,” sê sy. “Maar dit lyk eintlik baie mooi. Ek is baie gelukkig met my keuse.”

Christo en Ella trou in Pretoria by Rose View Hill en het op ’n kleurskema van rooi en swart besluit.

Om by die dekor te pas, kies Christo ’n swart uitrusting met ’n roosrooi das en onderbaadjie.

“My pa gaan huil en ek voel ek gaan saam met hom huil,” sê Ella ’n halfuur voor sy by Christo voor die kansel aansluit. Dis ’n emosionele oomblik wanneer hul groot droom uiteindelik ’n werklikheid word.



“Ek het gevoel hoe bewe die kakebeen,” spot Christo. “Toe ek haar sien instap, toe weet ek.”

Die onthaal is ook ’n groot sukses (en die swart troukoek ’n treffer!), en die bruid en bruidegom is dankbaar hulle het besluit om hul spesiale dag saam met hul geliefdes te vier – ’n ware sprokiesbruilof!

Kyk hier na die foto’s:









Ons Sprokiesbruilof is Donderdae om 20:30 op kykNET (kanaal 144). Bly hier op hoogte en gesels saam op sosiale media – op Facebook, Twitter (gebruik die hutsmerk #SprokiesBruilof), Instagram en WeChat (gebruik die WeChat-ID kykNETtv om kykNET as ’n “vriend” by te voeg).

Herhalings word op Vrydae om 13:30, Sondae om 10:00 en 21:30, Maandae om 10:30 en Woensdae om 11:00 uitgesaai.