Logo

Ons Sprokiesbruilof: Die winskoopbruid

Nuus
01 Junie 2017
Daniëlla van Heerden weet hoe om ’n winskoop op te spoor, selfs as dit by trou kom.

Foto’s: PICTURE ME&U

eNuus-anker en -veldverslaggewer Daniëlla van Heerden maak geen geheim daarvan dat sy voortreflik kan lyk sonder om bankkrot te gaan nie. Miss Bargainista – soos sy aanlyn bekend staan – vertel Ons Sprokiesbruilof-kykers hoe sy en haar man, Cornél, hul troue in 2014 betowerend én bekostigbaar gemaak het.

Troulokaal: Ou Klipkerk (NG Gemeente Heidelberg).
“Heidelberg het lieflike historiese geboue en dit was vir my mooier as enige venue.”

Onhaallokaal: Skoolsaal.
“Ons het die skoolsaal teen ’n baie goeie prys gehuur. ’n Plaaslike diensverskaffer op die dorp het ons toe gehelp om tafels, stoele ensovoorts daarheen te karwei.”

Troumotor: ’n Bloedrooi tuk-tuk.
“Ook veel goedkoper as ’n duur troukar. Toe kon ons as bruid en bruidegom daarmee in die strate rondrits, tussen die seremonie en die onthaal.”

Uitnodigings (ontwerp): Skoonsus.
“My skoonsussie is ’n baie goeie grafiese ontwerper en sy het haar talente gratis aangebied en ons baie geld help bespaar.”

Spyskaart (“drukwerk”): Ook Skoonsus.
“Sy het die spyskaart in pragtige sierskrif op ’n groot swartbord neergeskryf met kryt.”

Dekor: Speelkaarte.
“Ek het vir die bruidegom en sy strooijonkers self boutonnières gemaak van kaarte. Ons tafelplasings was reuse-kaarte in fotorame. Ons het ook groot kaarte aan ’n lint gebind en opgehang, pleks van tipiese bunting-vlaggies.”

Dankie-sê geskenkies: Zam-Buk-salf.
“Pienk vir die vroue, groen vir die mans. Ietsie klein en mooi, maar prakties.”

Troukoek: Geen... soortvan.
“Eerder ’n lekker poedingstafel met klomp verskillende soorte koek, tert en soethappies.”

En wat van die foto’s?
“Ons besef dat dit jare later die enigste tasbare herinneringe van ons troue sal wees. Ons weet uitstekende fotograwe is nie die goedkoop fotograwe nie, en was dus bereid om hier ruimer te begroot.”

Ook so, met die rok.
“Ek is mal oor mode en mooi rokke, en dié is tog een van die mooiste rokke wat mens ooit sal dra. Ek het saam met die ontwerper Magda Grové gewerk om my droomrok van meet af te maak.”

As jy terugkyk na die dag?
“Daar was sowat 160 gaste en dit was ’n heerlike dag, net te kort en vinnig verby.”

Kyk hier onder na foto’s van haar sprokiesbruilof.

Gallery

Ons Sprokiesbruilof is Donderdae om 20:30 op kykNET (kanaal 144). Bly hier op hoogte en gesels saam op sosiale media – op FacebookTwitter (gebruik die hutsmerk #SprokiesBruilof), Instagram en WeChat (gebruik die WeChat-ID kykNETtv om kykNET as ’n “vriend” by te voeg).