Logo
Hotel

Nuwe komedie bekyk kleindorpie-hotel

Nuus
18 Mei 2016
Hotel, wat van 11 Julie om 20:30 op kykNET uitgesaai word, is ’n nuwe komediereeks wat ’n substandaard-hotel en sy kleindorpie-personeel bekyk.
Hotel Schalk Bezuidenhout_Danny Beyers

Schalk Bezuidenhout vertolk die rol van Danny Beyers in Hotel


In die hartjie van Mpumalanga, in die klein dorpie van Fransenburg, staan Die Fransen Hotel. Eens die dorp se trots. Eens ’n baken. Eens. Nou skaars ’n een uit vyf op Trip Advisor.

Hotel, wat van 11 Julie om 20:30 op kykNET uitgesaai word, is ’n nuwe Afrikaanse mokumentêr wat handel oor hoe ’n middeljarige hotelbestuurder, Ferdie Kruger, en sy kleindorpie-personeel, spartel om dié substandaard-hotel se deure oop te hou.

Die groter Lourier-hotelgroep koop Die Fransen oor en stuur ’n jong konsultant, Thomas van As, om die klein hotel op Lourier-standaard te kry. Ferdie en Thomas se bestuursmetodes is uiters uiteenlopend en ons kyk en geniet hoe dié twee dinge uitwoed om hul stempel op die hotel af te druk.

Die reeks kom uit die penne van Bennie Fourie (Vuil Wasgoed) en Stiaan Smith (Beurtkrag, Sy Klink Soos Lente). Fourie en Smith maak ook saam hul regie-debuut met Hotel. Die komedie gee ’n nadere kykie na wat in ’n kleindorpie-hotel aangaan, hoe die personeel met mekaar omgaan, maar hoofsaaklik hoe ’n kleindorpie-hotel nié moet bestuur word nie.





Meer oor die hoofkarakters:

Ferdie Krugervertolk deur James Borthwick

Ferdie is aan die hoof van die hotel. Hy is die aktiewe drywer van die storie. Dit is sy verwronge sienings en metodes wat die hotel uniek maak en wat ons gaan geniet om na te kyk. Ferdie bevind homself aan die begin van die reeks in ’n posisie waar hy opgewonde is om die leisels oor te neem by die vorige eienaar, wat hom nie toegelaat het om sy idees te implementeer nie.

Wanneer Thomas vir drie maande van Lourier af gestuur word om veranderinge te implementeer, moet Ferdie weer van vooraf veg om dinge op sy manier gedoen te kry.

Thomas van Asvertolk deur Beer Adriaanse

Thomas is deur Lourier gestuur om die hotel op dieselfde spoor as die res van die Lourier-groep te kry. Thomas ag homself beter as die mense van die klein dorpie. Sy pa is een van die Lourier-hotel-grootkoppe, wat hom hierheen gestuur het om hom ’n les te leer. Om deur sy pa aanvaar te word is ’n groot dryf en grootliks die rede hoekom hy die hotel suksesvol wil sien.

Hy val in as die hotel se assistant-bestuurder, maar is eintlik in die geheim daar om verslag te doen aan Lourier oor die bekwaamheid van die personeel. Thomas geniet dit aanvanklik as Ferdie dinge op sy eie manier doen en gee vir Ferdie net genoeg tou om homself mee te hang. Tóg raak Thomas lief vir die werknemers in die hotel en word dit ál hoe moeiliker vir hom om te dink dat hy hierdie mense se werk kan kos.

Jony Scholtzvertolk deur Simoné Nortmann

Jony is die karakter deur wie se oë ons meeste van die belaglikhede in die hotel dophou. Sy’s emosioneel baie sterk en volwasse, en het al genoeg moeilike tye ervaar dat sy geleer het om die lewe met ’n knippie sout te vat. Sy het gaan swot in die groot stad, soos baie van haar vriende na skool, maar dit het nie vir haar uitgewerk nie, en hoewel sy in haar agterkop sit met die gevoel van teleurstelling omdat sy nooit haar studies voltooi en drome verwesenlik het nie, laat sy nie toe dat dit haar té veel affekteer nie.

