Logo

Nuwe komedie se rolverdeling bekend!

Nuus
20 Oktober 2017
Die vervaardigers van Elke Skewe Pot, Rous House is terug met hul nuuste skepping.
Die_Kasteel

Vyf bekende kykNET-gesigte is terug op die kassie en span kragte saam in ’n spinternuwe komedie, Die Kasteel, wat Januarie die kykNET-kassie tref.

’n Gesiene paartjie, belegger Eckard (Hannes Muller – Villa Rosa) en eks-skoonheidskoniging Tina-Marie (Dorette Potgieter – Villa Rosa) gaan deur ’n finansiële verknorsing en besluit om hul “Kasteel” in Waterkloof te omskep in ’n boetiekhotel.

Michellay (Cintaine Schutte – Phil 101) is hul millenniër-dogter wat vas glo sy is die volgende Instagram-ikoon wat miljoene followers vermaak.

Wilson (Solomon Cupido – Pad na Jou Hart) is die lojale tuinier en mrs. Dube (Pulane Sekepe – #Koelpixels) is die reguit, vol nonsens, skerpsinnige huishulp waarsonder die De Wet’s nie kan funksioneer nie.

Dan is daar natuurlik amper vier gaskunstenaars in elke episode waarna kykers kan uitsien. Pierre van Pletzen, Josh Rous en Andre Odendaal is die regisseurs, en Hannes Brümmer maak seker die gehoor is ter alle tye reg ingestel om dié 26 episode onortodokse komedie te geniet.

Die Kasteel word voor ’n gehoor verfilm, en die publiek kry die kans om deel te neem.

Wil jy graag deel wees van die gehoor vir kykNET se skreeusnaakse klug, in die styl van Fawlty Towers? Dis gratis! Stuur jou naam en die datum wat jy verkies na [email protected] en ons kontak jou direk.

Datums:

21 en 28 Oktober 2017;
4, 11, 18 en 25 November 2017;
2, 9 en 16 Desember 2017; en
17 en 23 Januarie 2018.

Tyd: 13:00 tot 18:00 (met ’n pouse van 30 minute)
Plek: Sasani Studios, 2 Johannesburg Road, Highlands North

Komediant Hannes Brümmer sal jou vermaak gedurende die opname van elke episode. Kom kyk en wees deel van wat werklik agter die skerms gebeur.