Sy kom uiterlik baie fyn en ‘dorpsmeisie’ voor, maar haar bitsige houding en dik vel is ’n sterk komiese verrassingselement. Sy is ook die rede hoekom die hotel nog staan, en die ware leier agter die dag tot dag se werkinge. Sonder Jony se onder-die-tafel bestuur sou die hotel lankal gevou het.

Danny Beyersvertolk deur Schalk Bezuidenhout

Danny het groot drome om eendag ’n akteur in Johannesburg te word. Hy slyp daaraan deur deel te wees van Fransenburg se dramageselskap. Die werk by die hotel het in sy skoot geval en ná die eerste episode voel Ferdie sleg en stel hom permanent aan. Dis die ideale werk vir Danny, want hy kan tussendeur sy dramaklasse bywoon. Hy berei ook gereeld oudisies voor saam met van die hotel se werknemers. Hy is nie so seer optimisties as wat hy nie die slegte kant in situasies raaksien nie.

Hy het ’n crush op Jony van die begin af, maar wanneer hy uitvind Malanie hou van hom begin hy in haar belangstel.

Maggie Conradievertolk deur Sandi Schultz

Maggie werk al vir meer as twintig jaar vir die hotel. Sy is skaam en neem baie trots in haar werk. Sy’s ’n gemiddelde sjef – nie swak nie, net nie briljant nie. Die hotel het nog nooit meer van haar vereis nie, so sy cruise wat die werk aanbetref. Die oorname van Lourier maak haar bang, want sy glo daar gaan afdankings wees.

Wanneer sy wel met mense verskil kruip sy nie in haar dop nie, maar raak sy passive aggressive. Sy en Brenda sit nie langs dieselfde vuur nie. Sy is al ’n ouma en is nogal tech savvy. Sy hou Afrikaanse bands en sepies op Facebook dop en kook van haar tablet af.

Malanie Schmidtvertolk deur Mila Guy

Malanie is die kelnerin wat net werk vir haar eie gewin en is nie ’n span-speler. Sy betaal haar eie studies – sy swot Geskiedenis deur Unisa. Sy is soos ’n rebelse tienerdogter as mens na die hotel sou kyk as ’n huis. Malanie is slim, maar wys nie baie van haar emosies nie. Tog, ná een skottelgoedwassessie saam met Danny, verander haar siening so klein bietjie. Teen haar wil ontwikkel sy ’n crush op Danny en ’n oulike liefdesverhaal ontknoop.

Sy geniet dit om mense uit te haal op só ’n slinkse manier dat hulle nie eers agterkom dat sy dit doen nie.

Brenda Guntervertolk deur Martelize Kolver

Brenda is verantwoordelik daarvoor om kliënte uit te vat op uitstappies – in en om Fransenburg. Sy is ook verantwoordelik vir die bemarking van die hotel. Sy het nie ’n sif wanneer dit by praat kom nie. Sy het die manier om ’n doodgewone storie baie gory oor te vertel. Dit is dan vir haar vreemd as sy mense uit-gross. Sy en oom Dirk kweek ’n spesiale pa-en-seun-tipe verhouding, omdat hulle baie dieselfde belangstellings het. Sy en Maggie haat mekaar en kan onder geen omstandighede saamwerk nie.

Oom Dirk Dijkstravertolk deur Graham Weir

Oom Dirk is ’n ou, rowwe engeharde Omie. Oom Dirk werk al die langste by die hotel – meer as dertig jaar. Basies niemand kan vir Oom Dirk sê wat om te doen nie. Hy daag gereeld vir Ferdie uit – veral ten opsigte van sy manllikheid. Oom Dirk dink Ferdie is nie mans-genoeg om ’n bestuurder te wees nie.

Hy skop ook erg teen verandering vas. In teenstelling met die wete dat sy seun, Francois, gay is, en hy aanvaar dit een honderd persent. Hy en Danny se ouma vry so af en toe. Hy is naby aan aftree, so hy doen rowwe goed, maar speel net veilig, kort duskant afdanking.

Kyk Hotel, vanaf 11 Julie om 20:30 op kykNET.